Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Tuesday, August 4, 2009

Staat moet begin opdok vir skade

Geskryf deur Henk van de Graaf , TLU SA

Die aankondiging dat die Departement Grondsake se geld op is, dat hy nog drie jaar tyd en nog miljarde rande nodig het vir die afhandeling van restitusie eise, is onaanvaarbaar, in die lig van boere wat as gevolg van die patetiese afhandeling van die proses, geweldige skade lei en in talle gevalle bankrotskap in die oë staar, of reeds bankrot verklaar is.

“Die tekort aan geld het tot gevolg dat ooreenkomste wat die staat met boere gehad het om hulle grond te koop, nie verder gevoer word nie, en boere loop die gevaar om alles te verloor,” sê mnr. Ben Marais, TLU SA se president.

Die Streekbestuurder van TLU SA se Oos-Streek, mnr. Piet Kemp, sê in dié verband dat hy met werklike voorbeelde sit van boere wat moes afskaal as gevolg van ooreenkomste wat die staat aangegaan het met boere rakende die koop van hulle grond. Skielik het die staat nie meer geld nie, die ooreenkomste word nie verder geneem nie, geen formele kontrak word opgestel nie en skuldeisers begin toeslaan en boere verloor alles.”

TLU SA het nou besluit dat hierdie onaanvaarbare toestand nie verder straffeloos kan voortgaan nie. “Ons het reeds ‘n gedugte regspan genader wat reeds ondersoek instel na die moontlikhede, en ‘n eerste toetssaak sal waarskynlik binnekort voor die hof dien waar ‘n boer die staat dagvaar vir die skade wat hy gelei het as gevolg van onafgehandelde grondeise, sê mnr. Marais.

“Ons boere kan nie nog drie jaar wag nie, veral in die lig daarvan dat daar geen versekering is dat die finansiële posisie van die Departement Grondsake gaan verbeter nie, en in die lig van die geskiedenis van swak administrasie en herhaaldelike vertragings, is ons ook nie seker dat die Staat in drie jaar die uitstaande sake kan afhandel nie. Dit kan nie gedoog word dat nog boere skade moet ly nie, en TLU SA doen ‘nm beroep op al die boere wat reken dat hulle skade gely het as gevolg van onafgehandelde grondeise, om met enige van TLU SA se kantore kontak te maak sodat moontlike eise teen die regering ondersoek kan word, en verder gevoer kan word in verdienstelike gevalle.

Bron: TLU SA

No comments:

Post a Comment