Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Wednesday, October 14, 2009

Regters en hulle dinge

Geskryf deur Radio Pretoria,

Suid-Afrika se nuwe hoofregter, Sandile Ngcobo, het vroeër die week amptelik sy stoel ingeneem. Sy adjunk is Regter Dikgang Moseneke.

Ook in hierdie dae is die vier nuwe regters van die Grondwethof aangekondig. Hulle is Regters Sisi Khampepe, Chris Jafta, Johan Froneman en Mogoeng Mogoeng. Oor al hierdie regters se bekwaamheid sal ons geen uitspraak waag nie, net maar die vertroue uitspreek dat ondervinding en wysheid wel in ag geneem is toe die besluit oor hulle aanstellings geneem is en nie net hulle sogenaamde “struggle”-geskiedenis nie. (Foto: Regter John Hlope)

Wat wel baie positief omtrent hierdie lysie is, is dat die naam van Regter John Hlope nie daarop verskyn nie. Sy vlerkies is, minstens vir eers, geknip en dit is miskien tyd om ‘n bietjie erkenning te gee aan die man wat grootliks die knipwerk gedoen het, naamlik Regter Johan Kriegler. Regter Kriegler word nie noodwendig vanuit behoudende kringe met baie liefde bejeën nie, vanweë sy rol in die OVK om die oorgang na ‘n swart meerderheidsregering vlot te laat verloop.

Maar laat daar krediet gegee word waar dit hoort. Regter Kriegler se organisasie, Vryheid onder Reg, het op die regte tydstip standpunt ingeneem teen Regter Hlope wat besig was om homself as regter by die Grondwethof in te wurm. Daarna sou sy pad oop wees na die pos van hoofregter en dit was blykbaar sy oogmerk. Dit het in daardie stadium gelyk of niks of niemand hom gaan stuit nie. ‘n Mens kan jouself nouliks ‘n groter amokmakende bul in ‘n porseleinwinkel voorstel. En juis in daardie stadium besluit die Regterlike Dienskommissie om af te sien van enige vervolging van Regter Hlope.

En dit nadat Regter Hlope vantevore spesiaal na Johannesburg gereis het om na bewering twee van die regters van die Grondwethof ten gunste van Jacob Zuma te beïnvloed.

Hlope het toe reeds ook ander klagtes op die lyf geloop: hy het onder meer lasterlike aanmerkings teenoor blankes (insluitende blanke regters) gemaak, en het, terwyl hy ‘n regter was, geld ontvang van ‘n gereelde litigant in sy hof vir wie hy na bewering van tyd tot tyd van advies bedien het. In weerwil hiervan het die RDK besluit om geen stappe teen Hlope in te stel nie. Dit volg hieruit dat ons eenvoudig oorgelewer sou gewees het aan die spreekwoordelike Filistyne en meer nog; dit sou ‘n onberekenbare knou aan ons regstelsel toegedien het.

Dit is betekenisvol dat juis op daardie oomblik toe Regter Kriegler by monde van sy organisasie sy voorneme bekend gemaak het om die vervolging teen Hlope voort te sit, laasgenoemde onmiddellik teruggedeins en weer sy plek op die Kaapse regbank gaan inneem het. Die aankondiging het moontlik ook ‘n rol gespeel in die RDK se besluit om Hlope nie as regter vir die Grondwethof te benoem nie.

Ons sal graag wil sien of daar wel voortgegaan word met enige stappe teen Regter Hlope, want solank hy regspraak lewer, hang daar ‘n skadu oor die Suid-Afrikaanse regbank.

No comments:

Post a Comment