Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Wednesday, July 8, 2009

Verspeelde Kanse

Afrikaner perspektief: Geskryf deur Dirk Uys

Lynda Odendaal, een van die Congress of the People (Cope)-party se twee adjunkpresidente, het gister skielik uit haar pos as adjunkpresident én parlementslid bedank. Sy het nie haar redes bekendgemaak nie.

Die blonde sakevrou het haar sedert verlede jaar se stigting van die party onderskei deur verskeie naïewe verklarings, maar ook deur haar duidelike entoesiasme vir die nuwe party, wat in November 2008 deur voormalige ANC-lede tot stand gebring is. Foto’s van ’n laggende Odendaal, omring deur Sam Shilowa, Mosiuoa Lekota en ander, het einde verlede jaar in talle koerante verskyn.

Wat het intussen verkeerd gegaan met hierdie party, wat vroeër vanjaar tydens die algemene verkiesing ’n redelike stewige 7.42% van die stemme behaal het?

Toe die party verlede jaar gestig is, was vele Suid-Afrikaners opgewonde. Hier was nou die eerste kans om die korrupte ANC-regering ’n behoorlike bloedneus (uit eie geledere) toe te dien. Intussen het dinge op alle fronte vir die nuwe party versleg.

Daar kan aangeneem word dat Odendaal, wat voorheen geen ervaring van die politiek gehad het nie, spoedig ontnugter is en gebruik, asook gemarginaliseer, gevoel het. Toe die party in 2008 gestig is, het sy as IT-spesialis entoesiasties ’n rekenaarnetwerk vir die party geskep, gesorg dat party-amptenare almal e-posadresse kry en op haar kontakte in die sakewêreld se knoppies gedruk om meubels en kantoortoerusting vir Cope aan te skaf. Politieke analiste het haar aanstelling egter as ’n blote front beskou: sy was ’n vrou, toevallig sonder politieke bagasie en uiters hardwerkend, sy kon goed organiseer en geld inbring en verder sou haar aanstelling ’n “positiewe boodskap” na minderheidsgroepe stuur.

Volgens Eusebius Mckaiser, ’n politieke analis verbonde aan die Centre for the Study of Democracy (’n gemeenskaplike inisiatief van Rhodes Universiteit en die Universiteit van Johannesburg), wat op 7 Augustus ’n artikel in die Mail & Guardian geskryf het, is Cope “ernstig siek.” Die party kan weens ’n leierskapstryd, organisatoriese chaos, ’n gebrek aan fondse en ’n onvermoë om ’n duidelike beleid te formuleer, nie behoorlik funksioneer nie. McKaiser bevestig voorts wat almal weet: biskop Mvume Dandala was ’n foutiewe keuse as parlementêre leier van Cope. Hy het bitterweinig politieke ervaring, is ’n swak spreker en geniet nie die vertroue van sy medepartylede nie. Sam Shilowa (tans Cope se hoofsweep) en Mosiuoa Lekota (wat na partysake omsien) skuil egter kwansuis agter die verskoning dat hulle nie wil wedywer oor partyleierskap nie en dat hulle tevrede is om “ontplooi” te word waar die party hulle nodig het. Die vraag ontstaan natuurlik waarom hulle so gedweë is? Is hulle bang om in die kalklig te wees omdat hulle voormalige ANC-broers van hulle geraamtes in die kas weet wat die nuwe party kan kelder? Of het hulle doodgewoon genoeg geld gemaak uit hulle vorige posisies in die ANC-regering en sien hulle nie kans vir die taai stryd wat partyleier behels nie?

Net verlede maand het Simon Grindrod, wat die nasionale verkiesingshoof van Cope is, in ’n memorandum (wat aan die pers gelek is) gewaarsku dat daar verwarring bestaan oor wie die party se eintlike leier is.

Die gebrek aan duidelike partystandpunte is natuurlik ’n verdere groot probleem. Niemand weet presies waarvoor Cope staan nie! Hierdie vakuum skep onsekerheid en dra tot die party se irrelevansie by. Die party se ampsdraers gee vae antwoorde tydens perskonferensie, weet nie eers oor hoeveel takke die party landwyd beskik nie en skep oor die algemeen ’n power indruk.

Dan is daar ook nog die onsmaaklike binnegevegte in Cope se jeugvleuel, wat deur die omstrede Anele Mda gelei word. Mda beweer sy is 31, maar van haar jeugkomiteekollegas sê sy jok, en dat sy eintlik ouer is en dus nie meer vir lidmaatskap van die jeugvleuel kwalifiseer nie. Hulle beweer voorts dat sy jok oor haar CV en dat sy byvoorbeeld nooit ’n nie-regeringsorganisasie in Port St Johns geskep het nie. Mda, wat die eienaardige gewoonte het om na haarself in die derde persoon te verwys, reageer soos volg op hierdie aantygings: "It's a continuation of a failed attempt of thinking someone will bring Anele down. "They're using a toy gun; this information cannot harm my reputation."

Terwyl die rotte op die Cope-skip rondskarrel, word dit al meer duidelik dat hulle nie gaan hond haaraf maak nie. Werklike doeltreffende teenstand teen die ANC-mammoet sal uit ander oorde moet kom.

No comments:

Post a Comment