Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Thursday, December 3, 2009

Chris Louw se voorlaaste rubriek in Beeld:


Geskryf deur Chris Louw - Beeld


Dit hinder my dat omtrent al wat ’n Afrikaner is deesdae net kritiek op die ANC lewer. Kwalik ’n jaar gelede sou daar leedvermakerige beskuldigings oor ’n magsverliessindroom en ’n terughunkering na apartheid gewees het.

Interessant dat dít deesdae nie so dikwels gebeur nie. Nagenoeg al ons gewese lefties kla nou saam in die koor.

Ek wens ek kon iets konstruktiefs oor die ANC sê. As ek hard probeer, kan ek seker. Maar telkens vind ek my komplimente het bloot betrekking op gevalle waar die ANC regmaak waar hy verbrou het.

Daar’s Eskom en die Godsell-geval, Atletiek Suid-Afrika en die Chuene-fiasko, die nuwe bedeling by die SAUK, die regruk van die Landbank, erkennings dat uitkomsgerigte onderwys misluk het, die herstel van die polisie van ’n “diens” na ’n “mag”, Tokyo Sexwale se planne om korrupsie by die bou van laekostebehuising hok te slaan ...

En as u dink ek verwar die politieke organisasie met openbare instellings, dink weer. Solank kaders ontplooi word, staan al dié instellings in diens van die ANC.

Intussen staan Afrikaners as magtelose toeskouers die gebrou en gade slaan.

Dinge het drasties anders verloop as wat ons sogenaamde verloopte Afrikaners se verwagtinge was toe ons in die 1980’s ons eerste ontmoetings met die ANC-in-ballingskap gehad het.

Die gesprekke in Dakar en Parys en Lusaka en Harare het oor beginsels gegaan – demokrasie, menseregte, die onafhanklikheid van die regbank, ’n regstaat ...

Vandag voel dit of ons onverwante betekenisse aan dieselfde woorde geheg het.

Ek onthou ’n nag in 1989 in Indris Naidoo se woonstel in Oos-Berlyn, met Russiese vodka en eisbein, en gesels tot in die klein ure van die oggend.

Vandag klink dit sentimenteel, maar in die benouende dae van apartheid was dit ’n opwindende ervaring om in die buiteland ’n gemeenskaplike Suid-Afrikanerskap te ontdek met mense wat tuis as die “vyand” gebrandmerk is.

En gesprekke met ’n nog joviale Thabo Mbeki in ’n hotelkamer in Lusaka, pyprook en die klank van KWV in die lug, en drome oor ’n regverdige, menslike Suid-Afrika.

Sonder mag en met baie idealisme was die ANC ’n aantreklike alternatief vir apartheid, vlamme in die townships, bomme in winkelsentrums en wit polisiemanne wat reg en orde met sambokke en R4’s handhaaf.

Ek onthou ook ’n anti-apartheidsbyeenkoms in Parys, Frankryk. In die gehoor Ricky Naidoo – later een van Mbeki se segsmanne – wat dié onsterflike woorde in sy onmiskenbare Indiër-tongval uitroep: “Our people are tired of dying!”

Nou, twee dekades later, kan ek ook met my Afrikaner-tong sê: “Ons mense is gatvol daarvoor om vermoor te word!”

En dan verwys ek nie net na haataanvalle in ons huise en op ons plase nie. Dit ook, ja. Maar ek praat van die listige moord op taal, kultuur, geskiedenis, waardes, selfs menswees. In die 15 jaar van demokrasie het Afrikaners bykans uit die openbare oog verdwyn.

Ons deelname aan die openbare lewe word stelselmatig afgetakel om ons aandeel in die bevolkingsamestelling te reflekteer: 6%. Dit is wat ons standpunt vandag werd is.

’n Druippunt.

Die gevolg van hierdie stroping is dat dié Afrikaners wat kan, al hoe meer sekerheid in materialisme soek. Sonder idealisme is dit al wat oorbly – geld, spoghuise en deftige motors wat, ironies genoeg, juis die sekerhede ondermyn. Want dit sonder ons uit en maak van ons teikens vir afguns en van misdaad.

Ek glo die meeste Afrikaners sal vertroue in die staat bo wêreldse besittings verkies. Maar dan moet dit ’n doeltreffende en regverdige staat wees, wat vertroue verdién.

Afrikaners word voortdurend van rassisme beskuldig. Maar rassisme gaan nie deur beskuldigings of wetgewing uitgewis word nie. Dit gaan net kwyn wanneer individue in gesagsposisies optree op ’n manier wat respek ontlok.

Dis nie wat die ANC doen nie. Die ANC wat vandag aan die bewind is, verraai almal wat aan ’n regverdige toekoms geglo het – insluitend dié Afrikaners wat op hul manier die huidige bedeling help moontlik maak het.

No comments:

Post a Comment