Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, June 5, 2009

Het Pieter Mulder ons verraai?

Geskryf deur Vlad du Plessis

Dis alles goed en wel dat Pieter Mulder Jacob Zuma se uitnoding om deel te neem aan die ANC regering aanvaar, mits dit iets vir die Afrikaner gaan beteken. Mens kan maar net hoop dat Pieter Mulder nie soos die NP van Roelf Meyer en FW de Klerk 'n rat voor die oee gedraai word nie. Mulder is wesentlik 'n ordentlike mens. Ordentlikheid is oor die algemeen nie 'n eienskap van meeste beroepspolitici nie. Ordentlike mense is ook mense van hul woord. Sulkes is geneig om ook ander te vertrou...en in die politiek is dit 'n probleem.

Indien Zuma Mulder 'n rol aangebied het met 'n mondelingse of blote vae belofte dat dit iets vir die Afrikaner mag beteken, dan is dit 'n werklike probleem. Mens kan doodeenvoudig nie vir Zuma of die ANC vertrou nie. Enige beloftes moet op skrif wees. Die werklike gevaar bestaan dat die ANC bloot die VF+ ko-opteer. Indien die VF+ geko-opteer word beteken dit dat hulle niks inruil vir die Afrikaner gaan ontvang nie. Dus sal die party mettertyd sy ondersteuners verloor en daarmee kom die VF+ tot einde. Dit sal net nog 'n politieke terugslag vir die Afrikaner wees.

Of, is daar meer as wat die oog kan sien? Klaarblyklik is die VF+ en die ANC al geruime tyd in gesprek oor ‘n samewerkingsooreenkoms. Wat is bespreek? Is daar meer bespreek as wat die ANC of die VF+ op hierdie stadium wil bekend maak? Was werklike toegewings aan Afrikaners deel van die gesprek? Oor die afgelope naweek het die VF se federale vergadering Mulder se deelname aan die ANC regering by uitstek goedgekeur. Is daar inligting aan die afgevaardigdes meegedeel wat hul oortuig het dat die Afrikaner werklik hierby te baat het?

Waarom sou die ANC die VF+ in die regering wou he? Mens kan sekerlik met dieselfde asem die vraag stel, 'Waarom Zuma se toenadering tot Afrikaners?' of selfs, ‘Waarom sou die ANC ‘n 0.8% party wou ko-opteer?’. Die VF+ hou immers geen gevaar vir die ANC in nie.

Dit bly vir die meeste van ons 'n raaisel wat die werklike aard van die ANC-VF ooreenkoms mag behels. Mens kan maar net hoop dat daar werklike toegewings vir die Afrikaner in die pyplyn is. Geen toegewing is egter so belangrik soos daardie van Afrikaner selfbeskikking nie. Enigiets minder as dit is 'n blote troosprys.

Aangesien dit altyd onderhewig aan ons swartheersers se goeie gesindheid sal wees, sal geen toegif waar ons steeds onder die jurisdiksie van 'n ANC regime leef, volhoubaar wees nie. Indien Mulder nie ten minste territoriale selfbeskikking vir die Afrikaner kan beding nie, het hy en sy party hul kiesers en die Afrikaner in die algemeen verraai.

No comments:

Post a Comment