Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, October 23, 2009

Zille mis die punt

Die onderstaande artikel, deur Helen Zille, beeld uit hoe siek die SA 'demokrasie' werkilik is. Hoewel Zille essensieel nog in hierdie 'demokrasie' en haar party, die DA, glo is daar duidelik nie meer salf aan te smeer nie.

Al hoop vir die Afrikaner is dat ons beheer oor die situasie neem en ons van hierdie Afrika gemors bevry.

Skuld? Onskuld? Dit maak nie saak

2009-10-22 00:38

’n Paar weke gelede het pres. Jacob Zuma mnr. Mo Shaik as hoof van die Suid-Afrikaanse Geheime Diens aangestel.

Mo is die broer van Schabir Shaik – vroeër Zuma se finansiële raadgewer voordat hy skuldig bevind is aan bedrog en korrupsie wat met die wapentransaksie verband hou, en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is.

Mo was ’n diplomaat in Hamburg toe die Mbeki-bewind die korvette-kontrak in die wapentransaksie opnuut beding het.

Dit is daarna toegeken aan ’n Duitse maatskappy wat ’n subkontrak toegeken het aan ’n maatskappy waarvan Schabir ’n vennoot was.

Sy ander broer Chippy Shaik het na bewering omkoopgeld ter waarde van $3 miljoen van ’n Duitse maatskappy gekry.

Voorts het Mo, in ’n poging om Zuma te beskerm teen moontlike vervolging deur adv. Bulelani Ngcuka, destydse nasionale direkteur van openbare vervolging, probeer om Ngcuka valslik daarvan te beskuldig dat hy ’n apartheidspioen was.

Onlangs het die verhoor van mnr. Jackie Selebi, voormalige polisiekommissaris, begin.

Aanklagte van korrupsie en regsverydeling staar hom in die gesig. Mnr. Glenn Agliotti, wat daarvan aangekla word dat hy die sakeman mnr. Brett Kebble se “selfmoord met bystand” help beplan het, is ’n staatsgetuie.


Party is oppermagtig


Aanklagte van korrupsie het Zuma self in die gesig gestaar toe Ngcuka tydens oudpres. Thabo Mbeki se bewind aan die hoof van openbare vervolging gestaan het.

Toe Zuma egter Mbeki as die ANC se leier vervang, het adv. Mokotedi Mpshe, nuwe waarnemende hoof van openbare vervolging, die aanklagte laat vaar. Schabir is op grond van sy swak gesondheid uit die tronk vrygelaat – maar daar was sommer gou berigte dat hy springlewend in Durban opgemerk is.

Daar is ’n onheilspellende patroon in al dié gebeure: Die oppergesag van die reg word deur die oppergesag van die party se bevele ondermyn.

Onder Mbeki is Schabir skuldig bevind, het aanklagte van korrupsie Zuma in die gesig gestaar en het die Hefer-kommissie Mo se poging verydel om Ngcuka te beswadder.

Toe Zuma Mbeki vervang, is Schabir vrygelaat, is die aanklagte teen Zuma laat vaar en moes Selebi in die hof verskyn. As Mbeki nog die leier van die ANC was, sou Schabir waarskynlik in die tronk gebly het, sou Mo en Zuma aangekla gewees het en sou Selebi vry rondgeloop het.


Slag van Polokwane


Of jy aangekla en skuldig bevind word hang nou nie van jou skuld of onskuld af nie, maar of jy in die heersende kliek binne die ANC se guns of onguns is.

Dit is waarom die ANC se Slag van Polokwane so venynig was. Dit het nie om beleid of beginsel gedraai nie.

Die belangrikste was watter faksie van die ANC sy mag sou kon misbruik en sy vriende sou kon beskerm en verryk, terwyl staatsinstellings misbruik word om teenstanders te vervolg. Dis die soort organisasie wat die ANC nou is.

Aanstellings op die regbank word ook na die regerende party se willekeur gedoen.

Die Regterlike Dienskommissie (RDK) benoem kandidate vir regterlike aanstellings en beveel hulle aan.

Daar is 23 lede en dié is veronderstel om die regsbelange van die land as geheel te verteenwoordig: advokate, prokureurs, regters, lektore in die regte en politici.

Met gebruik van die gewone rasseretoriek en misbruik van die begrip van “transformasie”, het die ANC die RDK vol partylojaliste gestop.

Die RDK se onderhoude vir regtersposte het ’n bespotting geword.

Daar is geen duidelike maatstawwe nie en rassebeledigings het ontleding vervang.

Soms verval dit in ’n grimmige klug. Dit wou voorkom of mnr. Jeff Radebe, minister van justisie, na die 16de eeu teruggekeer het toe hy adv. Torquil Paterson SC, ’n voornemende regter, voor stok gekry het omdat hy ’n ateïs is.

Adv. Dumisa Ntsebeza SC, ’n Zuma-aanstelling in die RDK, het Paterson weens sy ras aangeval.

Gevolglik besluit talle puik voornemende regters om hulle nie aan dié bespotting bloot te stel nie.

Hulle trek hul aansoeke terug.

Regbank dien party


Die ANC glo kortom dat die regbank daar is om die belange van die elite in die regerende party te dien.

As ’n regter dink dat hy of sy daar is om die gereg en die mense te dien, gaan sy of haar loopbaan waarskynlik kortgeknip word.

Die verskil tussen die DA en die ANC het vandeesweek skerp geblyk.

Die DA glo aan die oppergesag van die reg, gelykheid voor die reg en die aanstelling van regters op grond van hul vermoë om die mense regverdig, onpartydig en bevoeg te verteenwoordig. Die ANC glo aan die oppergesag van die party, onderdanigheid aan die party se elite en die aanstelling van regters om hul politieke meesters te dien.

Dit het vandeesweek ook aan die lig gekom dat Schabir om presidentskwytskelding aansoek gedoen het.

Die presidensie het bevestig dat die aansoek reeds verlede jaar ingedien is en dat dit nou oorweeg word.

Sou Zuma hierdie aansoek toestaan, sal dit ’n daadwerklike stap na die algehele verderf van die Suid-Afrikaanse gees wees.

Onder geen omstandighede moet die president hierdie aansoek toestaan nie. Hy moet oop kaarte met die publiek speel en onteenseglik ontken dat hy hierdie aansoek sal toestaan, anders sal dit slegs bespiegeling bevestig dat hy die aansoek gunstig oorweeg.


- Beeld

No comments:

Post a Comment