Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Saturday, June 6, 2009

Is Mulder gekoöpteer?

Geskryf deur JH du Toit

Dr Christo Landman se rubriek op die Praag-webwerf verdien bespreking. Landman maak die belangrike opmerking dat die VF-leierskap oor dieselfde outokratiese leierskapstyl beskik as wat endemies aan alle Afrikaner politieke partye tot dusver was.

Landman was immers voorheen self 'n lid van die VF+ en het sekerlik nog baie kontakte binne die party. Wanneer hy dus beweer dat daar heelwat onenigheid oor Mulder se opname in die ANC-kabinet was, maar dat die federale vergadering deur die leierskap geïntimideer is om die besluit goed te keur, moet daarop ag geslaan word. Die oop stemtelling (met ander woorde hand opsteek in plaas van 'n geslote stembrief) waarna Landman verwys, is voorwaar die ideale manier vir totalitêre leierskap om die laer partystrukture te boelie om die besluit (om met die ANC mee te loop) goed te keur. Indien daar wel by wyse van ’n hand opstekery gestem is, dan is dit sekerlik een van die kinderagtigste maniere waarmee die VF+ leierskap hul federale vergadering tot 'n blote rubberstempel kon reduseer. Dit dui op ’n siniese gebrek aan respek.

As mens verder in ag neem dat Mulder reeds die pos aanvaar het voordat dit aan die federale vergadering voorgelê is, dan begin dit al meer na die intimiderende handeling van outokratiese leierskap te lyk. Al was afgevaardigdes na die federale vergadering deur middel van ope stemming geïntimideer om Mulder se besluit goed te keur, kan hulle nie van aanspreeklikheid kwytgeskeld word nie. Goedkeuring is goedkeuring en as mens dit teen jou beterwete doen, is dit soveel erger, aangesien jy jou eie en moontlike jou ondersteuners se oortuiginge verraai. As jy in die politiek is moet jy morele krag kan toon en staan by wat jy glo, andersins is jy net nog 'n siniese beroepspolitikus.

Wat die hele situasie soveel meer suspisieus maak, is dat Mulder klaarblyklik in 'n samewerkingsooreenkoms met die ANC gegaan het sonder dat daar enige memorandum van wedersydse begrip opgestel is. Sou dit wees dat Mulder besef dat sy party se toekoms nie goed lyk nie en dat hy voor sy aftrede 'n snoesige pakket wou verseker, voordat hy met 'n volgende verkiesing sy parlementêre pos kwyt is?

Sonder 'n geskrewe ooreenkoms is Mulder, as 'n geringe adjunkminister van ’n splinterparty, magteloos binne die hegemonie van ’n ANC-kabinet. Hoe op aarde kan hy in so 'n situasie die Afrikaner se belange bevorder?

Is hy werklik in hierdie kabinet om toe te sien dat die ANC Afrikaner-behoeftes kan aanhoor, of is hy daar sodat die ANC die Afrikaners onder die duim kan hê?

Indien Mulder wel deur die ANC gekoöpteer is, sal die VF+ dit verseker nie oorleef nie. Soos ek voorheen reeds geargumenteer het, sou dit nie net Mulder tot 'n Kortbroek reduseer nie, maar sou die VF+ ook nou reeds kon ontbind. Die party se ondersteuners sal dit op groot skaal, in enige verdere verkiesings, verwerp.

Miskien sou dit nie 'n slegte ding wees as die VF+ deur die ANC gekoöpteer is nie. Die gewisse dood wat die party as gevolg daarvan, kan dalk die beste ding wees wat met die Afrikaner kan gebeur. Soos ek en ander ook al voorheen geargumenteer het, bevestig ons deelname aan die huidige bedeling ons implisiete ondersteuning daarvan. Boonop is beroepspolitici oorwegend mense van twyfelagtige karakter wat deur die geskiedenis ons volk telke male al groot skade berokken het. Miskien moet ons in ons stryd om bevryding juis van hierdie parasiete gesuiwer word.

Sou Mulder egter eerbaar in sy bedoelings wees en sou daar die werklike moontlikheid van 'n ooreenkoms met die ANC bestaan wat wel op Afrikaner selfbeskikking kon uitloop, dan verdien hy 'n kans. Mulder moet egter besef dat hy min tyd het. As hy oor ongeveer twee maande nog steeds geen radikale wins vir die Afrikaner kan toon nie, dan is sy kans verby en is hy en die VF+ niks meer as volksverraaiers nie. Die aard van koöptering is van so aard dat hoe meer tyd verloop, hoe magteloser raak die gekoöpteerde.

Dan moet ons aanbeweeg sonder hom en die VF+, met wie se eenparige ondersteuning hy hierdie besluit bekragtig het. In so 'n geval moet die Afrikaner, gesuiwer van sulke meelopers, die stryd na die buite-parlementêre arena neem.

Indien Mulder egter wel selfbeskikking vir die Afrikaner kan beding, mag hy weldra een van ons grootste leiers word. Niks minder as 'n toegewing wat op Afrikaner-selfbeskikking uitloop sal voldoende wees nie, want enige mindere toegewing, binne die ANC-staat, sal net bestaan solank die ANC dit respekteer. Dus, die VF+ mag wel nog die werklike voorhoede-party van Afrikaner-belange word.

Ons sal egter binnekort weet...

No comments:

Post a Comment