Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Showing posts with label Korrupsie. Show all posts
Showing posts with label Korrupsie. Show all posts

Sunday, November 15, 2009

MET DIE SNOET DIEP IN DIE TROG

Geskryf deur Dirk Uys,

As Suid-Afrikaners het ons al blasé geraak oor berigte ten opsigte van korrupsie binne staatsdepartemente en ook op plaaslike regeringsvlak. Die semi-staatsinstellings maak egter toenemend ’n entoesiastiese bydrae in hierdie verband en beland sodoende onder die vergrootglas.

Die huidige Eskom-krisis het sedert gister vir my ’n heel praktiese dimensie aangeneem. Die instansie in die Vaaldriehoek waar ek werk is naamlik al van gisteroggend sonder krag. Niemand weet hoe lank dit gaan duur nie en die munisipaliteitsfone word nie beantwoord nie.

Eintlik is dit simbolies van die drama wat hom tans by Megawattpark afspeel. Die een oomblik was Jacob Maroga nog die grootbaas, die volgende oomblik het hy bedank, en so het die absurde verhaal dae voortgeduur. Volgens die nuutste inligting het senior bestuurslede die Eskom uitvoerende hoof in ’n brief boonop daarvan beskuldig dat hy nuus oor die instansie se astronomiese tariefverhogings met opset teruggehou tot ná die algemene verkiesing vroeër vanjaar, ten einde nie die ANC se kans by die stembus te beduiwel nie.

Sowat twee weke gelede het Maroga ’n strategiedokument vir Eskom opgestel. Hierin erken hy dat Eskom hulle kontantvloei-situasie erg onderskat het. “Die huidige realiteit van ons kontantvloei bewys dat ons siening van vier jaar gelede erg onakkuraat was. As ons nie die hoofoorsake van hierdie gebrek dissekteer en doeltreffend korrigeer nie, gaan ons dit (die fout) herhaal, tot nadeel van die land.”

In plaas van om self ten minste ’n gedeelte van die blaam te neem vir wat binne die instansie verkeerd gegaan het, kla Maroga dan in die dokument oor die gebrek aan openlikheid en deursigtigheid binne Eskom. Daar word te veel staatgemaak op konsultante om die werk gedoen te kry. “Die sienings van wit deskundiges van buite dra meer gewig in sekere kringe as die opinies van ervare swart bestuurders,” meen hy verder. Hy kla dat daar nog nie genoeg swart bestuurders aan boord is by Eskom nie en verwys na “tegnokratiese arrogansie, ’n apartheidstyl toesighouermentaliteit, gebrek aan deursigtigheid en geheimhouding.” En dan die finale hou: “Eskom kan nie binne die nuwe demokrasie funksioneer sonder ’n fundamenteel geherstruktureerde kultuur nie.”

Dit is interessant dat Maroga nie eenmaal na homself en sy gebrekkige leierskap verwys nie. Dit is immers onder sy septer dat die land verlede jaar biljoene rande se verliese gely het weens grootskaalse kragonderbrekings. In enige Europese land of die VSA sou so ’n amptenaar uit skaamte in sy swaard geval het. Maar nee, Maroga het rustig voortgegaan en selfs verlede jaar ’n allemintige 27% salarisverhoging vir sy onbekwaamheid ontvang.

Volgens Maroga en sy ondersteuners is die hoofsondebok hier die gerieflike verskoning van rassisme, asook Eskom se sogenaamde onvermoë om by die “nuwe demokrasie” aan te pas. Die feit dat soveel konsultante gebruik word, is vir enige leek voor die hand liggend. Die gebrek aan ervaring in die organisasie noodsaak die aanstelling van blanke deskundiges, dieselfde persone teen wie Maroga egter te velde trek. Indien Maroga ’n poging aangewend het om die ervare blanke amptenare in die organisasie te behou, was daar nie vandag ’n noodsaak vir hulp van buite nie.

