Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, January 15, 2010

Weier om ontwapen te word

Geskryf deur Radio Pretoria

Die ANC-bewind se Minister van Polisie, het weer ‘n amnestietydperk aangekondig waartydens lede van die publiek hulle wapens kan inhandig, sonder dat hulle vervolg sal word as hulle die wapen onwettig in hulle besit het.

Interessant genoeg word daar spesifiek melding gemaak dat mense wat wettige wapens in hulle besit het en dit nie meer wil hê nie, dit ook kan inhandig. Daarvoor is geen amnestietydperk nodig nie, want iemand met ‘n wettig gelisensieerde wapen kan te eniger tyd ‘n wapen by die polisie gaan inhandig vir vernietiging, en het daarvoor geen amnestie nodig nie.

Maar die minister het hom waarskynlik in ‘n oomblik van onbesonnenheid uitgelaat oor die werklike doelwit: dat slegs die gewapende magte, naamlik weermag en polisie, uiteindelik gewapen moet wees. Sy terugkrabbeling later by ‘n mediakonferensie, waar hy gesê het verantwoordelike en wettige wapenbesit sal ook aanvaar word, is dus nie geloofwaardig nie. Die doelwit van die ANC-bewind is om Suid-Afrika ‘n wapenvrye land te maak. Daarom dat daar net so onbesonne en uit sy plek nou spesifiek melding gemaak word dat wettige gelisensieerde wapens ook ingehandig kan word.

Die feit van die saak is dat dit waarskynlik weer eens die wettige vuurwapeneienaars gaan wees wat hulle wapens gaan inhandig, omdat hulle aan die een kant siek en sat is vir die burokratiese rompslomp om ‘n lisensie te kry, of om wapens te laat herlisensieer. Die hele herlisensiëringsproses is steeds in chaos gedompel. Nadat daar ‘n afsnydatum was waarop herlisensiëringsaansoeke ingedien moes gewees het, en mense weer dae in toue daarvoor gestaan het, gebeur daar oënskynlik net mooi niks. Die proses van lisensie uitreiking, vorder teen so ‘n slakkepas, dat daar gevra kan word of daar hoegenaamd enige vordering is. Mense het steeds nie hulle nuwe lisensies nie, en ‘n mens kan net bespiegel wat se chaos sou geheers het as die Wildvereniging nie geslaag het met die hofsaak wat bepaal het dat die ou lisensies, steeds geldig is nie. Waarskynlik sou die meerderheid vuurwapeneienaars oornag onwettige wapenbesitters geword het, wat tog ‘n onhoudbare situasie is. Maar waarskynlik raak mense wat hulle herlisensie-aansoeke ingedien het, en steeds geen taal of tyding daaroor ontvang het nie, nou weer eens bekommerd, en daarom uit moedeloosheid van die minister se aanbod gebruik gaan maak en nou maar die wapens inhandig, want dan is alle probleme opgelos.

Ons is van mening dat dit die verkeerdste ding is om te doen. As die ANC ons wil ontwapen, het hy daar ‘n bepaalde doel mee, want daar is tog geen twyfel oor nie dat dit misdadigers met onwettige wapens is wat misdaad pleeg, en nie wetsgehoorsame burgers met wettige wapens nie. In beginsel behoort ons nie aan die ANC se geheime agendas toe te gee nie.

Die onwettige vuurwapeneienaars gaan nie hulle wapens inhandig nie, veral nie as daar reeds ‘n misdaad mee gepleeg is. Daar is wel amnestie vir vervolging as gevolg van onwettige wapenbesit, maar al die wapens wat ingehandig word, word, heel tereg, ballisties getoets om te bepaal of daardie wapen dalk aan ‘n misdaad verbind kan word. Dit beteken dat moordenaars wat so opgespoor word, wel gearresteer kan word, en geen misdadiger by sy volle verstand gaan sy kop sommer so op die blok sit nie. Daarom dat ons sê dit weer eens die wettige eienaars is wat geteiken gaan word.

Intussen styg geweldsmisdaad steeds, terwyl die polisie se diens verswak. Van al die kragdadige praatjies oor misdaadbekamping, het tot sover dadels gekom. Daarom is dit roekeloos om onsself te laat ontwapen. Geen mens kan ongewapen optree teen dikwels goed opgeleide terroriste met wapens in die hand nie. En daar is bowendien talle voorbeelde waar menselewens gered is, omdat hulle gewapend verset gepleeg het teen misdadigers.

Ons oproep is daarom: moenie u laat intimideer ten einde u te ontwapen nie. Inteendeel: as u dalk reeds ontwapen is, sit tog maar weer die langdradige proses aan die gang, en gaan kry weer ‘n wettige wapen. In ‘n misdaadgeteisterde land, sonder afdoende owerheidsbeskerming, moet die publiek homself beskerm. Kom ons verset ons teen die gepoogde ontwapening en weier om daaraan toe te gee, sodat ons ons daarteen kan verset om dierlik afgeslag, van ons eer ontroof en van ons swaar verdiende besittings beroof te word!

No comments:

Post a Comment