Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Thursday, October 29, 2009

Die kroonprins

Geskryf deur Dirk Uys,

Suid-Afrikaners kan bevoorreg voel. Nie net het ons die beste rugbyspan ter wêreld nie, maar gister het ons boonop verneem dat ons ook oor die beste jeugbeweging op die planeet beskik. Floyd Shivambu, segsman van die ANC-jeugliga, meen dié organisasie is “die mees formidabele politieke jeugbeweging, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook op die hele vasteland en in die wêreld.” Die jeugliga se “vreesloosheid, dinamika en onverbiddelike fokus op ontwikkeling” onderskei hulle van al die ander. Aldus Shivambu.

Aan die hoof van die ANC se jeugbeweging staan Julius Malema, wat eweneens deur sy lofsanger besing is, omdat hy “die armes en verdruktes” help.


Shivambu is in goeie geselskap. Oor die afgelope naweek het president Jacob Zuma besoek afgelê in Seshego in die Limpopo-provinsie, die houtwerk Wunderkind se tuisdorp. Hy het tydens hierdie geleentheid Malema geloof vir sy begrip van mense. Hy sien hom as “’n goeie leier wat mense verstaan.” Ouer ANC-leiers is volgens Zuma dankbaar om te weet dat hulle die party in mense soos Malema se bekwame hande kan laat.


Mandy Rossouw en Max du Prees het pas ’n boek oor hierdie kontroversiële jeugleier laat verskyn, getiteld The World according to Julius Malema. Du Preez meen dat Malema verteenwoordigend is van ’n nuwe generasie in die ANC en sien hom as ’n moontlike presidentsfiguur in die toekoms.


Julius Malema word dikwels deur blanke Suid-Afrikaners as ’n soort hanswors gesien. Hier is die man wat immers na Helen Zille as “’n lelike dogtertjie” verwys het, wat onderneem het dat hy en sy vriende “sal doodmaak vir Zuma” en wat verkragting skynbaar nie ernstig opneem nie. Hy meen verder dat die myne genasionaliseer moet word en dat daar geen onaansienlike vroue in die ANC is nie. En wie het nie geglimlag toe ons sy reaksie ’n tydjie gelede gelees het oor die 14 verkeersboetes wat hy nog nie betaal het nie? “Ek ken net revolusie, ek weet niks van motorbestuur nie,” het hy verontwaardig aan die joernalis gesê wat hom hieroor uitgevra het.


Dit is maklik om jou oor sulke lomp geformuleerde, banale sêgoed te verkneukel. Wat dit egter kommerwekkend maak, is om te besef hoe groot die man se aanhang is. Hy is beslis nie maar net ’n gemarginaliseerde figuur wat binne die ANC verdra word nie. Die gang voor sy kantoor is volgens koerantberigte bedags gevul met dosyne mense wat die ANC-jeugleier kom sien as hulle nêrens anders reggekom het nie, in die hoop dat die ANC-boelie met ’n paar skuiwe hulle probleme sal oplos. Hy ken skynbaar vele van die ANC-hoëkoppe se geheime en hy huiwer nie om sy “kennis” te gebruik om sy sin te kry nie.


’n Paar dae gelede het Malema aan ’n openbare debat oor die onderwerp van die moontlike nasionalisering van myne deelgeneem. Tydens hierdie byeenkoms het hy sy medesprekers, Kuseni Dlamini (voormalige uitvoerende hoof van Anglo American) en Tim Cohen (joernalis) onder die tafel ingepraat. Vir 52 minute het hy voortgeteem. Hy het soos gewoonlik vele belaglike stellings gemaak, soos om te sê dat nasionalisering meer beleggers na Suid-Afrika sal lok en dat die mynboubedryf sal aanhou belé in die land omdat dit so veilig en vreedsaam hier is.


In 2008 het die mynbedryf ’n inkomste van R405 miljard gegenereer, maar moes R409 miljard uitgee. Sal die staat bereid wees om hierdie verlies te dra? Daarop het Malema natuurlik geen antwoord nie.


Dit was egter interessant dat sy woorde opgeslurp is deur die oorwegend jong, swart studentegehoor. Waarom sal sogenaamde intelligente jongmense met openlike bewondering na sulke onsinnighede luister?


Die antwoord hierop is dat Malema die kaart van die onderdruktes meesterlik speel. Hy kan hierdie snaar vir ewig tokkel en wakker so die emosies van swartmense aan.


Tydens sy diskoers oor nasionalisering het hy byvoorbeeld na die armoede in Sekukuni verwys. Al die rykdom wat plaaslik uit platinum gemaak word, word volgens hom na elders versprei en die plaaslike bevolking trek geen voordeel uit die minerale opbrengs nie. Al wat hulle het, is paaie met slaggate, deur die mynvoertuie veroorsaak…


Hy kan die saak van die “underdog” meesterlik verdedig. Jong, gefrustreerde swartmense wat nog nie kon “skep” uit die rykdom om hulle soos die ouer generasie nie, herken hulleself in hom. Hy verdedig vir Caster Semenya en omskep dit in ’n rassesaak waarin die apartheidspook weer loop. Hy insinueer dat blankes nie in die land welkom is nie. Hierdie gewaagde taal maak hom gewild by ’n jong generasie wat toenemend gefrustreerd is omdat hulle uitgesluit word uit die formele werksektor weens gebrekkige kwalifikasies en ervaring.


Die feit dat hy in ’n oorwegend blanke woonbuurt bly, Armani-jeans dra en in ’n swart Mercedes C350 ry, pla sy aanhangers nie. Hy verteenwoordig naamlik dit waarna hulle aspireer.


Julius Malema mag dalk nie die slimste skoolleerling gewees het nie, maar dis duidelik dat hy op die politieke toneel vir homself ’n perfekte nis gevind het.


En vir diegene wat steeds dink dat ons jeugleier nie oor die nodige intellektuele kapasiteit beskik om president te word nie, wil ek net daaraan herinner dat die huidige president van Suid-Afrika ’n voormalige beeswagtertjie sonder enige formele skoolopleiding is…

1 comment:

  1. http://www.youtube.com/watch?v=ljTROelBiA8

    ReplyDelete