Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Thursday, January 21, 2010

‘n Volk se ontwaking? - Radio Pretoria

15/01/10


Soms wil dit voorkom of die oudstryders en bittereinders in ons volk se vryheidstryd moeg, selfs moedeloos word, as daar na jarelange waarsku, werk en ywer vir die volksaak, nie noemenswaardig sigbare vordering is nie.

Tog lyk dit of jare van stryd, verguising soms, spot, nie heeltemal verniet was nie. Inteendeel. Ons het die laaste tyd gesien hoe daar nuwe inisiatiewe na vore kom om ons volk ‘n vrye en onafhanklike volk te maak, uiteindelik natuurlik in ‘n eie staat. In baie van die aksies en inisiatiewe is dit juis die jonger geslag wat aan stuur van sake staan en ‘n dinamiese koers aandui. Veral op die volksekonomiese terrein, is hierdie verskynsel duidelik sigbaar.

‘n Ander interessante verskynsel openbaar homself buite die tradisionele konserwatiewe of behoudende dampkring, en dit is in die groot Afrikaanse koerante wat saam met die gestorwe NP en Broederbond die pad van Afrikaner vryheid byster geraak het om die oorgang na die nuwe Suid-Afrika te propageer en te besing. Op die webblaaie van die koerante is daar daagliks meningsopnames, wat nou wel nie wetenskaplik is nie, maar wat doodgewoon ‘n reguit vraag vra. En uit daardie opnames word dit al hoe meer duidelik dat die meerderheid van die Afrikaanse koerantlesers nie meer tevrede is met die huidige situasie waarin hulle verkeer nie.

Onlangs was die vraag gevra of lesers reken dat die Afrikaner in die steek gelaat is tydens die onderhandelinge voor die 1994-oorgawe aan die ANC. Meer as tagtig persent van die mense reken dat die Afrikaner inderdaad in die steek gelaat is.

Hierdie week is die vraag gevra of mense sal oorweeg om in ‘n volkstaat te bly. Die groot verrassing is dat slegs sewe en twintig persent van die deelnemers uitdruklik sê dat hulle nie in ‘n volkstaat wil woon nie, terwyl sewe en vyftig persent uitdruklik sê dat hulle wel in ‘n volkstaat sal wil woon, terwyl die oorblywende klomp sê hulle sal dit onder bepaalde omstandighede sal oorweeg. Dit was, terloops, ook die grootste meningsopname nog deur die koerant, want meer as elf duisend mense het daaraan deelgeneem!

Hierdie was ooglopend ‘n groot skok vir die redaksie van die betrokke koerant, wat skielik ‘n junior joernalis, van wie bittermin mense nog gehoor het, inspan om ‘n dag later ‘n byna onrealistiese te relaas lewer waarom ‘n volkstaat nie die antwoord is nie, terwyl die redakteur in vandag se koerant praat van die wit verskuiwing, en die onbekende joernalis probeer beskerm, nadat die lesers skynbaar ‘n bietjie met sy gal gewerk het.

Die feit van die saak is dat die mense wat aan hierdie meningsopnames oor die internet deelneem, hoofsaaklik die jonger garde verteenwoordig. Dit is dus daardie geslag wat doodeerlik sê dat hulle nie hou van die situasie waarin hulle verkeer nie. Alhoewel die koerant se joernalis probeer aantoon dat dit ‘n soort rassistiese benadering is en ‘n hunkering na apartheid, is dit juis nie die geval nie. Dit is mense wat deur die realiteit van die dag, besef dat hierdie bestel en bedeling nie werk nie, nie aanvaarbaar is nie, nie ideaal is nie, en dus met iets anders vervang word. ‘n Volkstaat, waar die Afrikaner oor homself regeer, lyk na ‘n logiese en aanvaarbare oplossing.

Dalk was van ons ouer vryheidstryders en leiers hulle tyd vooruit. Maar as na hierdie tekens gekyk word, is dit duidelik dat die strewe na onafhanklikheid onder ons volk groter is as wat werklik besef word. Dit is in pas met die nasionalistiese- en vryheidstrewes wat ook onder ander volke van die wêreld leef.

Dit toon dat die tyd ryp is dat ons ons vryheidseis steeds sterker stel, en ook duideliker begin omlyn. Die volk begin ryp word daarvoor. Ons het nie meer nodig om ter wille van sogenaamde politieke korrektheid, of welwillendheid teenoor ‘n vyandige regering, ons vryheidstrewe en vryheidseis, te verbloem of te versag, of selfs te verdoesel, soos sommige organisasies selfs doen nie.

Met dit in gedagte is dit dalk nou die regte tyd om ook die Volks Verkiesingskommissie, die VVK, se veldtog om ‘n volksraad vir ons volk daargestel te kry, nou met mening te dryf. Daarvoor is hande en voete van bereidwilligheid nodig. Wil u nie maar aanmeld vir die volgende fase van ons vryheidstryd nie? Ons volk smag daarna.

No comments:

Post a Comment