Maroga het hom veral verset teen die aanbevelings van Susan Olsen, Amerikaanse energiedeskundige, wat hom ses maande voor verlede jaar se elektrisiteitskrisis gewaarsku het oor die faktore wat die instansie kon laat ineenstort. Maroga maak haar verslag in sy strategiedokument van nou die dag egter af as tipies van die “wit toesighouer fenomeen” by Eskom.

Hy is natuurlik heftig gesteun deur die Black Management Forum en die ANC-jeugliga, wat almal rassisme bygesleep het in hulle steun aan die Eskom-baas.

Binnekort moet Eskom die nodige fondse vind vir hulle R385 miljard uitbreidingsprogram. Die feit dat die Eskom-raad en die regering nie meer ’n behoorlike verstandhouding het nie, kan ernstige gevolge vir die energieverskaffer hê. Groot instansies sal huiwerig wees om in hierdie konteks geld aan Eskom te leen.

Bobby Godsell, wat ’n onkreukbare reputasie in die sakewêreld het en op grond van sy ervaring die organisasie uit die huidige chaos kon help, het bedank omdat hy nie kans gesien het om met hierdie sirkus aan te gaan nie. Op 23 Oktober nog het hy tydens ’n vergadering met die Eskom-raad sy kommer uitgespreek oor Maroga en sy bestuur wat nie die mas opkom nie. Het iemand geluister?

Ook binne die ander semi-staatsinstansies gaan dit beroerd: die afgelope paar dae berig die koerante oor moeilikheid tussen die direksie van Krygkor en Sipho Thomo, hulle arrogante uitvoerende hoof, SAA het ’n waarnemende uitvoerende hoof nadat Khaya Ngqula moes bedank weens korrupsie, Transnet het ook ’n waarnemende voorsitter én waarnemende uitvoerende hoof, Siyabonga Gama, voormalige hoof van Transnet se spoorvrag-afdeling, staar klagtes van korrupsie in die gesig en die SABC is op soek na ’n nuwe baas nadat die voormalige kaptein van die sinkende skip, Dali Mpofu, belastingbetalers R11 miljoen aan ’n sakgeldjie vir die pad gekos het. Skynbaar gaan ons boonop voortaan ekstra belasting moet betaal om te vergoed vir die miljoene wat onbekwame amptenare by die SABC gemors en gesteel het.

Dan is daar ook die geval van die mynmaatskappy Foskor, ’n filiaal van die regeringsbeheerde Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK). Alhoewel swart ekonomiese bemagtigingswette nie op die staat van toepassing is nie, verkoop die instansie tans 26% van Foskor aan swart ekonomiese bemagtigingsgroepe, terwyl NOK dit 100% finansier. Die varke se snoete is al so diep in die verkrygingstrog dat hulle dit beswaarlik weer gaan uitkry.

Soos Rhoda Kadalie vroeër vandeesweek in Beeld opgemerk het toe sy ’n “kameraad” aangehaal het : “Onder Mbeki was dit korrupsie; onder Zuma is dit doodgewoon plundering.”

Al meer politieke kenners en joernaliste gebruik deesdae die uitdrukking “mislukte staat” (failed state) ten opsigte van Suid-Afrika. Die huidige onbekwame dwase wat die regering tot bankrotskap en stilstand dryf, gaan maar net keer op keer deur dieselfde soort imbesiele met identiese onbekwame optrede vervang word, natuurlik op instruksies van die ANC se interne ontplooiingskomitee. Het dit dan nie tyd geword vir “die toesighouers” om daadwerklik terug te keer tot die toneel nie?

Sunday, September 20, 2009

Spoeg en eis - die wit melkkoei sal betaal...

Geskryf deur Dirk Uys,
Die blankes met hulle verbete werksetiek wat bedags sorg vir verkeersknope op Suid-Afrika se hoofweë sit regtig die pot iewers mis.

