Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Monday, June 8, 2009

Boesak, die martelaar

Geskryf deur Sonette Ahlers

Ek lees vanoggend in Beeld dat die publikasie en bekendstelling van Allan Boesak se boek, Running with Horses - Reflections of an Accidental Politician, uitgestel moes word weens “onakkurate” verwysings na Trevor Manuel. Die boek word deur Joho-uitgewers uitgegee en sou komende Vrydag verskyn het.

Boesak beweer in hierdie boek dat hy, deur middel van sy destydse Stigting vir Vrede en Geregtigheid, onder andere die gesin van Trevor Manuel met donasies moes bystaan nadat sy vrou Lynn alleen gelaat is met ‘n baba.

Manuel het gister die eerste keer op hierdie bewerings gereageer: “Die struggle was duur; daar was talle begrafnisse en vergaderings wat gehou moes word. Allan het nie nee gesê (vir versoeke om hulp) nie.”

Manuel het gesê “wat seermaak”, is die persepsie dat Boesak drie jaar in die gevangenis moes deurbring omdat hy families moes onderhou.

“Ek wil niks wegvat van die rol wat Allan gespeel het nie. Dit sal tragies wees as ons nou uitmekaar loop oor persepsies al is ons nou in verskillende partye.

“Maar al wat ek vra, is dat ons billik en eerlik moet wees.” (Beeld 6 Junie 2009).

Boesak beweer in sy boek dat benewens Manuel Willie Hofmeyr (’n adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging), sy vrou, me. Sue de Villiers, mnr. Christmas Tinto, die ANC in die Wes-Kaap, vakbonde en verskeie gemeenskapsorganisasies ook destyds geld van sy stigting ontvang het.

Boesak skryf verder dat Manuel se ontkenning van skenkings hom destyds die “diepste seergemaak het.”

Wie moet ’n mens glo?

Boesak, wat sy eerste vrou Dorothy vir Elna ingeruil het, sal onthou word vir sy melodramatiese woorde tydens die struggle-jare. Hy het na die destydse Suid-Afrikaanse regering as “die geestelike kinders van Hitler” verwys. Dit is dieselfde man wat verlede jaar sy teleurstelling met die ANC se rassebeleid uitgespreek het en by Cope aangesluit het nadat die ANC hom nie ’n ambassadeurspos wou aanbied nie.

Laat dit nie vergeet word nie dat hy in 2000 tronk toe is vir die diefstal van miljoene van die fondse wat deur Danchurch Aid, die Coca Cola-stigting, die Sweedse organisasie Sida en Paul Simon aan die ontwikkelingsprojekte van Boesak se stigting geskenk is.

Hy hét waarskynlik ’n paar vriende in die ANC gehelp (die ruimhartigheid waarna Trevor Manuel hierdie week verwys het - let wel met oorsese skenkers se geld!), maar laat daar geen twyfel wees dat hy homself in die proses ook verryk het nie. Die sogenaamde “struggle accounting” - waar geld gebruik is sonder om ’n behoorlike boekhoudingstruktuur in plek te stel - was die ideale teelaarde vir korrupsie.

Hoe kon ’n predikant dit immers bekostig om twee huise in Kaapstad te bekostig? Boesak kon nog nooit daarin slaag om sy weelderige leefstyl te verklaar nie. Hy het verkies om voor te gee dat hy ’n slagoffer was en gebruik nog presies dieselfde retoriek.

In 2002 het Allan Boesak tydens ’n onderhoud met Beeld die volgende kwytgeraak: “Ek moes na myself en na die Here geluister het destyds.”

Sela.

No comments:

Post a Comment