Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Thursday, January 28, 2010

AfriForum sal voorgestelde naamsverandering van Pretoria in hof beveg

Bron: Afriforum

Die burgerregte-inisiatief AfriForum het aangedui dat sy regspan gereed staan om enige poging om Pretoria se naam te verander, in die hof te stuit. Dié organisasie is ook van voorneme om grootskaalse protesaksies voor, tydens en na die Wêreldbekersokkertoernooi te loods, sou die naam verander word. AfriForum se reaksie volg nadat die ANC in Pretoria volgens mediaberigte begin het met gesprekke met die regering om Pretoria se naam voor die Wêreldbekersokkertoernooi te verander.



Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, voldoen die proses wat gevolg is om Pretoria se naam te probeer verander, nie aan die wetlike vereistes vir openbare deelname nie. “Die howe het reeds op dieselfde gronde Louis Trichardt se naamsveranderingsproses ongeldig verklaar en AfriForum sal toesien dat dieselfde met enige poging om Pretoria se naam te verander, gebeur,” het Kriel bygevoeg.

Kriel het daarop gewys dat die feit dat sowat 30 000 mense verlede jaar ʼn byeenkoms bygewoon het wat deur AfriForum ter behoud van Pretoria se naam gereël is, wys dat mense sterk voel oor die behoud van die naam. Baie van die voorstanders van Pretoria se naam, voel volgens Kriel emosioneel en kultureel gebonde daaraan en sien pogings om die naam te verander as ʼn daad van kulturele aggressie. “Die polarisering wat die Pretoria-dispuut veroorsaak, kan nie bekostig word in ʼn land met sensitiewe intergroepverhoudings soos Suid-Afrika nie – nie nou nie, nie tydens die Wêreldbekersokkertoernooi nie en ook nie daarna nie,” het Kriel gesê.

AfriForum het volgens Kriel dringende skrywes aan die president en die minister van Kuns en Kultuur, Lulu Xingwana, gerig, waarin die regering versoek word om nie in te stem tot die naamsverandering nie. AfriForum is ten gunste van ʼn wen-wen-oplossing, in terme waarvan die Metroraad se naam Tshwane bly en die stad se naam steeds Pretoria is.

No comments:

Post a Comment