Daar is inderdaad makliker maniere om aan die lewe te bly. Pas lees ek dat TB-pasiënte in Khayelitsha met ’n vernuftige plan vorendag gekom het om ’n ekstra geldjie in hierdie moeilike tye te maak. Hulle verkoop naamlik van hulle eie spoegmonsters teen R50 – R100 aan gesonde mense wat dit dan by klinieke aanbied sodat hulle kan kwalifiseer vir ’n TB-kaart waarmee hulle geregtig is op ’n tydelike regeringsongeskiktheidstoelae van R1 020 per maand. Volgens een van die mans wat met ’n verslaggewer gesels het, verdien hy sowat R500 per maand. Hy kla egter dat sake nie te goed lyk op die oomblik nie, aangesien daar soveel mense is wat tuberkulose onder lede het. Daar is baie kompetisie.

Hierdie verskynsel is deur John Heinrich, hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Tuberkulose Vereniging, bevestig. Kliniekpersoneel is skynbaar te “besig” om seker te maak dat diegene wat daar aanmeld self die spoegwerk doen. As mens in ag neem dat Suid-Afrika jaarliks sowat halfmiljoen nuwe TB-gevalle lewer, met 78 000 wat elke jaar aan die siekte sterf, besef jy dat hierdie nie maar net ’n vermaaklike anekdote sonder ernstige gevolge is nie.

Ons koerante wemel natuurlik van soortgelyke korrupsie, “geldmaakmetodes” en ander absurditeite. Mens kan wel hieroor giggel, maar die bitter aspek is dat die sowat een miljoen ekonomies aktiewe blankes in hierdie land uiteindelik vir die gelag betaal.

Die vraag is natuurlik of die blanke gemeenskap se naïwiteit, goedhartigheid en swye nie hierdie blatante skelmstreke en ander korrupsie aktief bevorder nie. Net gister gesels ek met ’n sendeling wat onder die dosyne Kongolese motorwagte in Pretoria-Oos werk. Hy vertel my toe met groot opgewondenheid hoeveel van die wagte hulleself “bekeer.” Net daarna vertel hy my toe egter met ’n groot kommerfrons op sy gesig hoeveel die taak hom kos, want soveel van hulle het nie eintlik kos om te eet nie, van die mans verdwyn eenvoudig en laat hulle vroue en kinders sonder ’n inkomste, ensovoorts. Dan wonder mens seker met reg oor die erns van die sogenaamde “bekeringsproses.”

A sucker is born every minute en ons swart landgenote besef dit maar net te goed.

Dan is daar natuurlik die NG Moreletagemeente, wie se indrukwekkende gebou al amper verswelg word deur die plakkers van Plastic View, die plakkerskamp neffens die kerk. Nie net word hulle van kos en klere voorsien nie, maar hulle word deesdae selfs in die kerkgebou gedoop. Niks verhinder hulle dus om as volwaardige lidmate te skep uit die strome van oorvloed van die gemeente se ruimhartige skenkers nie.

Besef mense dan regtig nie wat hierdie minderbevoorregtes se motivering is nie? In die naam van sendingwerk en goedhartigheid open ons deure wat ons nooit weer gaan toekry nie, en loop ons gevaar om in een of ander stadium, soos Jean Raspail dit so treffend in sy roman Le camp des saints, uitbeeld, verswelg te word deur hierdie hordes. Maar nee, ons lees in Beeld en ander koerante wat oor die plakkerfenomeen berig, hoe diegene wat die hand uitsteek se geloof “verdiep” en hoe hartroerend dit is om te sien hoe “gretig” mense die jasse en kos wat uitgedeel word, aanvaar.

Niemand gaan ontken dat daar enorme armoede in hierdie land is nie. Die ironie is egter dat die tradisionele gewers, die blankes, self teen ’n baie vinnige tempo verarm. Sowat twee miljoen van ons is reeds amptelik verarm. Ons gaan binnekort nie van veel nut vir onsself wees nie, laat staan nog vir plakkers en onwettige immigrante.

