Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Monday, June 22, 2009

Apatie is ‘n soort kanker

Afrikaner perspektief: Geskryf deur Dirk Uys

Iets wat my toenemend bekommer, is die onverskilligheid van Afrikaners as dit kom by sake wat ons oorlewing bepaal. Dit wil soms voorkom of ‘n soort fatalisme oorgeneem het. Que sera sera. Wat sal wees, sal wees.

Solank ek my werkie behou en DSTV kan bekostig, mag die wêreld om my maar vergaan.

Hierdie optrede kontrasteer skerp met die optrede van Afrikaners in die verlede. Die geskiedenis toon dat die Afrikaners nog altyd ‘n klomp individualistiese korrelkoppe was. In moeilike tye kon hulle egter saamspan vir sake waaroor hulle sterk gevoel het.

Die ander aspek wat opval wanneer mens ons geskiedenis bestudeer, is die feit dat daar nog altyd ‘n eienaardige digotomie in ons volksidentiteit was: ‘n soort gedienstige gee-die-keiser-wat-hom-toekom-mentaliteit, maar ook ‘n onversetlikheid en onwilligheid om absurde wetgewing of situasies te aanvaar. Hierdie ambivalensie kan seker aan ons gemengde herkoms toegeskryf word: ons het immers die koppigheid van die Nederlanders, die idealisme van die Franse en die gedissiplineerdheid van die Duitsers wat in ons are vloei.

Om ‘n lae profiel te handhaaf, vrywaar jou nie van skoppe nie, soos menige mishandelde hond kan getuig. Inteendeel, die skoppe word meer, en toenemend brutaal, om reaksie uit te lok. Ons huidige geneigdheid om ‘n lae profiel te wil handhaaf, is dus geen waarborg dat ons met rus gelaat gaan word nie.

Tekenend van hierdie verskonende houding is die twee rubrieke wat vandag in Rapport verskyn het. Koos Kombuis is vies vir taalstryders soos “Herman Giliomee en sy trawante” - wat die moeite wat hy wat Kombuis is spandeer het om vir Afrikaans ‘n “cool” beeld na buite te skep - ongedaan gemaak het. Die ironie is juis dat Kombuis, wat duidelik nie van beter weet nie, nie bewus is van die feit dat Giliomee hom tot dusver in die taalstryd by Stellenbosch diskreet en waardig gedra het. Teen alle ontmoedigende tekens in, het hy bly glo in ‘n breër alliansie met die bruines. Op geen stadium het hy homself aan rassistiese gedrag of beledigende retoriek skuldig gemaak nie.

Andries Bezuidenhout skryf op sy beurt weer oor ‘n konsert van ‘n Afrikaanse rockgroep genaamd Bloedskande wat hy onlangs bygewoon het.

Hy haal uit hulle lirieke aan:

“Jul kan sê wat jul wil, jul kan doen wat jul wil, maar ons soek Jo’burg terug, Jo’burg terug, Jo’burg terug!”

en

“Kinders roer die koffie, die bitterheid gaan dalk weg. Afrikaans hang aan die galg, kom ons partytjie terwyl dit sterf!”

Bezuidenhout sluit sy rubriek af deur melodramaties te wonder of ons “’n spesiale skande in ons bloed” saamdra.

Sug.

Kan ons nie maar ophou wroeg oor onsself nie? Ophou wonder of ons “cool” genoeg is en of daar geneties fout is met ons nie?

Het dit nie tyd geword om op te staan en iets te begin doen vir ons volksgroep se oorlewing nie?

Nou verloor ons onself eerder in ’n nuwe mistisisme. Die meer militantes onder ons mor dapper om die braaivleisvure oor naweke.

En môre maak ons maar weer die koerant oop om te lees van ’n nuwe aanval, ’n verkragting, ’n transitoroof, of ‘n plaasmoord. Nog ’n vrou by wie daar ingebreek is en vir wie daar gesê is: “Julle witmense leef alte lekker. Ons is hier om jou te verkrag.”

Miskien kan ons iets leer uit generaal Christiaan de Wet se optrede. ’n Korrelkop soos min, het hy president M.T. Steyn verstom toe hy kort ná die oorname van Bloemfontein tydens die ABO besluit het om sy manskappe huis toe te stuur. Die moraal was laag; die konvensionele deel van die stryd duidelik verby. Die idealistiese individue wat aan die begin van die oorlog entoesiasties aangemeld het met saalsakke vol beskuit en biltong om hulle grond te verdedig, was ontnugterd. Maar De Wet was nie onnosel nie. Hy het sy manne ’n paar weke later weer opgeroep. En hierdie slag was dit die bestes onder hulle, aangevuur deur ’n nuwe idealisme, wat aangemeld het vir diens. En dis in hierdie guerillafase van die oorlog dat die Boere hulleself spesifiek onderskei het, en dat ’n ware volkstrots gebore is.

Dalk het ons ook net ’n handjievol besieldes nodig. ’n Gideonsbende, wat soos in die verlede bereid is om ’n groter saak bo hulle individuele gerief te stel.

Vergeet van die warm kringetjie om die braaivleisvuur.

Jou volk het jou nodig!

2 comments:

  1. Sjoe, hierdie rubriek maak die Boer in my wakker! Hou so aan, en dankie.

    ReplyDelete
  2. Uiters slapgat het die afrikaner volk geword en met die'fatalistiese houding wat hulle so vaskleef, sal hulle aanhou afgemaai word. Ek sidder om te weet dat ons ons geskiedenis, taalbeleid en menswaardigheid net so prysgee deur eerder 'n lae profiele te wil handhaaf. Wat het gebeur met ons innerlike afrikaner trots! Het ons lafaarde geword dat ons nog steeds toelaat dat 'n ander volk ons onderdruk en alles waarvoor ons lief is vanaf ons wegneem! Skaam jou afrikaners....skaam jou!

    ReplyDelete