Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Tuesday, October 6, 2009

Soos Herodus in ’n crèche

Geskryf deur Dirk Uys,

Pas kom die nuus dat Moe Shaik aangewys is as die nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse geheime diens. Ons eie kaalkop James Bond is ’n getroue vriend van president Jacob Zuma, wat beteken dat die regering sy houvas op die intelligensiedienste só verstewig het.

Die minister van staatsveiligheid, Siyabonga Cwele, het tydens die perskonferensie waar die aanstelling aangekondig is, verwys na Shaik se ervaring in die ANC se ondergrondse strukture tydens die struggle-tydperk. Hy was naamlik betrokke by die insameling en analise van koverte inligting vir die ANC.

Aan die einde van die negentigerjare het Shaik as ambassadeur in die konflikgeteisterde Algerië gedien. Tussen 2003 en 2004 was hy ’n spesiale adviseur vir die minister van buitelandse sake en hoof van die departement se beleidsafdeling. In 2005 het hy uit Buitelandse Sake bedank om hom aan Nkobi Holdings, die maatskappy van sy beleërde broer Schabir, te wy. Hy het meer onlangs ’n deurslaggewende rol gespeel in Jacob Zuma se presidensiële veldtog. Hy en sy broers het verder belange in die Mosambiekse mynbedryf.

Moe Shaik is, soos verskillende verteenwoordigers van Suid-Afrikaanse politieke partye Vrydag aangedui het, ’n kontroversiële figuur. Sy verbintenis met Zuma dateer uit die tagtigerjare, toe Jacob Zuma hoof was van die ANC se intelligensiebeen. Hy het die Shaik-broers persoonlik gewerf om in sy netwerk te dien. Moe was deel van die ANC-groep wat die omstrede Vula-operasie gelei het om aan ’n gewelddadige opsie te werk vir ingeval die Codesa-samesprekings sou misluk. Hy het ook aan die hoof van ’n eenheid gestaan wat spioene binne ANC-geledere uitgesnuffel het.

In 2003 tydens die Hefer-kommissie se ondersoek na beweringe oor Bulelani Ngcuka (destydse hoof van die nasionale vervolgingsgesag) het Shaik geklassifiseerde inligting aan die media gelek.

Moe Shaik se ewe kontroversiële broer Schabir, was vroeër Zuma se finansiële adviseur. Hy is in Maart vanjaar op mediese parool vrygelaat nadat hy 2 jaar van sy 15 jaar gevangenisstraf vir bedrog en korrupsie uitgedien het.

Chippy Shaik, jongste broer van Schabir en Moe, het in 2007 na Australië uitgewyk. Hy was tydens die besluitneming oor die wapenkontrakte verantwoordelik vir wapenaankope binne die Suid-Afrikaanse weermag. Hy sou na bewering omkoopgeld van ’n Duitse firma ontvang het en het homself verder onderskei het deur plagiaat in sy doktorale verhandeling vir die Universiteit van KwaZulu Natal te pleeg. Voordat hy egter oor al hierdie bewerings ondersoek kon word, het hy die land verlaat.

Die Demokratiese Alliansie het in hulle reaksie op Shaik se aanstelling as hoof van die Geheime Diens gesê dit is soos om Herodus in ’n crèche los te laat.

Dit is bekend dat die arrogante Moe Shaik al geruime tyd gelede die posisie aangebied is. Hy het dit egter aanvanklik geweier, nadat hy ’n negatiewe reaksie ontvang het op sy voorwaarde dat hy alleen, en sonder inmenging, besluite wou neem. Die vraag kan nou tereg gevra word wat hom enkele weke later van mening laat verander het. En hoe gesond dit kan weer vir iemand met sy sluwe manier van optrede en kontroversiële verlede om nou aan die hoof van ’n intelligensie-agentskap te staan. Hy is alles behalwe die spreekwoordelike grysbroekmannetjie wat tevrede is om op die agtergrond te bly. Dit kort geen vernuf om te voorspel dat hy kort voor lank die armsalige Geheime Diens in nog erger polemieke en verleentheid as sy voorgangers gaan dompel.

No comments:

Post a Comment