Deur J.H. du Toit - PRAAG
Beste Dan,
Soos jy weet, ondersteun ek jou nog altyd en deurgaans. Daar is wat my betref ook geen ander Afrikanerleier wat toegerus is om die ideologiese leierskap te verskaf soos deur jou bedien nie. Sonder ‘n ideologiese raamwerk het ons geen rasionele rigtingaanwyser nie. Selfs Afriforum, wat waardevolle werk doen, spreek meestal die simptome van die huidige bestel aan. In die ideologiese sfeer oortref PRAAG alle ander Afrikanerbewegings.
Hoewel ek jou argumente rondom verlede week se gesprek met Zuma begryp, is ek soos baie Afrikaners tog besorgd oor hierdie gesprek. Behalwe dat die geheime aard daarvan vir Zuma die geleentheid sou gee om in die toekoms hom van enige verklarings te distansieer, is daar ‘n ander fundamentele probleem met verdere gesprekke in die geheel.
Ek dink nie daar kan meer twyfel bestaan dat die regime en vernaam Zuma juis ‘n strategie het om waardelose gesprekke met almal en nog wie te voer nie. Indien dit nie valse beloftes aan die landbougemeenskap is nie, is dit leuens aan buitelandse beleggers, waardelose gesprekke met Afrikaners, beloftes aan die swart vakbonde en die lys is nog baie langer. Deur nie die uitnodiging te aanvaar om saam met Zuma te gaan eet nie, het Steve Hofmeyer ‘n baie sterk boodskap gestuur, wat grootliks verwater is deurdat die res wel die uitnodiging aanvaar het.
Ek dink nie die analogie tussen die huidige gesprekke met die ANC en dié van voor 1994 is geldig nie en wel om die volgende redes:
- In daardie dae het ons die mag van die ganse staat gehad. Daar was dus ‘n daadwerklike rede waarom die ANC ten minste in die korttermyn hul beloftes gestand sou doen. Ek reken dat enige gesprekke nou net ‘n gespreksforum sonder angel is.
- Wat ons wel tot nou gesien het, is dat die regime geensins hulle woord hou oor enige saak nie. Ek dink daar bestaan ‘n wanbegrip by Afrikaners oor die aard en doel van samesprekinge in die Afrikakultuur. Terwyl ons as Nederduitse gemeenskap oor eeue heen ‘n regsbegrip rondom ooreenkomste en kontrakte gevorm het, het daardie gesofistikeerde ontwikkeling nooit in die Afrikakultuur plaasgevind nie. Hierdie wanbegrip het ook Piet Retief en sy geselskap se lewens gekos en het aanleiding tot Bloukrans en Bloedrivier gegee. In Afrika geld die ooreenkoms net so lank albei partye oor mag in die brutale vorm beskik. Toe die Retiefgeselskap hul wapens neergelê het, het die ooreenkoms geëindig. Die oomblik as enige van die partye mag verloor of afstaan, verval die ooreenkoms. Dit is die begrip wat Roelf Meyer glad nie verstaan het nie. Uit sy naïewe Westerse raamwerk het Meyer in goeder trou onderhandel. Sedertien betaal ons in bloed en aanduidings is dat ons op ‘n massale bloedbad, veel erger as Bloukrans, mag afstuur.
- Dit was juis weens die NP-onderhandelaars se liberale aanname, naamlik dat die Afrikaan dieselfde begrip rondom ooreenkomste as ons huldig, dat die ANC so suksesvol met diplomasie was. Die ANC se sukses was nie omdat hulle kwansuis goeie onderhandelaars was nie, maar eerder omdat ons leiers weens hul Westerse konsep van kontraktereg so naïef was. Om aan te neem dat ons dus, vandag, met gesprekvoering dieselfde sukses as die ANC vóór 1994, sal bereik, is om van voor af weer daardie fout te maak. Weereens huldig dit die mistasting dat die Afrikaan oor dieselfde begrip rondom ooreekomste as ons beskik. Ek betwyfel dus of enige gesprekke op hierdie stadium met die regime (insluitende Zuma) enigsins iets sal oplewer. Ons beskik doodeenvoudig nie oor die tipe mag wat vrees by die Afrikaan inboesem nie.
- Die voortgesette gesprekke met Zuma skep die indruk van ons desperaatheid en oënskynlike weerloosheid. Eintlik hoef Zuma ons niks toe te gee nie, want soos uit bostaande geargumenteer is, is daar nog geen werklike afskrikmiddel aan ons kant nie. Deur dus verdere gesprekke te voer, lyk ons eerder soos bedelaars wat kom bakhand staan en dit beklemtoon hulle (die ANC se) mag oor ons. Die gevolg is dat ons swak postureer en dus na ‘n maklik oorwinbare, selfs weerlose, vyand lyk. Hierdie benadering binne die Afrikaverband is juis baie waarskynlik om ‘n geweldsaanval op ons uit te lok. Indien ons Steve Hofmeyer se "hardegat"-houding inneem, begin ons in die Afrikaverband sterker postureer. Gesprekvoering op hierdie stadium doen oneindig meer kwaad as goed.
Ons kan ons ook nie bekommer oor wat die Weste sal sê rakende ons agenda of benadering nie. Ons maak in elk geval ‘n fout as ons dink dat ons oortuigde vriende in die vorm buitelandse regerings het. In die uur van nood gaan nóg Amerika, nóg Europa ons tot hulp snel en sal ons ten volle op onsself aangewese wees. Ons het geen aanspreeklikheid teenoor die buiteland nie. Ons is alleen teenoor onsself en God aanpsreeklik.
Myns insiens moet alle gesprekke wat met Zuma en die regime gevoer word, ook deur die landboufederasies, in die geheel gestaak word. Alle gesprekke dui op ‘n poging om in goeder trou te onderhandel, want dit is presies die onderliggende aard van onderhandelinge. In die afwesigheid van brutale mag, aan ons kant, laat enige poging in goeder trou ons swak vertoon. (Met "brutaal" bedoel ek nie geweld nie, maar wel die vermoë om dit te kan toepas ingeval van ‘n bedreiging.) Dis om hierdie rede dat, ten spyte daarvan dat die landboufedrasies die minister se drumpel deurtrap, plaasmoorde net toeneem. Die Afrikaan sien die een wat om genade of vergunning vra as ‘n swakkeling. Dit is juis die gesprekvoering wat verdere geweld uitlok.
Die enigste nie-gewelddadige bedingingsproses wat ons durf volg met enige arm van die regime is deur die howe. Die adverseriële aard van die hofgeding is die enigste bedingingsvorm wat nie ons postuur afbreek nie.
Verder moet meelopers soos Pieter Mulder geïsoleer word. Die klem moet eerder val op die opbou van ‘n Afrikanerowerheid soos telkemale deur Anton Barnard gepropageer is. Tesame met laasgenoemde, is die oprigting van ‘n paramillitêre beweging ‘n prioriteit. Eers wanneer ons weer mag begin projekteer, durf ons in gesprek met Zuma of enige regimefunksionaris tree.
I'd agree with most of that.
ReplyDelete