Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Sunday, June 14, 2009

Johan Willemse lewer repliek op JH du Toit

Bron: http://groups.yahoo.com/group/praag/message/45592

Vriende,

Ek sal graag reageer op vriend J.H. du Toit se Vonkpos, hoewel ek van mening is hierdie gesprek raak nou meer partypolitiies as taalgerig; die moderator moet maar beslis of ons die gesprek moet begin kortknip of dalk na privaat vonkposse oorskakel. Solank dit nog van belang vir die Praag-lede is, sal ek met graagte reageer en waar nodig kundiges kry om die antwoorde te verskaf.


Die aspek van Selfbeskikking is volgens Vryheidsfront Plus 'n beleid wat op twee bene staan;

aanvanklik word daar gekonsentreer op gemeenskapsregte, dus taal onderwys, beskawingsnorme, gesondheid ens. Hierdie regte van die Afrikaner (waaronder ook sekere gedeelde regte van die Afrikaans--sprekendes of Afrikaanses) word deurlopend voor beding. Daar is ook sekere strategiese skuiwe wat in werking is en beplan word, om beter bedingingsmagte te bewerk, asook sekere regte te begin verskans;

die tweede been is een van territoriale selfbeskikking. Hierdie saak is baie meer kompleks, maar beslis nie op die langebaan geskuif nie. Daar word indringend druk uitgeoefen om hierdie aspek meer prominent na te streef. Reeds is bepaalde Groepunte deur die land geidentifiseer, waaronder Kleinfontein en Orania. Hierdie is beslis nie Volkstate in die kleine nie, maar, beslis in die geval van Orania, veel eerder proefstasies om te bepaal of ons Volksgenote selfwerksaam genoeg is om sonder vreemde arbeid 'n bepaalde gebied doeltreffend kan bewerk. Daar is ook reeds op internasionale vlak vir die Afrikaner 'n spreekbuis geskep toe VF+ die Afrikaner as 'n Onverteenwoordigde Volk geregistreer het. Ons het nou reeds deur daardie weg inspraak tot in die hoogste internasionale forums. Die ideaal van 'n eie grondgebied is nog op die boeke, maar waar is ons Volkie die meerderheid in 'n bepaalde grondgebied binne die R.S.A.? Ons wil dinge opeis, maar wie is bereid om daarvoor op te offer. Ons mense wil nie na enige gebied buiten hul huidige eiendom (plase) trek nie, dus is die eerste been wat vermeld is, nog die mees praktiese om nou aan aandag te gee.

Oor die Skorsing van Cornelius kan ons nie beding nie. Daar kan oor aspekte wat hy in aanloop tot die skorsing geopper het, gedebatteer word; dit is dalk nodig.
Oor die aksie van sy skorsing sal ons gesprek voer sodra die prosedures afgehandel is. Dalk word die skorsing gehandhaaf of dalk word die skorsing opgehef. Kom ons kyk wat gebeur voor ons ons beste Pep-onderbroekies benat. U beweer die proses is ondemokraties en dat VF+ ondersteuners die versoek moet verontagsaam. My vriend, waar ons 'n billike regsuitspraak rakende 'n bepaalde saak verlang; gaan u die Regter in die media aanvat en voorskryf wat hy in sy uitspraak moet beslis en wat oorweging moet kry? In ons beskaafde struktuur en beskawingskultuur word die regspraak gelos vir diegene wat daartoe geskool is en binne bepaalde parameters optree. Kom ons volstaan in hierdie geval ook daarby?

Ek kan u verseker VF+ is nie 'n Party waar sekeres aan die res voorskryf wat om te dink nie. Ons is 'n Party van Afrikaners, en glo my vry, die Afrikanervolkie is 'n Volk van hardekoppe. Hulle laat hulle nie voorse nie. In die Federale Raad is dit dan ook die gebruik dat sake deeglik dertrap en bespreek word alvorens 'n besluit geneem word. In die meeste gevalle is dit 'n Konsensus besluit, maar waar verskille na gesprekvoering nog bestaan, word 'n demokratiese verkiesing gehou en die demokrasie heers.

U kan ook gerus wees dat die Federale Raad nie deur Beroepspolitici oorheers word nie. Elke Provinsie beskik oor 'n gelyke getal verkose verteenwoordigers, wat elke twee jaar demokraties deur die betrokke Provinsiale Partyraad verkies word. Ek kan u verseker dat nuwe bloed gereeld inkom wat drukgroepvorming in sy kanon in jaag. Ook is dit insiggewend dat die ouderdom van lede in die Federale Raad nie vashaak in die oor vyftig nie, maar toenemend lede in hul dertigs en veertigs insluit.

