Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Sunday, January 17, 2010

Mag ons leiers mekaar vind

Geskryf deur Vlad du Plessis - PRAAG

Te danke aan Beeld se volkstaatmeningspeiling het hierdie gesprek weer momentum gekry. Die volkstaat is en moet ons belangrikste oogmerk bly en daarom is hierdie nuwe lewe wat die debat ontvang het van kardinale belang.

Hoewel Beeld se meningspeiling nie wetenskaplik is nie, dui dit tog dat daar geweldige steun onder Afrikaners (en miskien veral noordelike Afrikaners) vir ‘n eie staat is. Vir seker moet Afrikanerleiers ag hierop slaan en selfs organisasies wat tradisioneel nie van ‘n volkstaat gepraat het nie, bv die FAK en Afriforum, sal ten minste moet kennis neem hiervan.

Dit is verblydend dat hierdie gesprek juis nou nuwe lewe gekry het, reg voor die PRAAG-OB-FAK-Afriforum-beraad vanaand by die Diamantvalleilandgoed. Ek hoop van harte dat die volkstaatideaal hoog op hul agenda mog wees.

Wat na vore kom in vele insette van die baie deelnemers op verskeie internetforums en opiniewerwe is die gevoel dat die tyd vir die Afrikaner vinnig aan die opraak is. Die feit dat meer as ‘n derde van Afrikaners (meestal die room van ons gemeenskap) reeds sedert 1994 ge-emigreer het, bevestig hierdie krisis. Ook die regime se doelbewuste vernietiging van ons volk se ekonomiese toegang sowel as die aftakeling van ons taal en kultuur, bevestig dat ons op ‘n vinnige afdraande pad is en dit raak nou geheel realisties om die einde van die Afrikanervolk voorsien.

Die vyande wat ons in ons huidige magtelose situasie ondergrawe is velerlei. Vanaf die swart regime tot hul lakeie tussen ons eie mense, soos Naspers, sien met groot afwagting uit na die dag wanneer ons nie meer daar is nie. Die tyd vir aksie het voorwaar gekom. As ons nie nou optree nie, sal die geskiedenis ons beskryf as ‘n volk wat ondergegaan het omdat hulle nie om oorlewing wou veg nie.

Dit is nou in hierdie gevorderde uur van kardinale belang dat Afrikanerleiers van die onderskeie splinterbeweings mekaar moet vind. Ons kan nie meer teen mekaar werk nie. Die ongeregtigheid van ons verdeeldheid is net so ‘n groot misdaad teen ons volk as wat die vyand teen ons pleeg. As ons sg leiers nie mekaar vinnig gaan begin vind nie, sal die vernietiging van ons volk ook voor hulle deur gelê moet word.

Ek wil ‘n beroep doen op alle Afrikanerleiers, wat besef dat ons in ‘n krisis verkeer, om van hier af aan emosionele intelligensie aan die dag te lê. Laasgenoemede blyk vir my altyd ‘n eienskap te wees waarmee ons ou volkie baie swak bedeeld is. Eeue se stryd om oorlewing op hierdie ongenaakbare kontinent sowel as die onbuigsaamheid wat dikwels deur enge Calvinistiese waardes van geslag tot geslag oorgedra word, het gemaak dat ons dikwels nie vir mekaar wil toegee nie.

Indien ons onsself wil red uit die krisis waarin ons verkeer, sal ons móét saamstaan. Om mekaar te vind, sal ons moet bereid wees om aan mekaar toe te gee. Geen eenheid sal bereik word sonder kompromievorming nie. Om iets te kry, moet jy iets afstaan. Sonder opoffering is daar geen wins nie. Mag ons leiers hierdie wysheid verwerf voordat dit heeltmal te laat is.

No comments:

Post a Comment