Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, November 6, 2009

Dissidente moet 'uitgeroei' word

Geskryf deur Dan Roodt - PRAAG

Moontlik is dit toevallig, moontlik nie dat Uhuru Guru, die webmeester van South Africa Sucks, eergister deur 'n polisietaakmag van 28 mense in hegtenis geneem is, so kort ná anonieme en minder anonieme briefskrywers op LitNet hulself skerp teen sy webwerf uitgelaat het en sommige selfs gesuggereer het dat dissidente in Suid-Afrika "uitgeroei" behoort te word:

"Maar een ding is seker, hierdie mense wat SA so afbreek moet van 'n kant af uitgeroei word, dit kan nie so moeilik wees om hulle op te spoor nie, kry Mosad indien nodig, kry Bin Laden, maar boet moet hulle boet.

Hulle is direk verantwoordelik dat kos uit honger kinders se monde gesteel word terwyl hulself blink en vetgevoer rondwriemel soos witwurms te midde van die stront en die opkotsels van hul eie lewens ... en sulke gediertes verdien geen respek, genade, of konsiderasie nie, anything goes, want hulle is sub-mense met absoluut geen respek vir hul medemens nie en die geskiedenis het al dikwels getoon hulle moet STOP gesit word ten alle koste. En daar is net een manier ..."

Rondom middagete eergister het ek 'n telefoonoproep van Uhuru Guru se regsverteenwoordiger gekry, want blykbaar het die blanke Afrikanerpolisiemanne wat soos Veiligheidspolisie uit die "ou skool" van die tagtigerjare gelyk en opgetree het, ook allerlei vrae oor my en praag.co.za gevra. Uhuru Guru het egter geweier om verdere vrae te beantwoord en so waarskynlik veroorsaak dat hy terstond in die selle gesmyt is en agterna letterlik 24 uur in die geselskap van swart moordenaars en rowers moes verkeer. Toe ek gister met hom gepraat het, het hy dit as 'n "minder aangename ervaring" beskry.

PRAAG het gisteroggend 'n redelik volledige berig, Ystervuis teen webwerwe, oor die insident gepubliseer, gegrond op die inligting wat ons op daardie stadium tot ons beskikking het en dis nie nodig om dit hier te herhaal nie. Hoewel Uhuru Guru uit aanhouding vrygelaat is, is 'n volskaalse ondersoek egter nog steeds teen hom aan die gang. Hulle het selfs foto's van die boeke op sy rak geneem, onder andere foto's van boeke wat deur die uwe geskryf is. Waarmee is die polisie besig?

Ongeag wat nou verder gebeur, het hierdie voorval 'n paar dinge gedemonstreer:

Dieselfde Veiligheidspolisietipes wat tydens die sogenaamde "apartheidtyd" die Afrikaner se naam deur die modder gesleep het met hul ondeurdagte hardhandige en soms moorddadige optrede, is steeds aktief. Al verskil is nou werk hulle vir die ANC, pleks van die NP. O ja, die NP onder Marthinus het mos met die ANC saamgesmelt; skielik maak alles sin.
Suid-Afrika is kwalik 'n liberale demokrasie met vryheid van spraak. Nie net beskik die regerende party feitlik oor 'n mediamonopolie nie, met ANC-gesindes wat op die rade en in die bestuur van al die groot mediagroepe, asook natuurlik die SAUK, dien nie, maar op die vooraand van die Sokkerwêreldbeker wil die staat, en natuurlik Fifa, alle dissidensie en kritiek oor misdaad en minderheidsverdrukking in die kiem smoor.
Die staat en sy skaduagtige handlangers wat alles lees wat ons skryf, ons telefone afluister, ons e-posse onderskep, ens., is besig om - soos in die ou Sowjetunie en ander kommunistiese lande - te probeer om alle inligting te beheer en sal ook teen dissidente optree, hulle verdag maak, hulle webwerwe probeer kraak, ens. (Vroeër vanjaar het krakers knaend virusse op PRAAG se webwerwe geplant en het die virusse veroorsaak dat ons tydelik deur Google as 'n "aanvalswebwerf" geklassifiseer is en ons posisies op die soekenjin se ranglyste verloor het. Gelukkig beskik ons oor die tegniese kennnis om die probleem vinnig te kon oplos.)
Die groot ironie is dat van die anonieme en minder anonieme briefskrywers op ander webwerwe in die waan verkeer dat "die Nuwe Suid-Afrika" soveel anders is as die Oue. (Wel, natuurlik het ons nog water en ligte in die Ou Suid-Afrika gehad, anders as Witbank wat van naam verander het en nou reeds drie dae sonder water verkeer, dus is daar reële verskille.) Dieselfde "liberale" mense wat hierdie korrupte, misdadige stelsel wat deur 'n plunderende mafia beheer word, in die naam van "demokrasie" ophemel, pleit sommer in dieselfde asem dat mense soos Uhuru Guru of ek "stilgemaak" - doodgeswyg of erger - moet word. Verstaan sulke mense enigiets van, hetsy demokrasie, hetsy liberalisme? Die idee van "meer as een waarheid" of Voltaire se: "Ek stem nie saam met u nie, maar ek sal u reg om dit te sê tot die dood toe verdedig."

Ek glo nie eintlik al die praatjies oor die sogenaamde ANC-"struggle" wat die ander media vir ons opdis nie, want dis alles met Britse en Sweedse geld, asook opleiding en manipulasie deur vreemde moondhede van buite, gedoen. Soos die Sweedse ambassadeur op 27 April 2004 op RSG gesê het: "Sonder Swede, sou die ANC nooit aan bewind gekom het nie."

Daarteenoor is die stryd wat ons nou voer, geen "Made in England"- of "Made in Sweden"-struggle nie, maar 'n regte egte, inheemse, spontane beweging teen 'n kleptokrasie wat ons kultuur onderdruk en anderpad kyk terwyl ou tannies se vingers met snoeiskêre afgesny word, ons vroue verkrag en ons elke dag afgeslag word.

No comments:

Post a Comment