Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Tuesday, January 19, 2010

Anton Barnard is reg: Afrikanerowerheid eerste

Geskryf deur Vlad du Plessis -PRAAG

Anton Barnard se skrywe oor die Wolkstaat stuur die gesprek oor Afrikanerselfbeskikking in die regte ringting. Ten eerste is dit belangrike dat die nuwe lewe wat hierdie gesprek ontvang het, volgehou word. Ten tweede moet ons nou realisties praat en raakvat.

Anton se argument, dat om nou reeds oor grense te kibbel voortydig is en dat dit boonop veroorsaak dat die onderskeie faksies vir mekaar die herrie in raak, is gewis die waarheid. Sy argument dat dit die Afrikaner se teenstanders van ammunisie voorsien om Afrikanerselfbeskikking af te skiet, is ook korrek.

Mag ek self enkele voorstelle aan die hand doen? Ek verstaan dat Afrikanerleiers nie ten volle daarvan sal kan wegkom om van grense te praat nie, maar indien hulle dan moet, mog hulle dit hoogstens in baie vae terme doen. Dit doen nie die selfbeskikkingsideaal enige guns deurdat faksionele leiers mekaar se idees van waar die volkstaat moet wees, afskiet nie. Vir die pro-Pretoria-volkstaters om die Oraniërs af te skiet en andersom is, op hierdie stadium, ‘n sinnelose gesprek wat meer skade as goed doen. Dit bring verlamming mee en werk so in die vyand se hand.

Eintlik kan al die onderskeie gebiede uiteindelik deel wees van ‘n volkstaat, of dalk nie een daarvan nie. Die punt wat Anton aanraak en waarmee ek volmondig saamstem, is dat Afrikanerselfbeskiking, ten minste in die kort termyn nie van ‘n volkstaat afhanklik is nie. Hoewel die volkstaat die doel is waarheen gewerk moet word, sal dit raadsaam wees om die strukture, ‘n Afrikanerowerheid (AO), nou reeds op die been te bring. Daar is tientalle redes waarom die stigting van ‘n AO die eerste prioritiet moet wees. Anton het dit reeds grootliks aangespreek, so ek sal dit vir die oomblik daar laat.

Die idee van ‘n AO wat dienstegeoriënteerd is eerder as ‘n blote politieke spreekbuis klink ook in die kol. Dienslewering sal geloofwaardigheid skep en daarmee saam groei in ondersteuning. Vanuit die staanspoor mag dit nie moontlik wees om dienste te lewer nie, maar Rome is nie in een dag gebou nie. Die feit is dat ‘n AO baie vinnig invloed en mag sal ontwikkel, wat dan weer as vertrekpunt na territoriale selfbeskikking sal dien.

Ook stem ek saam met Anton dat die stigting van die AO op nie-demokratiese grondslag plaasvind. Anton se logika is reg, dat ‘n demokratiese proses te langsaam is en dat dit selfs totstandkoming kan belemmer. Wat wel van kardinale belang is, is dat die stigters hoëprofiel- Afrikanerleiers en ‘n breë front van organisasies moet insluit. Daarsonder sal geloofwaardigheid weereens ‘n probleem wees. Daar behoort wel ‘n rooster neergelê te word vir die demokratisering van ‘n te stigte AO.

En dit is waarskynlik hier waar die wa in die drif gaan vassit. Ons leiers kan maar net nie vir mekaar vind nie en dit blyk dat elkeen koning wil kraai op sy eie mishoop. Dat elkeen hul eie organisasie wil kultiveer om die boom te word wat die vrugte van Afrikanervryheid gaan dra is uiters eng en gevaarlik. Hierdie voortgesette faksionalisme verteenwoordig ‘n roekelose gedobbel met die voortbestaan van die Afrikanervolk.

Hierdie stugge domastrantheid moet ten einde kom. Niemand wen hierdeur nie en intussen is die Afrikaner/Boerevolk die groot verloorder. Ons leiers moet besef dat nie een van hulle die heilige beker van waarheid vashou nie. Elkeen het hoogstens ten dele ‘n waarheid beet. Die grootse waarheid lê langs die weg van kompromievorming.

Ek het voorheen ‘n beroep op ons leiers gedoen om emosionele intelligensie ten opsigte van mekaar aan die dag te lê. Dis tyd dat hulle die ander ou se ego net so belangrik soos hulle eie ag en lig loop om op mekaar se tone te trap. Of ons dit nou wil weet of nie, maar Afrikaners (en Afrikanerleiers) se ego's is baie meer kleinserig as wat hulle wil voorgee. Eintlik is alle mense maar so. Dit is die normale stand van die menselike psige.

Ons leiers moet egter oorgaan tot een of ander akkoord vir die vorming van ‘n AO. Iemand sal die inisiatief moet neem. Die vraag is egter: "Wie?" Ek mag verkeerd wees, maar my gevoel is dat dit nie sonder aanmoediging gaan gebeur nie. Dis hier waar ek aan die hand wil doen dat ons ‘n nie-partypolitieke petisie op die been bring om die leierskap van alle Afrikanerfaksies tot so 'n aksie op te roep. Indien hulle in gebreke bly om ‘n populêre oproep te gehoorsaam, kan dit op rekord gestel word dat hulle die volk in sy uur van nood die rug gekeer het.

No comments:

Post a Comment