Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, October 23, 2009

Landbou wil nie Mugabe se elektrisiteit subsidieer nie

Geskryf deur TLU SA

TLU SA het reeds sy ondubbelsinnige teenkanting teen enige moontlike elektrisiteitsverhoging te kenne gegee, maar na die bekendmaking van Eskom se jongste jaarsyfers saam met die ontleding van mnr. Mike Schussler oor Eskom se resultate, is TLU SA nog meer van mening dat ‘n 45% verhoging jaarliks vir die volgende drie jaar, totaal buitensporig is.

TLU SA se Adjunk-president, mnr. Louis Meintjes, sê dat as Eskom eenvoudig net begin om die tariewe op gelyke vlak te bring met die tariewe wat die boere nou al lank betaal, sal sy probleem grootliks opgelos word. “Maar dit is tog ongehoord dat Eskom sy produk na die buiteland uitvoer teen ‘n verlies, terwyl die boere vir dieselfde produk binnelands meer as dubbel daarvoor moet betaal.” Volgens die jongste syfers betaal die buiteland 18,5 sent per kWh, terwyl die landbousektor 45,8 sent per kWh betaal. Die uitvoer na die buiteland het ‘n verlies van R1,15 miljard beloop, maar landbou, met sy tarief het ‘n wins van R880 miljoen beloop. “Dit beteken dat die landbousektor waarskynlik Robert Mugabe se elektrisiteitsrekening gesubsidieer het,” sê mnr. Meintjes. “Daar kan ook nie van landbou verwag word om die nywerheidsektor te dra nie.”

“Landbou is nie bereid om ‘n sent méér te betaal vir elektrisiteit nie, bloot omdat hy dit nie meer kan bekostig nie. Waarom moet die boer 45,8 sent per eenheid betaal, terwyl die gemiddeld vir die land slegs 27,63 sent is? As die boere se ongeduld as gevolg van hierdie onbillikheid een of ander tyd gevolge het, het die regering net homself om te blameer, en moenie vir georganiseerde landbou vra om gemoedere te kalmeer nie,” sê mnr. Meintjes.

No comments:

Post a Comment