Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Thursday, December 24, 2009

Met panga doodgekap

Geskryf deur Buks Viljoen - Beeld,

’n Boer het magteloos met sy hande vasgebind aan die bad se handvatsel gehang terwyl hy eergisternag in sy vrou se arms in hul plaasopstal naby Louis Trichardt dood is.

Vier aanvallers het mnr. Pieter Snyman (in sy laat 50’s) ten aan- skoue van sy gesinslede verskeie kere met ’n panga teen die kop gekap en met ’n mes in die bors gesteek.

Die vier, gewapen met jagmesse en ’n panga, het mev. Jeanine Snyman (50) en die egpaar se dogter Sharon (12) omstreeks 18:30 in hul huis op die plaas Balmoral, naby Mara, oorval.

Volgens mnr. Japie van der Goot, veiligheidshoof van die Vivo/Alldays-gebied van TLU SA Noord, is die twee verskeie kere aangerand en vasgebind.

“Die aanvallers het Afrikaans met hulle gepraat en gesê hulle weet mnr. Snyman was in daardie sta­dium elders op die plaas om ’n pomp af te sit.”

Kort daarna het mnr. Snyman, alombekend as “Pieter Slang” vanweë sy liefde vir slange, opgedaag. Hy is ook vasgebind.

Die moordenaars het hom na die badkamer gesleep waar sy vrou en Sharon aangehou is.

Snyman se dogter Tracy (30), wat ook op die plaas werk, was besig om arbeiders by hul kampong af te laai.

By haar terugkeer is sy ook oorval, vasgebind en saam met die res van die gesin in die badkamer aangehou. Die rowers het geld en wapens geëis en mnr. Snyman verskeie kere met die panga gekap.

Hulle het die gesin later in die badkamer toegesluit en die huis deurgesoek.

Mev. Snyman het haar erg beseerde man in haar arms vasgehou totdat hy dood is, het Van der Goot gesê.

Die drie getraumatiseerde vroue kon hulself eers teen 22:00 bevry en op ’n naburige plaas gaan hulp soek.

By die polisie se aankoms op die plaas het hulle glo geweier om eerste by die opstal in te gaan en gevra boere wat op die toneel was, moet die huis eers deurkyk.

Snyman se lyk is in die badkamer gekry met gapende wonde aan sy kop. Sy hande was steeds aan die bad vasgemaak.

Daar is vasgestel twee skootrekenaars, ’n TV-stel en Snyman se Toyota-bakkie is weg. Die kluise is ook oopgebreek. Van die vuurwapens is net so daarin gelaat.

Die bakkie is later verlate in ’n plakkerskamp buite Polokwane (Pietersburg) gekry.

Supt. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog aangekeer nie. Die moordenaars is volgens haar tussen 20 en 30 jaar oud.

Mev. Snyman en die dogters bly sedert die aanval by ’n buurman en kry berading.

Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het gesê die geweld van die moord is skokkend. Hy het die moordenaars as “sosiale terroriste” beskryf.

“Die regering se siening dat dié tipe misdaad gewoonlik deur buitelanders gepleeg word, is verkeerd bewys aangesien die moordenaars, wat Afrikaans goed praat, plaaslike mense met kennis van die omgewing is.”



- Beeld

No comments:

Post a Comment