Die regering se onvermoë om hierdie armoedeprobleem aan te spreek, is eenvoudig skreiend. Deur almoese in die vorm van toelaes uit te deel, glo hulle dat hulle ’n opstand deur die massas kan verhoed. Die probleem is egter dat hierdie massas nie ordentlik opgelei is nie en gevolglik geen sinvolle werk kan verrig nie – nie nou nie, en ook nie oor twintig jaar nie. Die toelaes word dus permanent van aard. In plaas van om miljoene te spandeer aan die pakkette wat tans aan die 13 miljoen hulpbehoewendes uitgedeel word, behoort hierdie mense in ambagte opgelei te word. Die klem moet minder op universitêre opleiding val, wat in elk geval geen outomatiese reg is nie, en jongmense moet geleer word om ambagte te beoefen of entrepreneurs te word wat hulle eie potjies kan krap en nie na die staat kyk vir gifte en gawes nie.

Swart ekonomiese bemagtiging en kwotas in die arbeidsmark het die swart heersers van Suid-Afrika egter oortuig dat hulle met moord kan wegkom. Die gewillige blanke melkkoei word mos vir alles ingespan.

Hierdie kultuur van die-wêreld-skuld-my manifesteer natuurlik op alle gebiede in ons absurde land. Siyabonga Gama, oor wie se kop daar ’n donker wolk hang weens beweerde korrupsie (hy is immers deur Transnet in die pad gesteek ná onreëlmatige tenderprosedures) word nou deur sy regspan met Jacob Zuma vergelyk, wat “onregverdig” vervolg is. En dit is dan juis die probleem. Suid-Afrika het ’n president wat aan bewind gekom het ten spyte van ’n gebrek aan formele skoolopleiding en ongeag klagtes van korrupsie en verkragting. Eenvoudig niks kon in sy pad staan nie.

Die boodskap aan swart Suid-Afrikaners is duidelik: in hierdie land is alles moontlik. En om bedags rond te jaag en te stres oor spertye en ander Westerse uitvindsels is irrelevant. Hier is dinge veel eenvoudiger en brutaal as wat ons wil toegee. Die regering is daar om te voorsien. Sela.

Monday, August 10, 2009

Ope brief aan Julius Malema, voorsitter van die ANC-jeugliga

Geskryf deur Dirk Uys,


Beste Julius

Ons het mekaar nog nie ontmoet nie, maar dit voel vir my al amper asof ons vriende is. Ek sien jou gereeld op televisie - en natuurlik in daardie Nando’s-advertensie waarvan jy nie so baie gehou het nie.

Ek was baie geïnteresseerd in jou uitsprake tydens gister se gesprek met die media. Ons Suid-Afrikaners het gewoond geraak aan die feit dat jy kort-kort iets interessants kwytraak. Wat sou ons tog sonder jou doen in hierdie vervelige land, wonder ek soms?
(Foto: ANC jeugleier en "Afrika-kind", Julius Malema)

Hierdie slag het jy gelukkig weggestuur van daardie nare uitsprake oor verkragting en jou hopelose houtwerkresultate op skool. Hier is ons vir ’n verandering op ernstige terrein. Waarom is die Suid-Afrikaanse ministers van veiligheidsaangeleenthede swart en diegene wat finansies hanteer verteenwoordigers van minderheidsgroepe, wou jy naamlik weet. ’n Weldeurdagte vraag, Julius.

Ek haal aan, net om jou geheue weer ietwat te verfris:

"We [black people] cannot just be reduced to security and the very important issue of economy is given to minorities. Minister of police, minister of intelligence, minister of justice - [they are] all Africans. But in the ecomics cluster, it's minorities."

Jy het hier gereageer op ’n vraag of die ANC jeugliga gelukkig is met die aanstelling van Gill Marcus as die nuwe goewerneur van die Reserwebank.

“We would have expected once again an African child to occupy that strategic position,” was jou antwoord.

"We need to build confidence in the markets that Africans are also capable of handling strategic positions in the economic sector. [The youth will think], because she [Marcus] is white, they [whites] are born like that, there's no way I can be like that."

Ek kan jou op hierdie punt dalk vriendelik - dog beskeie - reghelp. Ek besef dat jy, afgesien van al jou uitsonderlike eienskappe, nie intellektueel begaafd is nie. Nie dat ek jou hiervoor blameer, nie, hoor. Dit is welbekend dat apartheid die speelveld ongelyk gemaak het. Wie weet, as daar nie apartheid was nie, kon jy en vele ander van ons swart medeburgers vandag die atoom gesplyt het, of miskien ruimtevaartuie gebou het.

