Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Wednesday, September 2, 2009

Dr. Dan Roodt se Lentedag boodskap aan PRAAG ondersteuners

Beste Praag-ondersteuner,

In Suid-Afrika vier ons vandag Lentedag, en dis beslis geen Meidag nie. Te oordeel aan bostaande grafiek van weeklikse besoeke aan ons nuus- en meningsblad, www.praag.co.za, is daar beslis 'n Praagse Lente in Afrikaans aan die gang, want oor die afgelope drie maande het besoeke aan praag.co.za verdubbel.

Teenoor die eenselwigheid van die Suid-Afrikaanse media met hul daaglikse dosis misdaad en politieke korrektheid, poog ons om prikkelende nuus en menings aan te bied wat mense aan die dink sit. Die geskiedenis van media in Suid-Afrika is een van beheer deur die Britse Ryk, die mynhuise, asook die ou Broederbond en Nasionale Party wie se ideologiese sienings dikwels vrye debat en nuwe perspektiewe gesmoor het. Ná 1994 het dieselfde media in die nadraai van die Koue Oorlog verder in 'n geykte propagandataal verval, dié keer ontleen aan die VSA met sy ongemaklike gemeenplase oor diversiteit, regstellende aksie en dergelike meer. Plek vir skeppende, inheemse denke oor Afrikanerskap en die land se tipiese Afrikaprobleme was daar helaas nie.

Maar soos elke winter uiteindelik moet wyk voor bome wat bot en in bloeisels uitslaan, soos selfs die Sowjet-tenks in 1968 slegs tydelik die Praagse lente in Tsjeggië kon stuit, so fladder 'n swaeltjie op 'n dag vanuit wie weet waar bo die dakke se nokke verby en besef 'n mens skielik: 'n nuwe, vryer - en blyer - seisoen het aangebreek.

Alle revolusies begin klein en dit sou onvanpas wees om nou al op ons louere te begin rus. Terwyl ons getroue ondersteuners tot dusver rojaal bygedra het om ons joernalistieke opstootjie teen Grootbroer moontlik te maak, durf ons nou groter droom. Ons wil ten minste nog twee voltydse joernaliste aanstel om verborge Suid-Afrikaanse nuusgebeure te gaan uitsnuffel, asook ons huidige aanbod in verskeidenheid uitbrei. Ons benodig ook bykomende toerusting om 'n werklike multimediakanaal te word. Onder andere wil ons 'n weeklikse geselsprogram oor aktuele sake op die internet laai waar mense dit op YouTube en elders kan kyk.

Om dit alles moontlik te maak, moet ons 'n bedrag van R100 000 insamel. Diegene wat reeds maandeliks by wyse van 'n debietorder of bankoordrag tot die sukses van ons webblad bydra, hoef hul waarskynlik nie aan dié oproep te steur nie. Maar indien u 'n paar rand kan skenk om ons webwerf se sport-, leef-, reis-, vermaak-, motor- en ander afdelings uit te brei, sal u eendag kan sê dat u 'n aandeel aan die Afrikaanse revolusie gehad het.

Ons bankrekeningnommer is: ABSA Fourways, takkode 632905, tjekrekeningnommer 4052326604 en gebruik u van en voorletters as verwysing. Of staan 'n maandelikse debietorder toe deur vir ons 'n e-pos te stuur aan debietorders@praag.co.za en ons sal elke e-pos persoonlik beantwoord.

Ons sal u voortdurend op hoogte hou van hoe ons fondsinsameling vorder en ook, waar doenlik, name van skenkers publiseer.

Wie weet, oor 'n paar jaar gaan ons almal terugkyk en ons verstom oor die gemak waarmee ons 'n alternatiewe medium op die internet gevestig het wat Afrikaners van regoor die wêreld met mekaar verbind en 'n nuwe politieke en kulturele toekoms vir ons moontlik gemaak het.

Soos I.D. du Plessis gesê het:

...soet is die stryd vir die stryer,
Al moet hy uiteindelik verloor;
Maar die man wat sy deelname weier,
Is die man wat sy nasie vermoor.

'n Heerlike Lentedag word u toegewens.

Met vriendelike groete,

Dan Roodt
Direkteur

No comments:

Post a Comment