Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Saturday, September 12, 2009

Wit-en-swart bril vereng verlede, hede en toekoms tot verhaal met net een uitkoms

deur Johan de Klerk - Beeld

’n Mens moet toegee dat dr. Nico Smith se siening oor die verhouding tussen wit en swart nie totaal sinneloos is nie en die moontlike toekomsgebeure wat hy skets, is ongelukkig ’n werklikheid wat kan gebeur en wat ’n mens in ag moet neem indien jy die besluit neem om in Suid-Afrika te bly.

Deur egter sy wit-en-swart bril op te sit (soos iemand wat ’n blou bril opsit en dan die hele wêreld in blou sien), vereng hy die verlede, hede en toekoms tot ’n swart-en-wit verhaal met slegs een uitkoms, waar die wit uiteindelik gaan verdwyn indien wit nie totaal by swart aanpas nie.

Sedert die gebeure in 1962 in Algerië waarna Smith verwys, maar ook die Belgiese Kongo, Angola en Mosambiek, het verskeie faktore egter die speelvlak al verander sodat die prentjie nie meer net wit en swart is nie, en ’n mens dwing om ook ander brille op te sit wat ander perspektiewe kan verleen, en in hierdie opsig klink Smith ongelukkig soos ’n grammofoonplaat wat in 1962 vasgehaak het.

Eerstens was daar in die 1950’s en 1960’s ’n “gees van onafhanklikheid” wat werklik gedryf is deur faktore soos uitbuiting, onderdrukking en rassisme deur wit op swart. Dit het gel-dige argumente daargestel vir swart mense om in opstand te kom en onafhanklikheid na te streef .

Maar die geskiedenis het ’n halfeeu aangestap. Daar is nie meer ’n land in Afrika wat graag wil aanspraak maak op onderdrukking, uitbuiting en rassisme nie, want dit kan op inherente swakheid dui as die meerderheid, met al die moontlike bronne van mag en welvaart tot sy beskikking, hierdie argument aanhaal. Die internasionale gemeenskap hoef dus nie soos 50 jaar gelede gewone wetteloosheid en barba- risme onder die dekmantel van hierdie flou etikette te aanvaar nie, en ons hier in Suid-Afrika hoef ook nie.

Tweedens lewe ons nou in ’n tegnologiese era wat ligjare weg is van die 1960’s. Die “swart gevaar”, die verskriklikheid van kommunisme en al die ander negatiewe persepsies wat groepe oor mekaar gekoester het, is lankal nie meer noodwendig “propaganda” wat ’n politieke party op ons afdwing nie.

Ons as gewone burgers kan net soos miljoene mense oor die wêreld heen aand vir aand op televisie sien wat in ander lande aangaan en vorm dus ons eie menings oor wie geneig is om misdaad te pleeg. Ons kan self sien watter lande het sinvolle ekonomieë met groot fabrieke, wat motors en skepe en vliegtuie bou, en ongelukkig kan ons ook sien watter lande is niks anders as ’n stuk misrabele woestyn nie, waar mense knaagdiere eet en water met emmers uit putte skep vir kinders.

So sien miljoene ander mense ook wat elke dag in Suid-Afrika gebeur en is wit nie meer outomaties die probleem nie. Ons kan ook sien daar kom dalk moeilikheid en dr. Smith moenie dink ons maak nie ook planne nie.

No comments:

Post a Comment