Julius, kom ons kyk bietjie mooi na jou vraag: gee asseblief vir my ’n paar voorbeelde van “African children” wat hulle al as meesters op die gebied van die ekonomie onderskei het? Ek luister graag, want my kennis is seker ook maar beperk. Die res van die vasteland waarop ek en jy woon, word tog geteister deur ongekende armoede en korrupsie, ten spyte van die feit dat Afrika oor die grootste minerale rykdomme ter wêreld beskik. Om die waarheid te sê, kos korrupsie Afrika sowat 150 miljard dollar per jaar. (VSA-dollar, Julius, nie die Zimbabwiese soort nie). Kan jy enigeen kwalik neem wat begin wonder oor Afrikane se vermoë om geldsake te bestuur? Is dit nie vir jou kommerwekkend dat ’n medeswartman, Barack Obama, Afrika onlangs juis oor die vingers getik het oor hierdie selfde saak nie?
Maar gits, nou begin ek wonder oor my eie argument...is Obama dan nie ’n kleurling nie? En dus ook lid van ’n minderheidsgroep nie? Dalk het jy ’n punt beet, my liewe vriend.

Ek dink Gill Marcus voel waarskynlik baie seergemaak oor die feit dat jy haar nie as ’n “African child” sien nie. Sy mag Joods wees en het nou wel die grootste gedeelte van haar lewe in Brittanje deurgebring, maar sy sal dalk nie met jou saamstem nie.

Ek wonder verder hoe jy die begrip “African child” definieer. As die afstammeling van ’n familie wat al 350 jaar hier gaar gebrand word deur die Afrika-son, het ek regtig gemeen ek is ook ’n “African child.” Ek is dus ’n bietjie hartseer om te verneem dat jy my waarskynlik in dieselfde lig sien as Gill Marcus. Ek neem aan dat jy jou trotse familielyn al in ’n stadium moes nagevors het...van watter sentrale Afrikameer is jy nou weer afkomstig? Of sit ek die pot mis?

Dit het my ook ’n bietjie hartseer gemaak om te sien dat jy beweer swartmense word tot sekuriteitsportefeuljes in die kabinet “gereduseer.” Ek is waarskynlik al weer ’n bietjie deurmekaar, maar ek was dan onder die indruk dat sekuriteit een van die gewigtigste kwessies in ons land was? Met oor die 20 000 moorde per jaar, beklee Suid-Afrika immers trots die nommer een posisie op die lys van lande wat deur misdaad geteister word. Maar o vet, nou besef ek weer dat jy ook hier ’n punt beet het. Die mense wat die kwesbaarste is vir misdaad, en wat op die wreedste wyses vermoor en beroof word, is immers blank en dus nie Afrika-kinders nie. Weer is ek dus verkeerd bewys. Hulle lot is tog nie belangrik nie.

Ag Julius, verskoon tog maar dat ek jou kosbare tyd met my paar powere argumente gemors het. Ek het duidelik nog heelwat om te leer.

Mag jy die langnaweek geniet.

(En onthou die taxigeld vir jou vriendinnetjie Maandagoggend!)

Vriendelike groete

Bra Dirk

Sunday, July 19, 2009

Suid-Afrika se bling-bling WaBenzi-brigade

Geskryf deur Dirk Uys

As ’n bestuurder wat, helaas, genoodsaak is om ure op die hoofweë van Johannesburg deur te bring, is dit opmerklik hoeveel swart Suid-Afrikaners in blink motors rondry. Blanke bestuurders ry oor die algemeen met meer beskeie modelle rond. Die effek van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie is nêrens meer sigbaar as op ons paaie nie.

