Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Wednesday, September 2, 2009

Vlugteling: VF+ kap ANC

Kaapstad- “Vir die ANC om Kanada se besluit om die Suid-Afrikaner, Brandon Huntley, vlugtelingstatus toe te ken, as rassisties te bestempel, is op sigself rassisties.”

Só meen Pieter Groenewald, VF Plus-hoofwoordvoerder oor polisie, na berigte dat Kanada vlugtelingstatus aan ‘n blanke Suid-Afrikaanse man toegeken het.

Volgens die Ottawa Sun is dit die eerste keer dat ‘n wit man van Suid-Afrika vlugtelingstatus in Kanada ontvang om hom teen swart Suid-Afrikaners te beskerm.

Die paneel het bevind dat Brandon Huntley (31) genoegsame bewyse kon gee wat daarop dui dat “die regering nie geskik of bereid is om hom te beskerm nie”.

Wat die VF+ sê:

“Deel van Huntley se aansoek was dat hy deur misdadigers as ‘n ‘wit hond’ en ‘n ‘boer’ bestempel is. Hierdie terme is nie vreemd nie en selfs swart polisielede het wit slagoffers van misdaad al ‘wit honde’ genoem,” het Groenewald gesê.

Volgens hom het die VF+ in die verband reeds twee klagtes by die Menseregtekommissie (MRK) gelê teen polisielede en word daar steeds gewag vir die uitslag van die MRK.

“Indien polisielede sulke opmerkings maak verbaas dit nie as misdadigers dieselfde doen nie. Die vorige minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Charles Nqakula, het selfs in die Parlement vir my gesê om op te hou kla oor misdaad of ek moet die land verlaat. Dit is dan geen wonder dat mense die land verlaat nie.”

“Die ANC moet eerder alles in hulle vermoë doen om swart op wit rassisme te beveg, as om die blaam te wil plaas op iemand anders of ‘n land soos Kanada,” meen Groenewald.

“Die toestaan van vlugtelingstatus aan Huntley moet gesien word as ‘n wekroep van slagoffers van misdaad in Suid-Afrika. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op die ANC-regering om dit te verander anders gaan daar meer sulke gevalle plaasvind.”

Bron: http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/bef2ec01f8ee459ba0c9cf4642298c4b/01-09-2009-08-11/Vlugteling_VF+_kap_ANC

No comments:

Post a Comment