Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Thursday, December 10, 2009

Wat doen ons?


Geskryf deur Radio Pretoria,

Heel dikwels word die vraag gestel: Wat doen ons as volk om onsself in hierdie woeste land te handhaaf? Dit is ’n billike vraag, en dit is nodig dat volksgenote van tyd tot tyd voorraad opname doen oor sy eie werksaamhede, sy strewes en ideale.

In die afgelope jaar het talle nuwe inisiatiewe na vore gekom. Hierin het Radio Pretoria ’n beduidende rol vervul om daardie inisiatiewe tot sukses te lei. Sonder die ywer en offervaardige handelinge van ons volksgenote, sou daar niks nuuts op die horison vir hierdie volk in slawerny verskyn het nie.

Gedurende die tweede helfte van verlede jaar het ’n paar gemotiveerde volksgenote bymekaar gekom en gesprekke gevoer oor die toenemende verarming van ons volk. Daardie gesprekke was die eerste tree om die Oranje Sake Instituut te vestig, met die noodwendige opvolg aksie van Oranje Sakekamers wat die een na die ander in 2009 tot stand gekom het. Die eerste Oranje Sakekamer is in Pretoria gestig, en heel gou het ander sakekamers elders in die land opgespring.

Voortvloeiend hieruit het die volgende logiese stap gevolg. Oranjekas, ons volk se eie koöperatiewe Bank kom tot stand. Binne maande na die stigting het dit duidelik geword dat die Bank, wat ’n lang gekoesterde ideaal is, tydig en met groot entoesiasme en oorgawe ondersteun sou word. Volksgenote oor die lengte en breedte van ons land het begin navraag doen, en Oranjekas word, soos Radio Pretoria, ’n simbool van verset en eendragtige optrede om ons volk ook op ekonomiese terrein te hervestig.

Radio Pretoria roep derhalwe ons volksgenote oor die wêreld om ons volk se eie strukture hier te lande te begin ondersteun. Maak ’n begin deur Oranjekas te ondersteun. Koop aandele in ons Bank, maak minstens ’n spaarrekening oop, en help daarmee om hierdie klein volk weer ’n vaste staanplek te gee in die finansiële wêreld.

In die maande wat voor is, sal aandag gegee word aan verdere ontwikkeling van ons volk se ekonomiese strukture. Die Afrikanervolk beskik oor die vermoëns om selfversorgend te wees, en daardie selfversorging beteken dat ons ons swaar verdiende inkomste sodanig moet aanwend dat dit nie in die hand van die vreemdeling val nie.

Uiteindelik sal ons op ekonomiese gebied ons volk moet versorg, wat meebring dat werksgeleenthede geskep moet word, dat volksgenote die nodige opleiding en kundigheid moet kry sodat ons die toekoms kan ingaan met die vaste vertroue dat finansiële druk afgeweer is.

Dit is wat ons doen – en daarmee gaan ons voort om ons volk se selfrespek, hul trots en waardigheid terug te bring na die vlak wat dit altyd was. Die sukses hiervan is deels in jou, wat nou hier lees, se hande. Niemand gaan iets vir die Afrikanervolk doen nie – ’n volk red homself !

No comments:

Post a Comment