Pas lees ek van Siphiwe Nyanda, die nuwe minister van kommunikasie, se jongste uitspattige besteding. Hy het dit naamlik goed gedink om twee splinternuwe ampsmotors vir gebruik in Pretoria en Kaapstad aan te skaf. Die twee 2009 750i BMW-modelle het die belastingbetalers R1 135 500.00 elk uit die sak gejaag. Om alles te kroon het Nyanda aangedring op R148 400.00 se ekstra luukses in die twee spogmotors, wat ’n interessante “vermaaklikheidsisteem” ter waarde van R23 400.00 op die agtersitplek insluit.

Net enkele weke gelede het S’bu Ndebele, minister van vervoer, te midde van ’n mediastorm langtand van sy Mercedes-Benz afstand gedoen. Die motor is deur kontrakteurs aan hom geskenk terwyl hy nog premier van KwaZulu-Natal was.

Aan die begin van Junie het Gauteng se nuwe LUR belas met landbou en landelike ontwikkeling, Nomantu Nkomo-Ralehoko, bedank nadat haar man in haar nuwe, onversekerde Mercedes-Benz ML 63 AMF gekaap is. Die saak het ’n verdere wending geneem toe ’n kriminele klag teen een van Nkomo-Ralehoko se amptenare aanhangig gemaak is weens onreëlmatighede met die aankoop van die gewraakte voertuig.

Die arrogante Julius Malema, hoof van die ANC-jeugliga, het verlede week selfversekerd by die gelykheidshof opgedaag in sy Mercedes-Benz E-klas model. Hy moes in die hof verskyn nadat klagtes teen hom aanhangig gemaak is ná sy omstrede uitsprake oor verkragting vroeër hierdie jaar.

Met die April-verkiesing skaars agter die rug, het Limpopo-premier Casel Mathale, wat een van die land se armste provinsies bestuur, uitgestorm om vir hom ’n koningsblou BMW 750i van oor die R1 000 000.00 aan te skaf.

Ian Davidson, hoofsweep van die Demokratiese Alliansie (DA), het onlangs na hierdie spandabelrige ANC-lede as die “kings and queens of bling” verwys.

Dan is daar nog die viertrek Mercedes van Tony Yengeni wat ’n paar jaar gelede opslae gemaak het. En wie kan die rooi Mercedes-Benz 500 SE vergeet wat 18 jaar gelede spesiaal deur Mercedes-werkers vir oudpresident Mandela gebou is?

So kan ons aangaan. Die voorbeelde hierbo genoem is maar ’n paar lukrake episodes wat die Suid-Afrikaanse nuustoneel kenmerk. Waarom hierdie obsessie met Duitse motors? kan mens tereg vra. In ’n land waar armoede mens letterlik op elke tweede straathoek begroet, is sulke uitspattigheid moeilik te verstaan. Kan dit dalk wees dat hierdie parasiete, wat hulleself verryk met die middelklas se suurverdiende belastinggeld, sodoende probeer vergoed vir hulle minderwaardigheidskompleks? Vir die gebrek aan bekwaamheid, hardwerkendheid en basiese intelligensie word met ’n blink voertuig gekompenseer. Onderliggend hieraan is die houding: as ek dan nie vir my verstand en vermoëns gerespekteer kan word nie, laat dit dan ten minste vir my motor wees.

Maar wag, ek beter nou afsluit. My afgeleefde, son-verrinneweerde voertuig maak die afgelope paar dae rammelende geluide wat ek sal moet ondersoek. En die belastingbetaler gaan my ongelukkig nie kan bystaan met die aankoop van ’n blink nuwe viertrekvoertuig nie.

Tuesday, July 14, 2009

Is korrupsie endemies in Afrika?

Afrikaner perspektief: Geskryf deur Dirk Uys

’n Paar nuusbrokke die afgelope tyd het die gedagtes weer aan die gang gesit oor korrupsie in Afrika.

• In Junie vanjaar is Omar Bongo, vader van 70 kinders en president van Gaboen, oorlede. Hy het talle peperduur eiendomme in Frankryk en 70 bankrekenings agtergelaat.
• In die Rapport-uitgawe van 12 Julie 2009 word kommerwekkende berigte oor die omvang van korrupsie in Suid-Afrika gepubliseer.
• Net die vorige dag het Barack Obama tydens ’n staatsbesoek aan Gaboen na korrupsie as een van die grootste probleme wat die Afrika-vasteland teister, verwys.

