Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Thursday, September 17, 2009

Vrou (90), seun met graaf aangeval

Beeld, Virginia Keppler

’n 90-jarige vrou van Queenswood in Pretoria en haar seun is eergistermiddag in hul huis oorval, met ’n graaf aangerand en van ’n selfoon en motorsleutels beroof.

Mev. Koekie Elliott (90) en haar seun, Norman (67), word in die Netcare Moot-hospitaal behandel.

Mnr. Elliott het omstreeks 13:30 gery om kompos en kos vir hul tuinwerker te gaan koop toe die rowers op sy ma toegeslaan het.

Mev. Elliott het gister gesê haar seun was net weg toe iemand haar van agter gegryp het.

“Ek het gedink dit is ’n grap en toe sien ek die man. Nog een het bygekom. Ek het my probeer teensit, maar toe slaan een my vreeslik hard in die gesig en gooi my op die vloer neer. Die ander het my arms gegryp en hulle het my hande agter my rug met ’n elektriese koord vasgebind. Daarna het hulle my aan my arms gegryp en my tot in my slaapkamer gesleep waar een my probeer wurg het,” het sy vertel.

Volgens mev. Elliott het die rowers haar herhaaldelik geslaan en geskop terwyl hulle vir die kluis se sleutel gevra het.

“Julle maak my seer. Maak my hande los dan soek ek die sleutel vir julle,” het sy aan haar aanvallers geskreeu, maar hulle het haar op die mond geslaan.

“Toe gooi hulle my bed se matras bo-op my. Terwyl hulle in die huis besig was het hulle my kort-kort geskop.”

Sy het aan die tuinwerker wat in daardie stadium buite was, geskreeu, maar haar aanvallers het haar net harder geslaan.

“Terwyl ek op my maag gelê het, het hulle my op my rug geslaan.”

Mnr. Elliott het vertel hoe vreemd hy dit gevind het dat hul elektriese hek oopstaan toe hy tuiskom.

“Ek het die erf ingery en die tuinwerker het die kompos uit die motor gelaai. Toe ek by die kombuis instap het ek geskrik toe ek ’n vreemde man sien.

“Die volgende oomblik het iemand my van agter op die kop (met ’n graaf) geslaan en ek het op die vloer neergeval.” Hy het in die proses sy neus gebreek en sy regteroog en lip beseer. Hulle het ook sy hande agter sy rug vasgebind en ’n mat oor sy kop gegooi.

Toe dit stil word het mnr. Elliott sy hande losgewikkel en sy ma in die kamer gaan help.

Volgens hom het die tuinwerker ná die voorval verdwyn.

“Ek het ’n sterk vermoede die tuinwerker het iets met die aanval te doen. Ons het hom eergister gehuur toe hy daar kom werk soek het.

“Hy was ordentlik aangetrek en het ’n brief van die Metodistekerk gehad,” het mev. Elliott gesê.

Die rowers het nie die kluissleutel gekry nie en het met motorsleutels en ’n selfoon gevlug.

- Beeld

No comments:

Post a Comment