Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Sunday, September 20, 2009

Spoeg en eis - die wit melkkoei sal betaal...

Geskryf deur Dirk Uys,
Die blankes met hulle verbete werksetiek wat bedags sorg vir verkeersknope op Suid-Afrika se hoofweë sit regtig die pot iewers mis.

Daar is inderdaad makliker maniere om aan die lewe te bly. Pas lees ek dat TB-pasiënte in Khayelitsha met ’n vernuftige plan vorendag gekom het om ’n ekstra geldjie in hierdie moeilike tye te maak. Hulle verkoop naamlik van hulle eie spoegmonsters teen R50 – R100 aan gesonde mense wat dit dan by klinieke aanbied sodat hulle kan kwalifiseer vir ’n TB-kaart waarmee hulle geregtig is op ’n tydelike regeringsongeskiktheidstoelae van R1 020 per maand. Volgens een van die mans wat met ’n verslaggewer gesels het, verdien hy sowat R500 per maand. Hy kla egter dat sake nie te goed lyk op die oomblik nie, aangesien daar soveel mense is wat tuberkulose onder lede het. Daar is baie kompetisie.

Hierdie verskynsel is deur John Heinrich, hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Tuberkulose Vereniging, bevestig. Kliniekpersoneel is skynbaar te “besig” om seker te maak dat diegene wat daar aanmeld self die spoegwerk doen. As mens in ag neem dat Suid-Afrika jaarliks sowat halfmiljoen nuwe TB-gevalle lewer, met 78 000 wat elke jaar aan die siekte sterf, besef jy dat hierdie nie maar net ’n vermaaklike anekdote sonder ernstige gevolge is nie.

Ons koerante wemel natuurlik van soortgelyke korrupsie, “geldmaakmetodes” en ander absurditeite. Mens kan wel hieroor giggel, maar die bitter aspek is dat die sowat een miljoen ekonomies aktiewe blankes in hierdie land uiteindelik vir die gelag betaal.

Die vraag is natuurlik of die blanke gemeenskap se naïwiteit, goedhartigheid en swye nie hierdie blatante skelmstreke en ander korrupsie aktief bevorder nie. Net gister gesels ek met ’n sendeling wat onder die dosyne Kongolese motorwagte in Pretoria-Oos werk. Hy vertel my toe met groot opgewondenheid hoeveel van die wagte hulleself “bekeer.” Net daarna vertel hy my toe egter met ’n groot kommerfrons op sy gesig hoeveel die taak hom kos, want soveel van hulle het nie eintlik kos om te eet nie, van die mans verdwyn eenvoudig en laat hulle vroue en kinders sonder ’n inkomste, ensovoorts. Dan wonder mens seker met reg oor die erns van die sogenaamde “bekeringsproses.”

A sucker is born every minute en ons swart landgenote besef dit maar net te goed.

Dan is daar natuurlik die NG Moreletagemeente, wie se indrukwekkende gebou al amper verswelg word deur die plakkers van Plastic View, die plakkerskamp neffens die kerk. Nie net word hulle van kos en klere voorsien nie, maar hulle word deesdae selfs in die kerkgebou gedoop. Niks verhinder hulle dus om as volwaardige lidmate te skep uit die strome van oorvloed van die gemeente se ruimhartige skenkers nie.

Besef mense dan regtig nie wat hierdie minderbevoorregtes se motivering is nie? In die naam van sendingwerk en goedhartigheid open ons deure wat ons nooit weer gaan toekry nie, en loop ons gevaar om in een of ander stadium, soos Jean Raspail dit so treffend in sy roman Le camp des saints, uitbeeld, verswelg te word deur hierdie hordes. Maar nee, ons lees in Beeld en ander koerante wat oor die plakkerfenomeen berig, hoe diegene wat die hand uitsteek se geloof “verdiep” en hoe hartroerend dit is om te sien hoe “gretig” mense die jasse en kos wat uitgedeel word, aanvaar.

Niemand gaan ontken dat daar enorme armoede in hierdie land is nie. Die ironie is egter dat die tradisionele gewers, die blankes, self teen ’n baie vinnige tempo verarm. Sowat twee miljoen van ons is reeds amptelik verarm. Ons gaan binnekort nie van veel nut vir onsself wees nie, laat staan nog vir plakkers en onwettige immigrante.

Die regering se onvermoë om hierdie armoedeprobleem aan te spreek, is eenvoudig skreiend. Deur almoese in die vorm van toelaes uit te deel, glo hulle dat hulle ’n opstand deur die massas kan verhoed. Die probleem is egter dat hierdie massas nie ordentlik opgelei is nie en gevolglik geen sinvolle werk kan verrig nie – nie nou nie, en ook nie oor twintig jaar nie. Die toelaes word dus permanent van aard. In plaas van om miljoene te spandeer aan die pakkette wat tans aan die 13 miljoen hulpbehoewendes uitgedeel word, behoort hierdie mense in ambagte opgelei te word. Die klem moet minder op universitêre opleiding val, wat in elk geval geen outomatiese reg is nie, en jongmense moet geleer word om ambagte te beoefen of entrepreneurs te word wat hulle eie potjies kan krap en nie na die staat kyk vir gifte en gawes nie.

Swart ekonomiese bemagtiging en kwotas in die arbeidsmark het die swart heersers van Suid-Afrika egter oortuig dat hulle met moord kan wegkom. Die gewillige blanke melkkoei word mos vir alles ingespan.

Hierdie kultuur van die-wêreld-skuld-my manifesteer natuurlik op alle gebiede in ons absurde land. Siyabonga Gama, oor wie se kop daar ’n donker wolk hang weens beweerde korrupsie (hy is immers deur Transnet in die pad gesteek ná onreëlmatige tenderprosedures) word nou deur sy regspan met Jacob Zuma vergelyk, wat “onregverdig” vervolg is. En dit is dan juis die probleem. Suid-Afrika het ’n president wat aan bewind gekom het ten spyte van ’n gebrek aan formele skoolopleiding en ongeag klagtes van korrupsie en verkragting. Eenvoudig niks kon in sy pad staan nie.

Die boodskap aan swart Suid-Afrikaners is duidelik: in hierdie land is alles moontlik. En om bedags rond te jaag en te stres oor spertye en ander Westerse uitvindsels is irrelevant. Hier is dinge veel eenvoudiger en brutaal as wat ons wil toegee. Die regering is daar om te voorsien. Sela.

2 comments:

  1. 'n Baie goeie uiteensetting van ons probleem. Dis die blanke sendingywer en goedhartigheid wat tot ons eie ondergang lei, terwyl die res net aan hul eie belang dink.

    Die vraag is nou net: hoe skud ons mense soos daardie sendeling uit hul droom wakker en oorreed hulle om aan hul eie oorlewing te begin dink?

    ReplyDelete
  2. Ons Afrikaners het nog altyd oor ons eie mense geloop en die andere gehelp. Dit is mos mode om saam met die bedelende swartetjies afgeneem te word. Dan wonder ons hoekom dit so sleg met ons Afrikaners gaan. Ons is 'n spul rugstekers, slapgatte en ons gooi maar net die handdoek in. Ons le op ons rue soos 'n bang hond in plaas van op te staan en te se genoeg is genoeg. Besef ons nie dat hulle ons almal of gaan doodmaak of uitbaster nie. Word wakker julle spul hensoppers voordat dit te laat is. Ek bid natuurlik dat GOD sal oorneem en AL ons vyande uitwis. HERE begin met die spul verraaiers asseblief. Amen. Bella

    ReplyDelete