In jou skrywe lug jy 'n verdere bekommernis oor die wyse van stemmery tydens dr Mulder se benoeming tot adjunkminister. Die Federale Raad kon uiteraard nie byeen geroep word binne een nag nie, en die Uitvoerende Dagbestuur het toe in twee telefoonkonferensies die benoeming bespreek. Geeneen van hierdie manne laat hulle ompraat of intimideeer nie, daardie versekering kan ek jou gee. Dit het heeltemal genoeg kere gebeur dat elkeen van hulle sterk standpunt inneem oor 'n saak waar die ander nie noodwendig mee saamstem nie, en logika of stemming het dan die deurslag gegee, intimidasie nog noooit sover ek kon waarneem nie, en ek is sedert 1994 deel van die betrokke forum. Diegene wat jou van die teendeel wil oortuig, is skynheilige swartsmeerders.

Daar is genoeg vrydenkende asook geskoolde politici, akademici en Boereafrikaners verteenwoordig in die Federale Raad dat 'n kliek nie die vergadering sal kan kaap nie. Wees dus gerus. Ek reken Dan sal na sy bywoning van die afgelope Federale Raad kan getuig dat daar groot eensgesindheid is, maar verseker ook verskil van opinie. Daar word relatief min gestem in die Federale Raad, en meestal is dit dan met handopsteek. Waar iemand beswaar aanteken, sal daar met stembriefies gestem word. Hierdie is normaalweg die prosedure waar persone en posisies in gedrang kom. Die meeste gevalle word egter deeglik bespreek en 'n konsensusbesluit word dan geneem.

Soos ek voorheen gemeld het, VF+ is 'n Volkstaat-party. Dit is die hoofprys waartoe ons werk. Indien u enige kortpaadjies identifiseer, stel ons asseblief in kennis, ons kan alle kundigheid gebruik aangesien so veel van ons Volksgenote skynbaar nog lam in die knie is en nie veel omgee of die Liberaliste, die Kommuniste of dieAntichris ons land regeer nie. Sodra hulle wakkerskrik, en ek vertrou u sal help om van hulle wakker te skud, kan ons die voertuig op pad na terretoriale selfbeskikking in 'n hoer rat oorplaas. Terloops, stadstate is van die modelle wat deur VF+ bespreek en oorweeg word.

U skryf heelwat oor die vaagheid wat ons uitstraal oor selfbeskikking. In 'n land waar die owerheid grootliks uit oud-terroriste bestaan mag dit dalk onwys wees om luidkeels aanspraak op 'n eie land te maak. Neem die Boeremag as voorbeeld en dink mooi. Ons werk binne die wet en werf buitelandse druk sover moontlik om die groepsregte waarop ons aanspraak maak, te verkry. Daarna kan ons voortgaan en meer regte opeis tot ons die koek kry en weer 'n eie Vaderland onder ons eie vlag en kultuureie regering kan verkry. Ek reken u moet aanvaar dat hierdie situasie hom leen tot die proses van "Haas jou langsaam".

U vra oor geografiese gebiede. Die destydse Volkstaatraad het sodanige gebiede en vereistes vir so gebied bepaal. Besetting van 'n geografiese gebied kan net gebeur waar die Afrikaner in die meerderheid is. Ons mense sal self moet vestig waar hulle wil wees, en dan volksvreemde arbeid sover moontlik uitskakel. Luiaards sal nie in so Volkstaat oorleef nie, Dit is hoekom Orania as Proefstasie gevestig is; in daardie aspek slaag hy 100% in sy doel.

In enige munisipaliteit waar ons inspraak het, word beding vir regte van ons mense. Indien u bereid is om te WERK vir u Volk, kontak u plaaslike strukture en verklaar u bereid om te staan in die Munisipale verkiesings. Ons kan goeie dinamiese mense, wat die droom van selfbeskikking nastreef, beslis gebruik. U sal egter nie mag moedverloor as sake nie vorder soos u graag sal sien nie; dit is 'n stryd wat bladsy vir bladsy geveg word, en al wen ons meeste, is daar wel die waar ons die onderspit delf. Dan word die strategie aangepas en die stryd heel dikwels van vooraf voortgesit. U skryf self dat sonder 'n eie gebied ons nooit vry sal wees nie. Ons kan egter werk om die regte op pad na daardie vryheid deurlopend fraksie vir fraksie vermeerder. Die einddoel bly steeds dit waarna ek en u streef. Soos ek gese het, indien u beter en vinniger maniere identifiseer, wat haalbaar is, kom gerus en lig ons in.

Wat dr Mulder se posisie as adjunkminister behels: daar is reeds winste vir die Party en die Afrikaner in die algemeen. Een besondere pluspunt is die positiewe gees wat dit in die Landbougemeenskap skep waar ons boere nou iemand het wat hulle mee kan vereenselwig om hulle spreekbuis in die hoogste forum van ons land se regering te wees. Die skielike goedgesindheid wat van ons Raadslede ondervind in munisipaliteiete het ook tot frustrasie van DA Raadslede net na die bekendmaking van die Kabinet 'n aanvang geneem. Ons mense kla nie, waar die pad gelyker is, kan hulle vinniger stap.

Ek vertrou ek het van u uitvoerige vrae beantwoord.

Johan Willemse

No comments:

Post a Comment