Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Monday, February 1, 2010

‘n Volksverkiesing

Deur Radio Pretoria

Die Volksverkiesings Kommssie, die VVK, het die naweek aangekondig dat verkiesing van ‘n Volksraad aanstaande jaar gaan plaasvind, en dat dié nuwe Raad op Republiekdag, 31 Mei, aan die Volk bekend gestel en ingestel sal word.

Daardie dag is natuurlik die vyftigste herdenking van Republiekwording, toe Suid-Afrika onder leiding van doktor Verwoerd uit die Britse Statebond getree het en die Republiek onafhanklik gemaak het. Daardie datum volgende jaar is dus inderdaad van pas. Want 31 Mei het geskiedkundig al ‘n soort pendulum geword: 31 Mei 1902 gaan dit sleg met die Boere toe die Vrede van Vereeniging geteken is, en dit die vryheid van die Boererepublieke finaal vernietig het. 31 Mei 1910 kom die Unie van Suid-Afrika tot stand, in wese ‘n Britse poging om die Boererepublieke te laat verswelg in die Britse kolonies, die Kaap en Natal. Dit was ook nie bepaald ‘n sege vir die republikeine van ons volk nie. 31 Mei 1961 was weer ‘n beter dag, alhoewel dié republiek na sommiges se mening nie genoeg met Brittanje gebreek het nie, en so het Engels steeds ‘n amptelike taal gebly, met die Engelse vlag steeds in die landsvlag, en die Engelse kiesstelsel. Maar volgende jaar se 31ste Mei kan dus inderdaad weer ‘n dag van hoop wees vir die herlewing van die republikeinse ideaal.

Voorafgaande aan die totstandkoming van die VVK het kundiges van die internasionale- en volkereg die noodsaaklikheid van ‘n eie verkose gesagsliggaam vir ons volk ingesien, en daarom het die VVK met die registrasieproses vir die verkiesing van die Volksraad begin.

As die Volksraad eers verkies is, is dit nog nie verwesenliking van ons volksrepubliek nie. Dan moet die Volksraad eers met daardie taak begin, vandaar dat ons sê dat 31 Mei 2011 vir ons weer hoop kan gee, want as die Volksraad suksesvol verkies is, is dit nog slegs die hoop op vryheid. Dan moet die Volksraad met sy werk begin, en sonder om nou aan so ‘n Raad voor te skryf, sal hulle waarskynlik dadelik begin om in terme van ons volkslewe te eis vir eie onderwys, veiligheid en ander sake wat ons direk raak. Maar hulle sal waarskynlik ook die internasionale kanale moet volg om druk op die ANC-bewind uit te oefen ten einde ons volk weer vry te maak.

Daar is egter nog baie werk voor voor ons net by die hoop uitkom. Daar moet ten minste ‘n kwartmiljoen volksgenote geregistreer word voordat die verkiesing kan plaasvind. Dit is ‘n enorme taak wat net meer as ‘n jaar tyd het om voltooi te word. Daarom is elke vryheidsbesielde volksgenoot se insette nodig. Sorg dat u geregistreer word. Die VVK-aksie gaan oor partypolitieke grense heen, dit gaan oor kerkgrense heen. Dit gaan oor kultuur-organisasiegrense heen. Daarom wil ons ernstig pleit by elke volksgenoot om nie net self te registreer nie, maar seker te maak dat familie, vriende en bure geregistreer word. Doen moeite om ‘n registrasiebeampte te gaan sien, reël huisvergaderings of groter byeenkomste om die idee, doelwit en proses te verduidelik aan volksgenote en waar hulle geregistreer kan word, en sorg dat ‘n registrasiebeampte teenwoordig is om die mense te registreer.

Hierdie is dalk een van die laaste geleenthede wat ons volk het, want die ANC is besig om sy skroewe teen ons aan te draai, soos blyk uit sy versnelde pogings om ook weer Pretoria se naam te verander. Ons moet die tyd tot ons beskikking gebruik, ons moet hierdie volgende jaar met mag en mening inklim, ons kwartmiljoen volksgenote oproep tot aksie, ons Volksraad verkies en hulle mandaat gee om ons vryheid te kry. Ons kan eenvoudig nie bekostig om hierdie geleentheid te laat verbygaan of te laat misluk nie.

No comments:

Post a Comment