Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Wednesday, September 23, 2009

Misdaadmekka

Geskryf deur Radio Pretoria,

As u na hierdie nuuskommentaar luister, moet u uself as ‘n baie gelukkige persoon beskou. Dit beteken dat u nie een van vyftig mense is wat die afgelope jaar elke dag vermoor is nie. Dit beteken ook dat u nie een van die vyftig huiseienaars daagliks is by wie daar ingebreek is en u radio weggedra is terwyl u dalk bloeiend, aangerand of half doodgeslaan in die badkamer vasgemaak was nie. Dit beteken dat u ook nog radio in u motor kan luister, en dat u nie een van die een en veertig mense daagliks is wie se motor gekaap is nie.

Dit is die realiteit van die ANC-Suid-Afrika, soos dit gister oopgevlek is toe die misdaadstatistieke uiteindelik vrygestel is. Met dié skokkende statistiek is dit nou heel verstaanbaar dat die huidige adjunk-president van die ANC, Kgalema Motlanthe, in sy tyd as president vroeër vanjaar besluit het om nie hierdie statistiek voor die algemene verkiesing bekend te maak nie.

Die afname van 1,8 persent in moordgevalle is weglaatbaar. Om te wil juig oor ‘n afname van 339 moorde oor ‘n tydperk van ‘n jaar, terwyl daar steeds byna 18500 mense vermoor is, grens aan die absurde. Die enigste rede waarom daar ‘n algehele afname in die getal moorde is, is omdat daar ‘n 17 persent afname was in die Wes-Kaap en ‘n 7,5 persent afname in die Oos-Kaap. Maar in Oos-Transvaal het moorde met ‘n stewige 8 persent gestyg, in Noord-Transvaal met byna 8 persent, in Sentraal Transvaal met 5,7 persent, en in die ander provinsies was daar ook stygings.

Huisrooftogte het skrikwekkend gestyg. Die provinsie waar die styging die minste was, is Sentraal-Transvaal, waar die styging “slegs” 11 persent was. Maar in die Noord-Kaap het huisrooftogte met 275 persent gestyg, in die Oos-Kaap byna 129 persent, in die Vrystaat byna 128 persent en ook die Wes-Kaap is nie dié euwel gespaar nie, een meer as 22 persent méér huisrooftogte het daar voorgekom.

Rooftogte by sake-ondernemings het ook drasties gestyg. Die feit dat nie méér mense tydens die verskillende rooftogte dood is nie, kan byna as blote geluk geskryf word, want in baie gevalle word mense geskiet, gesteek, aangerand en gewond. Daar is dus geen rede vir enige gerustheid nie. Die situasie is erger as in die meeste oorloggeteisterde lande.

Hierdie statistiek kan ook nie meer op Thabo Mbeki en sy minister van veiligheid en sekuriteit se brood gesmeer word nie. Die grootste tydperk was onder die huidige minister van polisie, wat al deur Motlanthe aangestel is nadat Mbeki “herroep” is. Ons moet dus geen valse hoop koester dat onder Zuma en sy minister dinge beter gaan nie, want duidelik gebeur dit nie.

Daar kan nog baie oor die misdaad gesê word, maar dit sal ons net warm onder die boordjie maak. Die belangrikste is om te besef dat ons ons belastinggeld mors, want die staat gebruik dit nie om sy inwoners te beskerm nie. Ons sal een of ander tyd ernstig moet begin besin oor die hele kwessie van belastingbetaling aan die staat, vir dienste wat nie gelewer word nie. Voorts moet ons besef dat ons ons asem mors om die regering daarop te wys dat dit sy grondwetlike plig is om ons te beskerm. Hy doen dit al vyftien jaar lank nié. Ons sal dit self moet doen. Ons sal nog meer paraat moet word, onsself moet laat oplei om huis en haard te beskerm en te verdedig, betrokke raak by mekaar, en mekaar beskerm en mekaar se belange op die hart dra.

Bowenal sal ons weer eens moet besef dat hierdie nie die soort bestel is wat strook met ons kultuur nie, en dat ons dringend moet kyk na ‘n alternatief. Om te dink ons kan hierdie land “maak werk” en ‘n leefbare situasie kan help skep, is, met alle redelikheid, ‘n hersenskim – pragmatiese wensdenkery.



No comments:

Post a Comment