Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, June 12, 2009

Ope brief aan Johan Willemse (VF+, Limpopo)

Geagte mnr. Willemse,

Wat doen die Vryheidsfront+ werklik vir Afrikanerselfbeskikking?

As Vryheidsfront-ondersteuner vind ek aspekte van u skrywe, sowel as enkele ander sake binne die VF+, kommerwekkend.

Ten eerste wil ek noem dat ek beslis lynreg met u verskil oor u versoek dat die gesprek rondom Cornelius Janse van Rensburg se (moontlike) skorsing geen doel dien nie. U sê: "Die gegons rakende geskorsde lede dien geen doel nie." Ek is jammer om dit te sê, maar die outokratiese onderrok hang uit. Wil u werklik aan ondersteuners voorskryf waaroor openbare debat gevoer moet word?

Die gesprek oor Cornelius dien 'n baie belangrike doel. Dit skep ruimte om dit waarvoor Cornelius staan, te betrag. Dit gee ook vir die Vryheidsfront+ die kans om te sien hoe sy kiesers oor die aangeleentheid en die hantering daarvan voel.Tensy die party natuurlik nie wil hê dat sy kiesers hul mening moet lug nie...

Ek wil mede VF+-ondersteuners ten sterkste aanraai om u versoek te verontagsaam en voort te gaan met hierdie gesprek. Dit is nie goeie demokratiese praktyk vir die VF+ om kritiese openbare debat oor enige aspek van die party se beleid of sake onder ondersteuners te probeer ontmoedig nie.

Ek dink nie ons wil teruggaan na 'n bedeling waar die party vir die ondersteuners voorsê hoe om te dink nie. Dit is juis hierdie soort onkritiese kultuur wat aanleiding tot die NP se totale oorgawe gegee het. Indien die breë Afrikaner-bevolking meer krities en uitgesproke was, sou ons vandag na alle waarskynlikheid nie ANC-onderdane gewees het nie. Die NP het egter aan sy kiesers voorgeskryf hoe om te dink. Ons verlang anders van die VF+.

Die Afrikaner sal nie bevry word deur 'n party van beroepspolitici slaafs na te volg nie. Politici moet onder gedurige bespreking wees en hulself aan die kiesers bewys, nie andersom nie. Deur die partystrukture op hul tone te hou, kan kiesers sorg dat die party wel hul belange dien en nie doodgewoon hul eie belang bevorder nie.

Verder bekommer die gerugte rondom die wyse waarop die Federale Raad dr. Mulder se toetrede tot die Zuma-regering goedgekeur het, my erg. Is dit waar dat stemming deur middel van 'n handopstekery en nie deur middel van geslote stembriewe plaasgevind het nie? Indien hierdie skandaligheid waar is, kan daar met sekerheid gese word dat ie Federale Raad nie 'n demokratiese instelling is nie.

U is seker deeglik bewus daarvan dat 'n stemming deur handopstekery enige verkose liggaam tot 'n rubberstempel van die uitvoerende leierskap reduseer. Dit is 'n algemeen aanvaarde feit dat lede wat verskil met die leierskap tydens hierdie praktyk geïntimideer word om by die partylyn te hou. Daar is dus geen demokrasie by so 'n stemming nie. Om die minste te sê, is dit 'n siniese minagting van die kiesers wat afgevaardigdes verkies het en voldoen dit nie aan billikheidsvereistes nie.

Voorts sê u: "Die beleidsrigting word ook nie net deur gryskop-omies met dikraambrille bepaal nie, maar hoofsaaklik deur konsensus in die Federale Raad waar alle provinsies en ouderdomsgroeperinge verteenwoordig is." U kan sekerlik sien dat gegewe die gerugte rondom hoe daar in die VF+ gestem word, dit nou eerder klink na "konsensus'" deur middel van intimidasie. U kan verder waarskynlik daarmee saamstem dat indien dit die geval is, dit daadwerklik suspisie wek dat die party deur 'n klein uitvoerende kliek van beroepspolitici vir eie gewin gemanipuleer word.

Ek wil dus onomwonde aan u vra om op rekord te gaan en vir eens en altyd duidelik te stel of die besluit rondom die aksie teen die onlangse rebelle in die party wel deur middel van handopstekery geneem is? Ook sal ek wil weet of enige ander besluite deur die Fedrale Raad ooit op hierdie manier geneem word?

Verder wil ek die saak rondom Afrikaner politieke selfbeskikking met u aanraak. Vir Jan Publiek, soos ek, lyk dit asof die VF+ nie veel meer omgee vir hierdie ideaal nie. Hoewel u in bogaande brief onderstreep dat daar wel so 'n projek bestaan, sou ek en seker vele ander nie daarvan geweet het indien dr Roodt dit nie op die voorgrond gebring het nie. Dit wil vir my eerder voorkom asof PRAAG se inisiatief, om vir 'n outonome Afrikaner Pretoria te veg, lewe in hierdie ideaal geblaas het. Dit lyk veel meer asof die VF+ probeer munt slaan uit die PRAAG se inisiatief as andersom.

Selfs op u webwerf kom outonomie maar heel onder aan die lys van u beleidspunte voor. Dit skep weereens die vermoede dat u party ongemaklik staan teenoor hierdie beginsel.

Ek is seker dat u met my sal saamsten dat geen beginsel so belangrik is soos Afrikaner politieke selfbeskikking nie. Sonder dit het Afrikaners doodgewoon 'n baie onseker toekoms in Suider Afrika. Die enigste manier hoe ons Afrikaner-regte kan verseker, is indien ons nie deur vreemdelinge regeer word nie. Tog bly u party vaag rondom u modus operandi omtrent selfbeskikking. U praat wel van deelneem aan plaaslike verkiesings, maar hoe moet ons glo dat die VF+ die beheer kan oorneem waar die ANC bykans oral 'n demografiese meerderheid het?

Watter geografiese areas is geoormerk? Hoe gaan u die ANC neutraliseer? Indien u nie 'n enkele stadsraad kan oorneem nie hoe gaan u aan u ondersteuners, wat ten gunste is van selfbeskikking, 'n alternatief bied?

Word die strewe na 'n volkstaat nou uitgestel totdat daar meer beroepspolitici in gesallieerde derdevlak regeringsposisies is? Tans is die VF+ nie net in die parlement nie, maar dit dien ook in die regering. Moet hierdie forums nie reeds aangewend word om selfbeskikking te bevorder nie? Hoe dikwels gebruik die VF+ die woorde "Afrikaner-selfbeskikking" in die parlement? Op u webwerf is die ideaal nou verwater tot "gebiedsoutonomie vir gemeenskappe wat dit opeis..." Meeste Afrikaners woon in gemeenskappe (ek vermoed u bedoel munisipaliteite) wat demografies en polities deur die ANC oorheers word. Hoe gaan 'n stem vir die VF+ 'n Afrikaner-volkstaat 'n groter werklikheid vir hierdie mense maak?

Kan u sien hoe hierdie beginsel u party geheel en al verlos van werklike druk om die Afrikaner van 'n eie territorium te voorsien? Indien die strewe na Afrikaner- outonomie na 'gemeenskappe' (en ek is onseker presies wat dit beteken, want weereens is die VF+ ook vaag hieromtrent) gedelegeer word, haal dit nie net die druk van die party af nie, maar sal Afrikaners se minderheidstatus dit bykans oral onbereikbaar maak. Sonder 'n eie gebied, mnr Willemse, sal ons nooit vry wees nie.

Die volkstaat ideaal moet tog sekerlik nie afhang van plaaslike gemeenskappe nie. Indien dit wel die ideale oplossing vir die Afrikaner is moet dit tog sekerlik op alle vlakke deur die party nagestreef word. Bowendien beplan die ANC wetgewing waarmee dit op derdevlak sal kan inmeng. Dan is "outonome gemeensappe" tog doodgebore. Outonomie sal dus ook nie voldoende wees nie. Die strewe sal na volle onafhanklikheid moet wees. Mens begin nie 'n bedinginsprosess deur vir die minste te vra nie. Mens eis die maksimum.

Die volkstaat moet bereik word vir alle Afrikaners wat daarheen wil verhuis en nie onderhewig wees aan plaaslike gemeenskappe wat 'n VF meederheid by die stembus kan lewer nie. Daar is tog verskeie ander maniere waardeur hierdie ideaal nagestreef kan word. Dit sal behels dat die partyleierskap die bereidwilligheid sal moet toon om uself tot ander middele as u kiesers te wend. U sal self ook die saak moet bevorder deur bemiddeling met die regering, die howe en indien nodig selfs die internasionale gemeenskap.

Verder wil ek aan u vra rakende dr Mulder se deelname aan die Zuma-regering: Watter voordele voorsien die VF+ gaan dit vir Afrikaners inhou? Hoe gaan dit selfbeskikking dienstig wees? Wat is die sperdatum vir u eerste wins? Moet ons maar net onbeperk wag en sien of iets ooit gebeur? Wat presies is die aard van die ooreenkoms met die ANC?

Die Vryheidsfront+ is tot hede nog net 'n ''vryheidsfront'' in naam en moet nog bewys dat dit werklik die Afrikaner van sy huidige lot kan bevry. Lewendige en kritiese debat onder Afrikaners moet sorg dat die Vryheidsfront+ op koers bly.

Ek sien uit na u terugvoer.

U lojale (en daarom kritiese) ondersteuner,

JH du Toit

No comments:

Post a Comment