Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, December 4, 2009

Waak vir Chris Louw Saterdag by Markspark in Johannesburg

Geskryf deur Praag,

Joernaliste, skrywers, aktiviste vir Afrikaans en gewone Afrikaners gaan môre Saterdag 5 Desember vanaf 16.00 in die "Colonial Room" (ironiese benaming!) by Markspark in Johannesburg byeenkom om hulde aan die ontslape joernalis Chris Louw te bring. RSG, Beeld, praag.co.za en ander publikasies en media sal daar verteenwoordig wees.

Lede van die publiek en lesers van Chris Louw se rubrieke en artikels is insgelyks welkom om die geleentheid by te woon. Verversings sal bedien word en daar sal 'n kontantkroeg beskikbaar wees.

Elkeen wat Louw geken het, sal die geleentheid hê om oor 'n luidsprekerstelsel te praat en aan hom hulde te betoon of hul sê te sê. Louw se selfmoord te midde van die bestaanskrisis wat Afrikaners ervaar, het 'n ongekende reaksie veroorsaak en 'n behoefte onder Afrikaanse mediamense en skrywers ontketen om rondom Louw se dood met mekaar te assosieer en te besin.

Van die bekendes wat die geleentheid gaan bywoon, benewens dr. Dan Roodt van PRAAG, is Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor op RSG, Tim du Plessis, redakteur van Beeld, Andriette Stofberg, redaktrise van die nasionale bylaag "By" wat in Beeld, Burger en Volksblad versprei word. Dr. Frederik van Zyl Slabbert, voorsitter van die Caxton-groep en voormalige politikus, ry spesiaal van Swaziland af om die geleentheid by te woon.

'n Groep Afrikaanse skrywers onder die afgetrede akademikus, dr. Charles Malan, gaan insgeslyks by Markspark te siene wees.

Die verwagting is dat die gesprek, besinning en kuier tot middernag sal duur en diegene wat eers later as 16.00 wil of kan opdaag, sal steeds welkom wees.

Uitgewery Praag gaan honderd-en-twintig eksemplare van die volledige "Ope brief aan Willem de Klerk", die sogenaamde "Boetmanbrief" by die byeenkoms uitdeel. 'n Kameraspan van www.praag.co.za sal ook die gebeure op video vaslê vir latere verspreiding op die internet.

Markspark is die sportsgronde tussen Emmarentiadam en Melvillekoppies in Johannesburg. Dit kan vanaf die ou DF Malanrylaan (tans Beyers Naudé Drive) bereik word. Indien enigiemand navraag wil doen of aanwysings wil hê, stuur 'n e-pos aan inlig@praag.org Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien .

No comments:

Post a Comment