Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, June 5, 2009

Realiteit skud Naspers se "Afrikaanses"

Geskryf deur Vlad du Plessis

In die afgelope Sondag se Rapport bespreek Lizel Steenkamp die aangeleentheid rondom die Mercedes-Benz S500 wat mnr. S'bu Ndebele, pas aangestelde minister van vervoer, verlede Saterdag as geskenk van die Vukuzakhe-verenigings ontvang het.

Steenkamp se logika oor waarom Zuma se goedkeuring van hierdie geskenk aan Ndebele op korrupsie dui, is heeltemal in die kol. Ook is Steenkamp heeltemal reg, wanneer sy redeneer dat Ndebele se argument, waarom hy besluit het om nie die geskenk te aanvaar nie, 'n probleem is."Hy het dus besluit om die motor terug te gee: nie omdat hy dink dit is eties verkeerd om dit te hou nie, maar omdat die media en opposisiepartye te veel van 'n bohaai hieroor opskop."

Dis egter toe ek die volgende stelling deur Steenkamp lees dat ek byna van my stoel afval: "Die voorval demonstreer die dringende noodsaaklikheid vir 'n openbare - en polities nie-korrekte - debat rondom korrupsie, etiek, etiese optrede en morele beginsels. Dit is duidelik dat mense van verskillende kulture, agtergrond, geloof en tradisies verskillende persepsies oor etiek en korrupsie het." Ek moes dit twee maal lees, want ek kon nie glo dat een van Naspers se linkse "Afrikaanses" tot hierdie insig gekom het nie. Is dit moontlik dat 'n redaktrise in hierdie linkse propagandahuis tot 'n antropologiese gevolgtrekking gekom het? Is dit moontlik dat 'n "Afrikaanse" besef het dat die Suid-Afrikaanse werklikheid nie 'n blote Marxistiese klassestryd is nie, maar dat daar daadwerklike etniese faktore is wat 'n rol in ons politiek speel?

Dit is so dat die liberale ideologie wêreldwyd, maar veral in Suid- Afrika, onder druk kom. Daagliks bewys die Suid-Afrikaanse werklikheid die Liberalisme verkeerd. Oor die afgelope weke merk ek op hoe rubriekskrywers stukkie vir stukkie ideologiese grond prysgee. Steenkamp het egter sommer 'n hele ‘’ideologiese hoofstad’’ prysgegee. Deur te erken dat etnisiteit waardeverskille in SA bepaal, het Steenkamp nie net die bodem onder Naspers se liberale ideologie uitgeruk nie, maar sy het onwetend beken dat die demokrasie nie in Suid-Afrika kan werk nie.

Steenkamp se frase dat dit tyd is vir "...dringende noodsaaklikheid vir 'n openbare - en polities nie-korrekte - debat rondom korrupsie, etiek, etiese optrede..." bly die mees onwaarskynlike woorde om ooit in Rapport te kon verskyn. Hiermee probeer sy klaarblyklik sê dat ons nou maar 'n oop gesprek oor ras en etnisitiet moet voer. Is dit nie juis hierdie gesprek wat ons, die sogenaamde "regses", al jare lank probeer aan die gang kry en hou nie? Is hierdie nie juis die debat wat Naspers ten alle koste probeer stil maak nie? Waarom nou die insiggewende besef dat hierdie debat 'n "dringende noodsaaklikheid" het?

Het die finale mislukking van die Suid-Afrikaanse demokrasie iets met die blatante terugkeer na meer openlike etniese en raspolitiek te make?

Of het die nuwe Zoeloe-gedomineerde ANC wat terselfdertyd aan Afrikaner-etnisiteit erkenning verleen, iets hiermee te doen? Het die wete dat daardie liberale Kaapse party, die DA, nooit meer as 'n minderheidsras en streeksgebonde party sal wees moontlik ’n rol gespeel? Het die Xhosas en Sothos van die ANC se wegbreekfaksie (Cope) dalk hiertoe bygedra? Het die feit dat Suid-Afrika nog 'n verkiesing agter die rug het, wat niks meer as 'n rassesensus was nie, indruk gemaak?

Bowenal, het die feit dat Zuma se ANC die linkse "Afrikaanses" se establishment openlik marginaliseer en die regse Afrikaner nadertrek vir Lizel Steenkamp en haar linkse kolegas finaal laat besef dat die winde van verandering weer deur die subkontinent begin waai en dat die einde van hul era aangebreek het?

No comments:

Post a Comment