Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Monday, January 25, 2010

Volkstaat sport

Deur Radio Pretoria

Die kommunisties-beheerde ANC-bewind wil maar net nie ophou met sy transformasie op byna elke terrein nie, en sport is steeds hoog op sy agenda. Dat dié transformasie dikwels rampspoedig is vir die prestasie en uitslag van kompetisie, kan hom skynbaar min skeel. Solank daar net getransformeer word, en solank die kwotas net vol gemaak word, is die ANC tevrede. Basta met die res!

Tans is daar weer pogings om rugby vêrder te verander, en dit vind plaas nêrens anders as in die hart van Bloubulland nie. Veral Bloubulondersteuners voel sterk oor hulle rugby, en dit is hoofsaaklik Afrikaners wat die ondersteuners is.

Om een of ander onverklaarbare en verstommende rede word daar tans gepraat oor die moontlikheid om die tradisionele blou kleur van die Bulle te verander. Die kleure wat voorgestel word is, wit, geel, swart en groen. Ons glo dat wit net ingevoeg is sodat dit die ANC-kleure effens kan verdoesel. Wit gaan egter om politieke redes nie aanvaarbaar wees nie, dus is die oorblywende kleure slegs die ANC-kleure.

Dit is die tipiese werkswyse van die kommunis, om met iets onbenulligs soos ‘n kleur te begin peuter, terwyl dit in hierdie geval nogal ‘n soort handelsmerk is. Dink net aan ‘n handelsmerk soos die Geelbulle, Groenbulle of Swartbulle. Dis tog nie dieselfde as die Bloubulle nie.

Ons sal moet sien hoe sterk die besluitnemers staan in hierdie verband, en hoe sterk die ondersteuners uiteindelik gaan wees in hierdie verband. Daar is egter rede tot kommer dat ons mense al te maklik toegee aan elke nuk en gier van die ANC, veral waar dit sport aangaan. Toe daar die eerste keer gepraat is van kwotas in sport, was daar allerhande dreigpraatjies, van boikotte deur ons mense. Uiteindelik het daar niks van gekom nie.

Met die eerste rondte van transformasie, het die sportadministrateurs ook dadelik gekapituleer. Dit was toe alle provinsiale name verander moes word, omdat die ANC weier om te praat van Transvaal en Oranje-Vrystaat. Noord-Transvaal het dadelik plek gemaak vir die Bloubulle, en deesdae word die span al meer die Bulls genoem. Hoe sterk die bestuur dus uiteindelik gaan staan ten opsigte van die blou handelsmerk, sal ons nog maar eers moet sien.

Wat wel waar is, is dat met elke verandering, daar ‘n mate van vervreemding intree by ‘n aantal ondersteuners. Elke keer word dié groepie groter. Ook as die kleure van die Bloubulle verander, sal dit ‘n vêrdere vervreemding tot gevolg hê. Die vraag is net waar daardie vervreemdes en ontnugterdes dan hulle sportsentiment gaan laat geld?

Verlede week is daar groot gewag gemaak oor die meningspeiling in ‘n Afrikaanstalige dagblad, waar uit die meer as elfduisend deelnemers aan dié peiling, gesê het dat hulle ten gunste is van ‘n volkstaat. Dalk is die tyd nou ryp ook vir ‘n sport-volkstaat. Gelukkig, hoef dié volkseie sport-volkstaat nie meer geskep te word nie. Hy is reeds daar. Hy moet nou net uitgebrei word, sodat die ANC se sportnukke en –grille, vir ons totaal irrelevant sal word. In plaas van waarskynlik futiele oefeninge om die blou van die Bulle te behou, kan daardie energie ingespan word om Afrikaner Volkseie Sport, AVS, nou ook uit te bou na klubvlak, sodat ons weer ons volkseie Curriebeker-reeks kan hou, ons eie Springbokspan, sonêr blommetjies, kan kies om ons volk in die buiteland te verteenwoordig, waar oranje, blanje, blou vlae nie onwelkom sal wees nie, waar die volkslied Die Stem in Afrikaans sal wees, sonder ‘n onnatuurlike kombinasie met Nkosi Sikelel iAfrika.

AVS het oor byna twee dekades heen baanbrekerswerk verrig om ons kinders op skoolvlak te akkommodeer, en het in die proses ‘n jaarlikse skouspel, by name die Bokkieweek, daargestel, wat wys dat ons volk sport kan bedryf en sport wil bedryf, en waar sport, en nie politiek nie, die hoof-kriteria vir deelname is.

Ons sport volkstaat wink, en kom ons span ons energie, tyd en geld daarin in plaas daarvan om vêrdere aandag aan die kommuniste se transformasie te gee. Want dit gaan kom, as dit nie vandag is nie, is dit more. Maar ook ons sport-volkstaat sal kom, en kom ons maak dit eerder vandag as more. Dan kan die Bulls maar geel word, die Cheetahs swart, die Stormers met kolletjies en Sharks pienk, want ons volksport sal blou wees van Boere-adel.

No comments:

Post a Comment