Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Monday, July 20, 2009

Hoe het jy jou 67 minute op Mandela-Dag spandeer?

Afrikaner perspektief: Geskryf deur Dirk Uys

Nelson Mandela, voormalige terroris en president van Suid-Afrika, het gister 91 geword en ’n
aanbiddende wêreld het tot stilstand gekom.

In New York is ’n liefdadigheidskonsert gisteraand gehou waar sangers soos Gloria Gaynor, Carla Bruni-Sarkozy, Stevie Wonder en ander opgetree het. Hollywood-sterre soos Morgan Freeman en Matt Damon, asook Bill Clinton, het die geleentheid ondersteun.

Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het Vrydag eer betoon aan die Suid-Afrikaner deur hom te beskryf as “’n lewende voorbeeld van die beste waardes van die Verenigde Nasies.”

Eerbetoon het van oral ingestroom. Duisende mense het mekaar in Mandela se dorpie, Qunu, in die Oos-Kaap, vertrap. Naby die oudpresident se Houghton-woning het skares joernaliste uitgekampeer in die hoop om ’n foto van die ou man te neem.

Mac Maharaj, oudstryder en voormalige ANC-minister, het Mandela se lof besing deur hom as “groter as ’n mens” te beskryf. Volgens hom het Mandela nou in ’’’n idee” verander.

Kgalema Motlanthe, adjunkpresident, het verder heuning om die mond gesmeer toe hy gister ’n skare by die Mandela-feesvieringe in Newton, Johannesburg, toegespreek het : “Madiba het van hierdie wêreld ’n beter plek gemaak. Laat ons sy selfvertroue, sy nederigheid, sy vasberadenheid, sy krag en sy visie nastreef. Hy het 67 van sy beste jare in die diens van die mensdom afgestaan. Ons durf hom nie faal nie, want dit sou neerkom op verraad van sy nalatenskap - wat ’n misdaad teen ons nageslag en die geskiedenis sal wees.”

Jacob Zuma, huidige president van Suid-Afrika, het die volgende vroom woorde in Ivory Park geuiter, waar hy die dag saam met bejaardes deurgebring het: “Ons moet aanhou om saam te werk teen rassisme, seksisme en vreemdelingehaat. Ons moet ook verbeter ten opsigte van die diensleweringsaspekte wat ons oor die afgelope vyf jaar geprioritiseer het.” Hierdie uitspraak kom, interessant genoeg, te midde van toenemende berigte oor plaaslike munisipaliteite wat ineenstort.

Mense is wêreldwyd aangemoedig om 67 minute op Mandela-dag aan “onbaatsugtige gemeenskapshulp” te spandeer.

Het die wêreld in sy desperate soeke na ikone met ’n bietjie meer substansie - wat nie noodwendig die nuutste “it bag” dra of met ontwerperstoppelbaarde op Cannes se rooi tapyt rondparadeer nie - nie maar net op Mandela besluit vir die verkeerde redes nie? Hier is iemand wat retoriek oor versoening tot ’n kuns ontwikkel het; iemand wat besef het hoe om die Westerlinge met hulle skuldgevoelens oor hul aandeel aan kolonialisme en apartheid emosioneel en finansieel uit te buit.

Watter beter wraak kon enigeen beplan?

No comments:

Post a Comment