Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Tuesday, November 10, 2009

Brief uit Beeld: 'Dis my voorreg om veilig te kan wees'

Geskryf deur Brenda Marais - Beeld

Ek is so bly die regering het besluit dat enigeen die BBP-ingryping kan vra. Beeld se berig “Malema mag beskerm word” verwys.

My gesin en my lewe is in doodsgevaar. Jaarliks. Maandeliks. Daagliks. En uurliks.

Hoewel daar geen doodsdreigemente teen ons gemaak is nie, is ons bang.

Ons is vreesbevange.

Ons sluit ons bedags en snags in ons eie huis toe en sien skrams die sonsopkoms deur die massa traliehekke van ons huis.

Ons loer deur ons stoep se traliehek om ons eie tuin te kan waardeer.

Hoekom? Omdat daar in ons omgewing die afgelope 15 jaar mense beroof, vermoor en gemartel is deur mense wat geen respek het vir ander nie.

Nog erger: geen respek het vir ’n lewe nie.

Ons seuns wat bevoorreg is en die wonderlike geleentheid het om op ons eiendom met hul vierwielfietse te kan ry, om vreesloos by ons dam uit te kamp en vis te vang, om onbevange tot laataand saam met hul maats wegkruipertjie te kan speel, word deur ons gemaan om eerder in te kom.

Waar hulle veilig agter slot en grendel eerder TV kan kyk of PlayStation kan speel.

Waaraan stel ons die kinders bloot?

’n Lewe as gevangene? Agter tralies?

Daarom vra ek BBP-beskerming. Nee, ek dring daarop aan.

Dis my voorreg om veilig te wees en my reg as belastingbetaler!

No comments:

Post a Comment