Omar Bongo se korrupsie was legendaries. Ten tye van sy dood het hy en lede van sy uitgebreide familie oor 70 bankrekenings beskik by Barclays, BNP Paribas, HSBC, Citibank en Société Générale. Citibank het in 1999 ’n ongelooflike 120 miljoen dollar na een van Bongo se rekenings oorgeplaas sonder om eers ’n ondersoek na die oorsprong van die bedrag te loods. Hy het 33 eiendomme in eksklusiewe woonbuurte in Parys en die suide van Frankryk besit. Die klein diktator met sy platformskoene is in die ouderdom van 73 jaar oorlede nadat hy Gaboen vir 42 jaar geregeer en geld uit die land se olie-inkoste in sy eie sak gesteek het. Daar is meer oliepyplyne as geteerde paaie in Gaboen! Bittermin inwoners in die land het baat gevind by die land se natuurlike rykdom.

In Rapport van 12 Julie word berig oor hoe korrupsie ongestoord in Suid-Afrika plaasvind. In die jongste verslag van die ouditeur-generaal is naamlik vermeld dat korrupte staatsamptenare in 21 maande se tyd R607 miljoen uit staatskoffers gesteel het deur tenderkontrakte onregmatig aan hulleself, familielede of vriende toe te ken Nie een van hulle is egter al vervolg nie. Verskeie hooggeplaaste regeringsamptenare trek verder hulle neuse op vir die amptelike wonings wat aan hulle toegewys word en verkies om privaatwonings in luukse woonbuurte teen astronomiese bedrae te huur. Hiervoor betaal die staat - en belastingbetalers - sonder om ’n wenkbrou te lig. Die parlement se staande komitee oor openbare rekenings sukkel ook vir jare al vergeefs om 1 300 senior amptenare so ver te kry om hulle sakebelange te verklaar. En geen minister het nog in hierdie verband opgetree en sy werknemers voor stok gekry nie.

Dit behoort seker niemand te verbaas dat Suid-Afrikaanse amptenare steel nie. Ons het immers ’n president wat bewys het dat sulke wanpraktyke ongestraf gaan.

Barack Obama het miskien die moed gehad om tydens sy pas afgelope besoek aan Ghana op Afrika se eie verantwoordelikheid vir sy probleme te wys, maar hoeveel impak gaan hierdie boodskap hê op ’n vasteland waar selfverryking ’n aanvaarde leefwyse geword het?

In Afrika is dit die verantwoordelikheid van die stamhoof om vir sy stamlede te sorg. Presies hoe hy dit doen, is nie ter sprake nie. Dit verklaar dan ook hoekom Afrikane nie dieselfde visie van korrupsie as Westerlinge het nie. Die doel heilig die middele, by Afrikane, terwyl Westerlinge vrae stel oor die etiese aspek van die werkswyse.

Die vraag ontstaan dan hoe twee sulke uiteenlopende visies in een land (Suid-Afrika) geakkommodeer kan word? Dit word ’n nog erger tamelet as mens in ag neem dat rykdom hier deur ’n minderheidsgroep gegenereer word en dat hulle etiese besware dus nie swaar weeg nie.

Binne so ’n konteks is dit dus nie verbasend dat ’n (blanke) swendelaar soos Carl Niehaus vandeesweek in ’n peperduur pak by ’n perskonferensie kon opdaag en in sy pretensieuse stem vir vergifnis pleit en ’n nuwe werk vra nie. As blanke kon hy tog nie onbeperk skep nie, aangesien hy nie by regstellende aksie kon baatvind nie. Sy struggle-kamerade wat sedertdien in “suksesvolle” sakemanne ontpop het danksy swart ekonomiese bemagtiging en onregmatige tendertoekennings, kom met moord weg. Wat sou hom dan verhoed om ook skaamteloos op te tree? Die logika hiervan behoort niemand te verstom nie.