Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Sunday, July 19, 2009

Suid-Afrika se bling-bling WaBenzi-brigade

Geskryf deur Dirk Uys

As ’n bestuurder wat, helaas, genoodsaak is om ure op die hoofweë van Johannesburg deur te bring, is dit opmerklik hoeveel swart Suid-Afrikaners in blink motors rondry. Blanke bestuurders ry oor die algemeen met meer beskeie modelle rond. Die effek van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie is nêrens meer sigbaar as op ons paaie nie.

Pas lees ek van Siphiwe Nyanda, die nuwe minister van kommunikasie, se jongste uitspattige besteding. Hy het dit naamlik goed gedink om twee splinternuwe ampsmotors vir gebruik in Pretoria en Kaapstad aan te skaf. Die twee 2009 750i BMW-modelle het die belastingbetalers R1 135 500.00 elk uit die sak gejaag. Om alles te kroon het Nyanda aangedring op R148 400.00 se ekstra luukses in die twee spogmotors, wat ’n interessante “vermaaklikheidsisteem” ter waarde van R23 400.00 op die agtersitplek insluit.

Net enkele weke gelede het S’bu Ndebele, minister van vervoer, te midde van ’n mediastorm langtand van sy Mercedes-Benz afstand gedoen. Die motor is deur kontrakteurs aan hom geskenk terwyl hy nog premier van KwaZulu-Natal was.

Aan die begin van Junie het Gauteng se nuwe LUR belas met landbou en landelike ontwikkeling, Nomantu Nkomo-Ralehoko, bedank nadat haar man in haar nuwe, onversekerde Mercedes-Benz ML 63 AMF gekaap is. Die saak het ’n verdere wending geneem toe ’n kriminele klag teen een van Nkomo-Ralehoko se amptenare aanhangig gemaak is weens onreëlmatighede met die aankoop van die gewraakte voertuig.

Die arrogante Julius Malema, hoof van die ANC-jeugliga, het verlede week selfversekerd by die gelykheidshof opgedaag in sy Mercedes-Benz E-klas model. Hy moes in die hof verskyn nadat klagtes teen hom aanhangig gemaak is ná sy omstrede uitsprake oor verkragting vroeër hierdie jaar.

Met die April-verkiesing skaars agter die rug, het Limpopo-premier Casel Mathale, wat een van die land se armste provinsies bestuur, uitgestorm om vir hom ’n koningsblou BMW 750i van oor die R1 000 000.00 aan te skaf.

Ian Davidson, hoofsweep van die Demokratiese Alliansie (DA), het onlangs na hierdie spandabelrige ANC-lede as die “kings and queens of bling” verwys.

Dan is daar nog die viertrek Mercedes van Tony Yengeni wat ’n paar jaar gelede opslae gemaak het. En wie kan die rooi Mercedes-Benz 500 SE vergeet wat 18 jaar gelede spesiaal deur Mercedes-werkers vir oudpresident Mandela gebou is?

So kan ons aangaan. Die voorbeelde hierbo genoem is maar ’n paar lukrake episodes wat die Suid-Afrikaanse nuustoneel kenmerk. Waarom hierdie obsessie met Duitse motors? kan mens tereg vra. In ’n land waar armoede mens letterlik op elke tweede straathoek begroet, is sulke uitspattigheid moeilik te verstaan. Kan dit dalk wees dat hierdie parasiete, wat hulleself verryk met die middelklas se suurverdiende belastinggeld, sodoende probeer vergoed vir hulle minderwaardigheidskompleks? Vir die gebrek aan bekwaamheid, hardwerkendheid en basiese intelligensie word met ’n blink voertuig gekompenseer. Onderliggend hieraan is die houding: as ek dan nie vir my verstand en vermoëns gerespekteer kan word nie, laat dit dan ten minste vir my motor wees.

Maar wag, ek beter nou afsluit. My afgeleefde, son-verrinneweerde voertuig maak die afgelope paar dae rammelende geluide wat ek sal moet ondersoek. En die belastingbetaler gaan my ongelukkig nie kan bystaan met die aankoop van ’n blink nuwe viertrekvoertuig nie.

No comments:

Post a Comment