Geskryf deur Dirk Uys,
Ek was die naweek in die Vrystaat-provinsie. Nie almal het waardering vir die besondere skoonheid van hierdie strakke landskappe nie, maar ek moet bieg dat die geel grasvelde en ooptes my nogal trek. ’n Mens word hier kort-kort boonop ook herinner aan die roemryke geskiedenis van die provinsie.
’n Besoek aan Onze Rust, voormalige tuiste van president MT Steyn, herinner mens akuut aan die gebrek aan leierskap in huidige geledere. Terwyl ek onder die reuse-bome rondgeloop het, wat voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog deur die president self geplant is, het ek weer teruggedink aan hierdie merkwaardige man, wat ná die val van Bloemfontein in Maart 1900 hom sonder skroom by sy burgers aangesluit het as ’n gewone kommandolid. Hy het daarop aangedring om, soos hulle, sonder soldy te veg en het al die ontberinge in die veld saam met hulle meegemaak. Hier was iemand wat vroeër in Nederland en Engeland in die regte gaan studeer het, wat aan die beter dinge in die lewe gewoond was, maar wat nie gehuiwer het om soos ’n gewone soldaat te lewe nie. Hy het geweldige ontberinge en spanning ontbeer, soveel so dat hy met die begin van die vredesonderhandelinge in 1902 verlam geraak het en intensiewe behandeling vir ’n paar jaar lank moes ondergaan om sy liggaamlike kragte te herwin.
Hier was ’n man wat tot heel aan die einde hom vir vrede tussen die Boererepublieke en Brittanje beywer het, maar wat, toe die skrif aan die muur was, hom verbete in die vryheidstryd gewerp het en selfs van tyd tot tyd die wankelmoedige Transvalers moes vermaan as hulle moed verloor het en wou opgee.
Met die terugry na Johannesburg het ons op die ingewing van die oomblik besluit om Rooiwal te besoek. Hoeveel mense ry daagliks hier verby en dink nie meer aan die heroïese dade wat hier plaasgevind het nie! In Junie 1900, toe die Boere baie mismoedig was oor die voorsetting van die oorlog teen die Engelse, het genl Christiaan de Wet by Rooiwal beslag gelê op enorme hoeveelhede Britse ammunisie en voorrade. Danksy hierdie buit het die Boere weer moed geskep en kon hulle lank daarna nog aan die lewe bly, ondanks die vernietigende verskroeide aardebeleid van die Britte, wat hulle van kos en ammunisie ontneem het.
In April 1902, met die vredesonderhandelinge om die draai, het die laaste groot slag van die Anglo-Boereoorlog ook hier by Rooiwal plaasgevind. Die Boere het uit die staanspoor ’n onmoontlike situasie in die gesig gestaar. Die Britte was goed ingegrawe aan die oewers van die Brakrivier, terwyl die Boere uit oop vlaktes en ’n mielieland moes aanval. Die dapper aanvoerder, kommandant Potgieter in sy helderblou hemp, het ’n heldedood gesterf.
Genl Ian Hamilton, Britse aanvoerder, het later soos volg oor hierdie veldslag geskryf:
"Potgieter, foremost of the brave; leader of the burghers of Rustenburg, West Pretoria and Krugersdorp, Potgieter in his blue shirt leading a line of 1 200 Boers - pick of the backveld - at a steady canter, over ground that could not give cover to a mouse. Straight a mile and a half in bright sunlight, at a massed column of 1 500 British bayonets and another similar massed column standing by support. Every rifle, pom-pom and field gun that can be brought to bear is firing for dear life. The charge of the Light Brigade at Balaclava was child's play to this! Miraculously, incredibly, on and on they come until Potgieter falls with a bullet through his brain only seventy yards from the centre of the Scottish Horse. When we buried these heroes we did so as reverently as if they had been comrades."
In hierdie stadium van die oorlog was dinge reeds min of meer verby. Baie Afrikaners het uit moedeloosheid al die wapen neergelê of selfs by die gehate National Scouts aangesluit.
En tog het Potgieter en honderde ander vreesloos voortgeveg. Teen die einde van die Anglo-Boereoorlog was daar maar ’n handjievol burgers nog in die veld. Hulle het besef dat hulle na murasies sou terugkeer en dat hulle gesinne in baie gevalle reeds dood was in konsentrasiekampe. Tog het hulle nie moed opgegee nie.
Ons hele geskiedenis is as ’t ware die verhaal van ’n minderheidsgroep teen ’n oormag. Ons durf nie moed verloor en in sak en as gaan sit nie. Die uitdagings wat Afrikaners in die Nuwe Suid-Afrika in die gesig staar, neem tans net ’n ander vorm aan as tydens die Groot Trek of die Anglo-Boereoorlog.
Hoeveel van ons het nog die moed en onverskrokkenheid om in die spreekwoordelike helderblou hemp die vyand openlik die stryd aan te sê? Laat die geskiedenis van die dapper Vrystaters vir ons as inspirasie dien...

No comments:
Post a Comment