Afrikaner perspektief: Geskryf deur Dirk Uys
‘n Kollega bring nou die dag vir my ‘n 50 000 000.00 banknoot terug ná ‘n werksbesoek aan Zimbabwe. Hy moes sy enigste oorblywende kliënt daar gaan besoek.
Die besoek was ‘n bietjie van ‘n nagmerrie. Nadat hy maande laas in Zimbabwe was, moes genoemde kollega hierdie slag agterkom dat die land nou oor ‘n kontant-ekonomie beskik. Hy kon sy kredietkaarte nêrens gebruik nie en Zimbabwiese dollar word ook nie meer aanvaar nie. Daar word nou slegs handel gedryf in Amerikaanse dollar of Suid-Afrikaanse rand.
Daar word natuurlik gereeld geweeklag oor die omstandighede in Zimbabwe, wat net enkele jare gelede nog die sogenaamde “graanskuur” van suider-Afrika genoem is. Die ironie is natuurlik dat Zimbabwe nooit ‘n ware voorbeeld van ‘n Afrika-land was wat dinge op sy eie kon regkry nie. Die gesonde ekonomie en landbousektor was uitsluitlik te danke aan die arbeid van die oorblywende blanke boere in die land. Die oomblik toe hulle verjaag is van hulle grond, het alles in duie gestort.
Die mite van Zimbabwe “as suksesvolle onafhanklike Afrika-staat” het my nog altyd gepla. Die geheim van hulle sukses het naamlik bloot gelê in die feit dat hulle die blanke sakemanne en boere in die land “verdra het” en dat die ekonomie en landbousektor sodoende aan die gang gebly het. Is hier dan sprake van eie vernuf of prestasie? Nee....
Moeletsi Mbeki, broer van Thabo Mbeki en bekende politieke kommentator, het pas ‘n boek gepubliseer genaamd Architects of Poverty. Die publikasie is tydens die pas afgelope Kaapse Boekfees bekend gestel. Die boek lewer pynlike kommentaar op Afrika-kapitalisme en beskryf hoe die magtige Afrika-elite oral op die vasteland hul bates verkoop “ten einde die res van die wêreld te verryk.” Volgens hom het hierdie fenomeen tydens die era van slawehandel begin en gaan dit, ten spyte van die vasteland se politieke onafhanklikheid, voort.
Mbeki wys in ‘n onderhoud met die koerant Mail & Guardian op 26 Junie 2009 op die volgende waarheid:
“Look at the massive salary differences between the ANC officials in government and the masses. In South Africa we now have deep inequality among Africans. This is because of the attempt by black nationalists to live like the enemy. By emulating their enemy, they inherit the contradictions of the social system they take over.”
In die onderhoud wys Mbeki verder daarop dat Afrika se nasionalistiese elite geen ware bourgeoisie is nie aangesien hulle nie oor hulle eie kapitaal beskik soos ‘n ware middelklas nie. En dan die bloedstollende woorde: “They don’t create wealth; they are a parasitic elite that lives off the existing assets which they didn’t create.” Hy verwys dan spesifiek na Suid-Afrika: “It is the same with BEE tycoons in South Africa. They are living off the assets handed to them by existing companies. They are not a bourgeoisie; yes, they are wealthy, but they are not capitalists.”
Met hierdie brawe woorde spreek Mbeki die olifant in die spreekwoordelike Suid-Afrikaanse sitkamer aan. Die reuse dier vul die vertrek, maar almal verkies om elders te kyk. Sou ‘n blanke kommentator hierdie woorde geuiter het, sou hy na alle waarskynlikheid as ‘n nare rassis uitgekryt word. Mbeki het egter die moed om die bul by die horings te pak en Suid-Afrika - en die res van Afrika - se probleem sonder skroom uit te wys: op hierdie vasteland word die bestaande koek steeds kleiner en kleiner verdeel. Die rykdom wat wel so gegenereer word, beland in ‘n paar korrupte staatshoofde en amptenare se sakke. Geen nuwe welvaart word geskep nie. Hoe volhoubaar is só ‘n stelsel? is die logiese vraag wat by ‘n mens opkom. En wat niemand wil antwoord nie. Want die repliek is onafwendbaar, onomstootlik logies: Dit is nie volhoubaar of lewensvatbaar nie.
Wat Zimbabwe betref, meen Mbeki dat die land ‘n “tuisland” van Suid-Afrika geword het. Hoe waar is dit nie! Daar is tans ‘n geraamde 4-5 miljoen Zimbabwiërs woonagtig in Suid-Afrika. Die aantal immigrante word deur sommige kenners as selfs veel hoër geskat. Dit is deur hierdie mense se karige inkomste dat hulle gesinne in Zimbabwe aan die lewe bly. In plaas van om die megalomaniese Robert Mugabe kort te vat, duld die Suid-Afrikaanse regering die absurde situasie in sy buurland en verleen so legitimiteit aan ‘n waansinnige despoot. Alles in die naam van swart solidariteit en nasionalisme.
En, om mee af te sluit: die toppunt van surrealisme was seker die verklaring wat vise-president Joice Mujuru, ‘n ywerige Mugabe-ondersteuner, op 27 Junie vanjaar uitgereik het. Sy het haar teleurstelling uitgespreek met die finansiële resultate van eerste minister Morgan Tsvangirai se pas afgelope besoek aan die VSA en Europa. Sy kon eenvoudig nie verstaan hoekom die Weste nie meer geld aan Zimbabwe wou skenk nie! