Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Sunday, January 24, 2010

Wanneer ons ophou wag sal die leier(s) met ons wees

Deur Vlad du Plessis,

Somtyds gebeur dit dat ek ’n rubriek van Tim du Plessis lees en darem so hier en daar ’n raakpuntjie met hom vind. Merendeels verskil ek egter lynreg met hom. Vandag het ek die uitsonderlike ervaring gehad om grootliks (met die uitsondering van sy laaste paragraaf) met sy argument saam te stem.

Du Plessis skryf oor die neiging onder Afrikaners om alewig te wag vir iets rigtinggewend om te gebeur, wat dan hul situasie sal beïnvloed of verander. Hoewel hierdie kennelik ’n neiging van ons mense is, is dit gelukkig net ten dele ’n waarheid, want gebeure soos die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog het daarop gedui dat ons tog tot daadwerklike aksie in staat is.

Nogtans, die punt is dat ons eerder sal wag tot die perde horings kry as wat ons geredelik tot handeling oorgaan. Die huidige gesprek op PRAAG oor Afrikanerselfbeskkiking en Afrikanerleierskap hou myns insiens hiermee verband.

Howel die bewustheid dat ons nie langer op die pad van verknegtheid aan die ANC kan voortgaan nie aan die uitbrei is, tree geen sterk leierskap na vore om leiding na bevryding te neem nie. ’n Volkstaat bly ’n toekomsdroom wat niks nader aan vergestalting beweeg nie.

Anton Barnard het ’n uitstekende rede gevoer waarom ’n Afrikaner-owerheid ’n beter alternatief as ’n gepraat oor volkstaatgrense is. Beide ek en Johann Wingaardt het ons ondersteuning vir Anton Barnard se standpunt uitgespreek. Anton se argument klink vir my nog steeds na die beste van al die selfbeskikingsargumente wat ek tot hede gehoor het.

Ek het selfs aangevoer dat ons ’n populêre petisie op die been bring om aan alle Afrikaner-organisasies te oorhandig. Die uitsluitlike doel hiervan sou wees om hulle te versoek om so ‘n AO tot stand te bring. My rede was juis dat as ons dit nie doen nie, die verlamming of “gewag” waarna Tim du Plessis verwys, net sal voortduur.

Terug by Afrikanerleiers en die “gewag”: Ja, dit is ook my mening dat die “gewag” waarna Tim verwys die toestand is wat ons leiers, of dan die gebrek daaraan, beskryf. Sommige skrywers het spesifiek hul kwelling uitgepreek oor die neiging van Afrikanerleiers om net te praat en tot geen aksie oor te gaan nie.

Selfs met verlede week se PRAAG-OB-Afriforum-FAK-vergadering is daar baie gepraat. Interessante verklarings en artikels het gevolg. Dit is alles baie ‘interessant’ ... en dit is al wat dit is, want die gewag duur voort.

Vandag op PRAAG verskaf beide Christo Landman en Johann Wingaardt as te ware bloudrukke van die roete na bevryding. Hulle ‘ontwerpe’ is wel in groter detail, maar kom ooreen met Anton se idee. Maar, wat gaan nou gebeur? (en hierdie is geen kritiek op die betrokke here nie.) Is dit maar net nog ‘n interessantheid waarvan ons teen volgende week vergeet het?

Ja toegegee daar is wel handeling: Daar is ouens soos Afriforum wat allerhande aksies aan die gang het. Dan Roodt van PRAAG is ’n ongeëwenaarde uitgesproke aktivis, wat nie skroom om te sê wat baie ander net dink, maar nooit die moed het om te uiter nie; en so verskaf hy waardevolle ideologiese rigting. Die Orania-beweging het daad by die woord gevoeg en ’n poging tot ’n volksvesting aangewend.

Nogtans, daar is geen eenheid nie en dus geen gekoöordineerde optrede nie. Niemand werk saam nie. Geen leier bind die Afrikaner in ’n geïntegreerde bevrydingsinisiatief saam nie. Intussen wag ons.

Maar, daar is ’n keersy tot hierdie verskynsel, en dit is die volgelinge. Wat doen ons? Ons val die leiers aan omdat hulle nie tot die tipe handeling kom wat ’n verskil kan maak nie. Maar hoeveel van ons raak werklik betrokke? Hoe kan ons van hulle verwag om grootse pogings aan te wend wanneer die meeste van ons so onbetrokke is? Kan ons van hulle verwag om geïnspireerd te wees, as ons in ons duisende by rugbywedstryde opdaag, maar geen moeite doen om aan politieke byeenkomste of aksies deel te neem nie? Kan ons werklik van hulle verwag om al die risiko te loop terwyl die res van ons ‘wag en kyk’ ?

Miskien is dit een van die redes waarom ek gehoop het ons kan ons leiers deur middel van ’n petisie tot handeling aanspoor. Ten minste sou dit ’n vorm van betrokkenheid wees, al is dit beskeie. My gevoel is dat die ‘sterk leier’ waarvoor almal hoop nie na vore gaan tree solank ons vir hom sit en wag nie.

No comments:

Post a Comment