Geskryf deur Jaap Steyn - Beeld
‘Ek bly ’n Afrikaner wat myself met trots ’n Afrikaner (selfs ’n Boer) noem en sal bly noem, tot groot irritasie van talle, juis tot irritasie”, skryf Izak de Villiers in Strooidak en toring.
Dit is tipies van die koppige dwarsheid van hierdie veelsydige man. Maar onder die adjektiewe waarmee sy seun Louis hom by die gedenkdiens beskryf het, was ’n paar keer die woord “lojaal”. Lojaal was hy ook aan Afrikaans en sy sprekers. Daarby is hy, aldus Strooidak, “onbeskaamd konserwatief gebore en so laat staan”. Hy was nooit sonder kritiek op die status quo en nooit bang om “teen die Noordewind in te stap” nie, soos Etienne van Heerden dit stel: “Dus: ’n anderster Afrikaner.”
Sy redakteurskap van Rapport getuig van lojale verset. Hoewel hy in die veldtog vir die 1992-referendum geesdriftig vir die ja-stem gewerk het, was hy gou ’n kritikus van die NP-onderhandelaars.
In die tyd van euforie oor die “wonderwerk” van 1994 het De Villiers ’n nugtere stem laat hoor. Hy het die benadeling van Afrikaans en die marginalisering van Afrikaners aangeval. Vandag hoort dié euforie tot ’n verlede wat baie wil vergeet.
In sy laaste twee bundels gaan baie gedigte oor die taal. Afrikaans is meer as net kommunikasiemiddel; dis ook die draer van die “onrus dat ek hoort” tot ’n spesifieke volk. Een vers in Jerusalem tot Johannesburg eindig met die noodroep: “Red die droë stam”, red die Afrikaner.
Niemand het ’n groot toekomsplan vir Afrikaans nie, De Villiers had ook nie. Tog sê hy in die essay “?’n Nuwe romantiek” dinge wat mens ter harte kan neem.
Hy verduidelik dat hierdie romantiek ’n “gevoelsding” is van “behóórt”. Om lid van ’n volk te wees is grootliks ’n emosionele realiteit. Dit begin, soos Rupert Brooke oor die kuns gesê het, met die gevoel van iets soos ’n knop in die keel. Dis iets van: Dis my eie mense dié en dis mý oorlewerings dié.
In die romantiek word ywerig in die verlede en hede gesoek na elemente waarmee entoesiasme gekweek word in plaas van wanhoop. Probleme word gepak met die rede én die verbeelding.
Die klem val in die geskiedenis op die feite, maar veral op die he-roïese. Die waarheid word gesoek, die grootse én die skandelike, maar die skande word nie ten koste van die grootse beklemtoon nie.
In die nuwe romantiek konfronteer jy jou eie duiwels uit die verlede en jy probeer hulle so goed moontlik hokslaan, maar dan soek jy jou engele – soos die bewarende engel wat voor die Israeliete uitgetrek het. Dié soektog begin in ons totale verlede, nie slegs in die onlangse verlede van ’n lapsus nie en nie slegs in die afdwalings nie.
Daarom moet Afrikaners hul eie geskiedenis weer in ere herstel, want dit lê nou effe aan skerwe.
“Ons moet keer dat ons taal nie straattaal word nie, want hoewel daar ’n soort romantiek aan straattaal kleef, verdedig niemand ’n straattaal nie. Die historiese neiging is om ’n straattaal tot die straat uit te verbied en dan die ‘oorheersende’ sogenaamd ordentlike taal in die salonne en seminaarkamers te gebruik.
“Dit het in die 19de eeu in die Kaap met Afrikaans gebeur voordat die romantiek van werklikheid en die gevoel van eie wees ná die Vryheidsoorloë mense aan die hart gegryp het.
“Ek mag verkeerd wees, maar aan die universiteite luister ek soms na studentegesprekke, en Engels oorheers Afrikaans én die swart tale. Engels is die gemaklike, kulturele en taalimperialistiese uitweg, en ons aanvaar dit goedsmoeds, kyk maar na die oormaat Anglisismes waarvan ons onbewus is. Die nuwe romantiek vra dat ’n streep iewers getrek word.”
“Ons is nie duiwels, en ook nie aartsengele nie, maar meermale eerbare, innoverende mense en nie sonder heroïese voorbeelde nie.
“Ons is ongelukkig nie groot saamwerkers behalwe in ’n krisis nie. Min volke is immers danig eensgesind.”
Ten slotte gee hy goeie raad: “Ons moet ook nuwe dinge stig waarin Afrikaners se belange sonder skroom vooropgestel word, en dalk moet ons begin deur weer na mekaar uit te reik voordat ons die wye wêreld wil omarm.”
- Beeld

No comments:
Post a Comment