Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, January 15, 2010

Wapenamnestie in wese 'n grap

Geskryf deur TLU SA

Die Minister van Polisie, mnr. Nathi Mthethwa, se ondeurdagte uitlating dat hy voorsien dat slegs die polisie in die toekoms vuurwapens sal dra, is ‘n ontkenning van die vlak van geweldsmisdaad in die land. Indien die wetsgehoorsame burgery nie self verantwoordelikheid vir die veiligheid van lewe en eiendom aanvaar nie, sou die misdaadstatistiek nog veel erger gewees het as wat die geval tans is.

Die president van TLU SA, Mnr Ben Marais, het gereageer op die minister se aankondiging van die amnestie vir onwettige sowel as wettige vuurwapens wat vanaf 11 Januarie 2010 tot 11 April 2010 van krag sal wees. Benewens die feit dat die hofuitspraak ten gunste van die SA Jag- en Wildbewaringsvereniging bepaal dat alle lisensies uitgereik voor die inwerkingtreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, steeds geldig is totdat aanvaarbare oorgangsmaatreëls deur die SAPD ingestel is, is die insinuasie na die ongewenste besit van vuurwapens deur wetsgehoorsame burgers wat wettig in besit van gelisensieerde vuurwapens is, ‘n ernstige aantasting van die beginsel van privaatbesit. Laasgenoemde het ‘n direkte invloed op lede van die publiek wat nie die voordeel van effektiewe beskerming deur die owerheid teen moordenaars, verkragters en rowers het nie, diegene wat jag en diegene wat sportskuts is nie.
Die amnestie is in wese ‘n grap. Enige persoon wat wettig in besit van ‘n wapen is, kan daardie wapen te eniger tyd by die polisie inhandig, sou hy dit nie meer wil hê nie. Daarvoor is geen amnestietyd nodig nie. Bowendien is dit hoogs twyfelagtig of wapens wat wel vir moorde of ander misdade gebruik is, ingehandig sal word, aangesien die wapens steeds ballisties getoets gaan word of dit in enige misdaad gebruik is, en mense steeds gearresteer kan word. Uiteindelik gaan die minimum aantal onwettige wapens ingehandig word, terwyl wetsgehoorsame burgers waarskynlik weer eens die meeste inhandigings sal doen, en hulleself daardeur weerloos stel aan die misdaadgeteisterde samelewing, waar misdadigers wél gewapen is.
TLU SA vertrou dat die minister erns sal maak om te verseker dat Suid-Afrikaanse burgers, ook diegene in afgeleë plattelandse gebiede, net so veilig sal wees tydens die Sokker Wêreldbeker as wat die ongekende veiligheidsmaatreëls na besoekende FIFA amptenare, spelers en buitelandse toeskouers omsien.

No comments:

Post a Comment