Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Wednesday, December 2, 2009

Seën of vloek

Geskryf deur Radio Pretoria,

Dat Switserland se mense standpunt ingeneem het en besluit het om nie nuwe minarette op moskees toe te laat nie, is vir Suid-Afrika ‘n baie goeie les. In die eerste plek is die stelsel van wetgewing wat die volk toelaat om standpunt in te neem, ‘n baie goeie idee. Daarby is dit ook ‘n vingerwysing aan die Christene in die land dat dit wel moontlik is om teen nie-Christelike godsdienste standpunt in te neem.

Ja, daar is baie te leer by die toewyding van die Moslem, maar om hulle ongestoord toe te laat om mense as’t ware te intimideer met hulle luide oproepe tot gebed vanuit torings, behoort nie vir die Christene in ons land aanvaarbaar te wees nie. Dié oproep tot gebed kan baie kilometers ver gehoor word ook deur Christene wat dit waarskynlik nie wil hoor nie en traak-my-nie-agtiges. Word daar dan uitsaailisensies aan die mense uitgereik om oor so groot gebied uit te saai?

Die lesse wat ons leer is nie net by dié dinge beperk nie, ons sien ook dat Switserland se sakelui dadelik na die oorweldigende steun vir die wetgewing, bekommerd is oor handelsbetrekkinge. Die geld praat harder as die oortuiging van die bevolking, is ons onmiddellike reaksie. Die vraag is, is dit ook nie die rede waarom ons in ons land te bang is om op te tree teen die oorname van hierdie absoluut onchristelike leer nie?

Ons gee nie net toe aan die Moslem nie, maar ook aan voorvaderlike aanbidding. Ons aanvaar klaarblyklik maar gedwee dat die voorvadergeeste versoek moet word om die sokkerstadions te seën deur beeste te slag.

Die verskoning van die plaaslike reëlingskomitee is dat daar iets van die Afrikakultuur moet wees. Dié tipe van onchristelike en wrede kultuur wil ons tog nie in die besoekers wat dalk gaan kom se kele afdruk nie. Dié idees is tog al bekend en net die Dierebeskermingsvereniging maak beswaar en geen kerklike of Afrikaanse kultuurorganisasie se stem word gehoor nie. Is ons dan al so gekondisioneer dat dit nie help om te praat nie? Die Makhonya “Koninklike” Trust wat dié voorstel gemaak het dat die sokker op dié manier geseën moet word, is tog maar ‘n klein groepie mense en nou moet die hele land, en selfs die hele wêreld aan dié sinnelose slagting blootgestel word.

Die offerandestelsel is tog heeltemal volvoer en afgeskaf, nie deur mense nie, maar deur God self. Hoekom moet ons as Christene deur dié barbaarse ritueel gaan? Wie gaan die stadions seën? Is hulle afgode dan so magtig?

Dit blyk baie duidelik uit Israel se geskiedenis dat afgodsaanbidding en die ooglopende toelating daarvan vir die volk tot straf en verwerping gelei het. Het dit nie tyd geword dat ons wat sê dat ons Christene is, hierdie tipe van afgodery eens en vir altyd uit ons land verban nie? Dit gaan oor meer as geraasverstoring en sogenaamde diereregte.

No comments:

Post a Comment