Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Saturday, December 5, 2009

‘Bly hoop en baklei’ is nie trooswoorde nie

deur Charles Malan -Beeld

In “’n Lewe anderkant gatvol” bespeur Tim du Plessis “’n ondertoon van slagofferskap” in ons verklaring oor die dood van Chris Louw. Hy kies om nie ’n slagoffer te wees nie.

Dit is goed en wel, maar dit verander niks aan die lot van derduisende mense, ook naasbestaandes, wat letterlik slagoffers is nie.

Diegene wat trauma, pyn en verlies beleef, kan nie met woorde soos “bly hoop en baklei” getroos word of vergeet nie.

Tim vind ons dwaal ietwat met die stelling dat “sy dood ’n ongenadige lig (werp) op hoe verslegtende toestande in die land selfs ervare joernaliste tot desperaatheid dryf”. Hoe dwaal ons?

Dit sou natuurlik te ver gaan om slegs die toestand van die land vir Chris se dood verantwoordelik te hou, wat ons ook nie doen nie. Maar was sy skryfwerk die laaste ruk van sy lewe nie uit desperaatheid gebore nie?

Hy het bepaald desperaat ’n boodskap probeer oordra oor die onreg, versuim en gevoelloosheid om hom – en ja, spesifiek ook oor die lot van slagoffers wat weerloos aan barbare uitgelewer is.

Hy het De Wildt as ’n mikrokosmos van die bedreigde land aan ons voorgehou.

Ja, Tim, laat ons wat nog nie die ergste beleef het nie, nie die futiele posisie van slagofferskap inneem nie. Laat ons, soos Chris gedoen het en jy nog doen, aanhou met verset en baklei. Maar laat ons ook bid dat ’n geliefde nie vermoor of vermink word nie. Of selfmoord pleeg nie.

No comments:

Post a Comment