Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Monday, November 9, 2009

Tog net nie ’n ‘McSafety’ nie

Geskryf deur Vlad du Plessis,

Dit is verblydend om te sien dat ook op PRAAG die vernuwende gesprek oor ’n Afrikanersekerheidsorganisasie (ASO) voortgesit word. Vanaf die stigting van Perspektief(-blog) was dit ons vertrekpunt om Afrikanerweerbaarheid voorop te stel. Ons ondersteun dus vanuit ons eie onlangse ‘’geskiedenis’’ die gesprek rondom ’n ASO heelhartig.

Hier by Perspektief het ons nog deurgaans die Kommandokorps, sowel as TLU Veiligheid, ondersteun, vandaar dat ons ook uit eie inisiatief die Kommandokorps adverteer. Ongelukkig bied TLU Veiligheid geen webwerf, bemarkingsmateriaal of kontakte nie en dus kan ons nie dieselfde vir hulle doen nie.

Graag wil ek egter ’n paar idees bydra rondom ’n ASO:

1) Ons stel voor dat daar weggestuur word van ’n suiwer privaat onderneming. Hierdie model het te veel Afrikaners in die verlede moreel ten gunste van die vyand gekorrupteer. Binne die kapitalistiese model is profyt die enigste moraliteit. Hierdie ekonomiese model is wêreldwyd
onder druk. Ek beveel graag aan dat daar eerder gekyk word na ’n koöperatiewe model. Hierdie model bevat die beste van die kapitalisme, naamlik die vryemarkbeginsel, waar die koöperasie op ’n oop mark meeding, sowel as die beste van die sosialisme, naamlik gemeenskapsaanspreeklike eienaarskap en bestuur. Hierdie model word met sukses op Orania
geïmplementeer en is ook verantwoordelik vir die sukses van Mondragon. Minderheidsvolke het meer te baat by hierdie model as die suiwer kapitalistiese model. Die kapitalistiese model gaan vir seker ’n nuwe Afrikaner sekuriteitselite meebring wat enigiets vir profyt sal doen. Op die
ou einde sal hulle uitverkoopbaar aan die hoogste biëer wees en as die regering of enige volksvreemde party hulle beter kontrakte aanbied, gaan hulle die volk versaak. Nee wat, laat ons liewer streef na ’n organisasie vir-die-gemeenskap-deur-die-gemeenskap. Hier moet ons dalk Solidariteit se organisatoriese modelle ondersoek, sodat ons ’n suksesvolle koöperatiewe
model kan ontwikkel.

2) Beide Johann Wingaardt en Anton Barnard probeer die Afrikanerwerknemers basis (Afrikaner regstellende aksie gedryf deur die ASO) regverdig met die begrip “lede van 'n kultuurgemeenskap teen wie die owerhede amptelik diskrimineer”. Hiermee stem ek volmondig saam. Slegs Afrikaners kan immers mede-Afrikaners suksesvol beskerm. Kom ons neem egter ’n nota uit ons vyand se boek en verkort “lede van ’n kultuurgemeenskap teen wie die owerhede amptelik diskrimineer” doodeenvoudig tot “huidige benadeeldes”.Ons sal onself effektief beskerm as ons leer om die vyand se konsepte te kaap vir ons eie gewin. Die Afrikaner het nog nie geleer in welke mate dit die vyand se impetus breek nie. Die onlangse vreedsame rewolusies in Oos-Europa bied heelwat voorbeelde hiervan.

3) Die ASO moet beslis op ledegeld en kapitaalgenerering gebaseer wees; daarsonder sal dit uiteraard nie werk nie. Ons wil immers infrastruktuur en werksgeleenthede hiermee skep. Indien dit 'n koöperasie en dus 'n gemeenskapsbeweging is, kan dit sekerlik aanspraak maak op artikel 235 beskerming. Deur dit amptelik as 'n gemeenskaps- en kultuurorganisasie te bedryf, sal dit baie moeliker gemaak word vir die regime om via RA 'n houvas daarop te kry. Die beweging moet nie net handel oor 'n derdeparty diens nie. Dit moet ook weerbaarheidsklasse en vrywilliger (reserviste) lidmaatskap vir Afrikaners aanbied wat daarin belangstel; m.a.w. gemeenskapsbetrokkenheid. Dit kan gemeenskapsvergaderings organiseer en selfs 'n sosiale dimensie aanneem. 'n ASO kan nuwe lewe in Afrikanergemeenskapslewe blaas. Dit kan die struktuur, gesag en trots wat voorheen deur ander strukture gekweek is, maar wat deur die linkses gekorrupteer is, byvoorbeeld die kerke, terugbring na ons volk. Ons gaan dit egter nie bereik deur bloot 'n soort 'McSafety' (of dan 'McVeiligheid') te stig nie.

Hier is 'n geleentheid, waarvoor daar sosiaal politieke ruimte bestaan. Daar is beslis ook enorme besigheidspotensiaal. Nogtans, laat ons vir eens wegstuur van die Amerikaanse model ten gunste van 'n volkseie model wat ons eie gemeenskaps- sowel as wins- en werkskeppingsbehoeftes bevredigend sal nastreef.

No comments:

Post a Comment