Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Tuesday, September 15, 2009

Soldaat agter terreur

Vyf aangekeer na plaasaanval

’n VROULIKE lid van die weermag was blykbaar een van die ringkoppe wat die aanval twee weke gelede op die Groblers op die plaas Okatumba by Seeis help beplan het. Sy en vier mans is Saterdag in die vroeë oggendure in verband met die aanval in hegtenis geneem.

Hulle is ná ’n volgehoue polisiesoektog in Windhoek aangekeer. Die 32-jarige vrou doen diens by Luiperdsvallei buite Windhoek. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat sy ook by ander misdaadvoorvalle in die geteisterde Seeis-omgewing betrokke was.

Sy was glo nóú by die beplanning van die Seeis-voorval betrokke en het die rowerbende na bewering van vuurwapens voorsien wat in die aanval op die plaas Okatumba gebruik is. Twee skote is gevuur is toe mnr. Frans Grobler (62), sy vrou Justine (54), asook sy seun (Frans, 37) en kleindogter (Chanté, 7) op 31 Augustus oorval, aangerand en met vuurwapens aangehou is. Vuurwapens, geld, selfone en ander huisware is gesteel.

Mnr. Claus Bergmann van die Seeis-boerevereniging wat die afgelope dae ten nouste by die polisiesoektog betrokke was, sê die aangehoudenes sal moontlik vandag uitwysings op die plaas doen. Hulle het van die vuurwapens wat hulle geroof het glo in die veld versteek toe hulle vir die polisie moes vlug. Ignatius Hoxobeb wat na bewering ook by die gewapende rooftog betrokke was, is reeds verlede naweek deur die polisie aangekeer.

Hoxobeb (30) woon in die plakkerskamp by Omitara en is na bewering ’n berugte veedief in die omgewing. Hy het verlede Maandagoggend vlugtig in die hof in Katutura verskyn. Sy vyf makkers sal Dinsdag voor die hof gebring word. Die mans word by die polisiekantoor by die Internasionale Lughawe Hosea Kutatko aangehou en die vrou is in die aanhoudingselle op Seeis.

No comments:

Post a Comment