Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Wednesday, January 27, 2010

Eie Polisiemag

Deur Radio Pretoria

Die Suid-Afrikaanse polisiediens het te kenne gegee dat hy graag oud-lede van die polisie wil terugverwelkom in sy geledere, en ‘n werwingsveldtog is aan die gang om diĆ© manne en vroue wat nog nie die ouderdomsperk van vyftig jaar oorgesteek het nie, terug te kry.

Inderdaad is die polisie tans onderbeman, en met die enorme misdaad wat die land teister, is beslis meer polisie nodig. Mense wat in die polisie was, het reeds opleiding ontvang en het ook ervaring. Hulle kan dadelik ten volle ontplooi word.

Daar moet egter onthou word dat die meeste van die oud-polisielede juis ander weivelde gaan soek het om bepaalde redes. Die grootste rede is waarskynlik die werksomstandighede waaronder hulle hul werk moes doen, onbillike arbeidspraktyke soos diskriminasie ten gunste van swart lede, van wie se bekwaamheid in baie gevalle onder verdenking is. Magsmisbruik deur sodanige rasbevoorregte bevelvoerders, het die lewe vir ander, dikwels meer bekwame polisielede, onuithoudbaar gemaak.

Weliswaar druk die werkloosheid tans erg, veral onder blanke Afrikaner mans, teen wie daar die meeste gediskrimineer word. Mense kan dus gedwing word om weer terug te keer na die SAPD, maar ons kan nie dink dat dit met groot entoesiasme sal plaasvind nie.

Meer nog: dit moet uiteindelik ‘n geweldige frustrasie wees om te moet werk in ‘n omgewing sonder die nodige werkstoerusting. In hierdie geval is werkstoerusting nie net beperk tot die tekort aan voertuie om na misdaadtonele te gaan nie, maar sluit ook in ‘n regstelsel wat traag is, wat misdadigers in rekordtyd weer op straat plaas as hulle uit tronke vrygelaat word, en die spreekwoordelike boeie waarmee die polisie self geboei is. Sedert die ANC-SAKP-oorname, is dit nie meer ‘n polisiemag nie, maar ‘n polisiediens, wat ‘n hele verskil in benadering is. Die polisie kan nie meer ten alle koste wet en orde handhaaf nie, maar moet dans na die pype van die gemeenskap, met wie daar eerder onderhandel moet word.

Die enigste “mag” wat die polisie nog het, is die onderskeie metroplisiedienste van die groot stede. Hulle maak heel duidelik van hulle blou ligte op die voertuie, hulle uniforms met die blink ster van die gereg daarop, en hulle vuurwapens gebruik. Soos in die geval in Johannesburg verlede week, waar ‘n klompie van die swart lede van die Metro-polisie geskiet het op die voertuig van ‘n blanke dame wat, weliswaar in stryd met die wet, op haar selfoon gepraat het. Uiteindelik het hulle haar afgetrek, uit die voertuig gepluk, op haar maag op die grond gegooi in die middel van die pad, met haar hande agter haar rug geboei. Dit vir ‘n oortreding waarvoor mens gewoonlik slegs ‘n boete kry.

Daar is gedurig sprake dat die metro-polisiedienste by die SAPD ingelyf moet word. Dit word dan dus die kollegas waarmee gedissiplineerde oud-lede te doen gaan kry. Dit sal waarskynlik ‘n resep vir konflik in die werksplek wees.

Die ideaal sou wees as ons ‘n soort eie beveiligings- en ondersoekmag sou kon instel om sake wat ons mense raak, te hanteer. Daarvoor is geld nodig. Maar die kundigheid van oud-polisielede is beskikbaar. Waar daar baie gepraat word van ‘n volksekonomie wat koers begin kry, van ‘n volksraadsverkiesing wat een of ander tyd kan plaasvind onder beskerming van die VVK, en waar ‘n staatsadministrasie stadig begin koers kry onder die Afrikanerfront, sal daar ook stadigaan gewerk moet word aan die instel van ‘n soort belasting onder ons volksgenote, waarmee ons die oud-polisiemanne wat nou teruggelok word na ‘n onaantreklike polisiediens, kan aanstel om ons eie sake te hanteer. Maar ons mense sal waarskynlik nie meer tuis voel in ‘n ongedissiplineerde en dikwels korrupte instelling, waar die ANC-SAKP se kaders die bevel voer nie.

1 comment:

  1. nou wanneer skrik hulle nou wakker en neem ons terug. ek wil met my hele hart en siel teruggaan maar omdat ek nie 'n boksak wat swaarder weeg as ek kan optel nie wil hul my nie vat nie, ek sit met soveel ervaring en kursusse, ek is 'n blanke vrou. almal kla oor die misdaad, help ons om terug gevat te word, dit is diskriminasie teen my as vrou.

    ReplyDelete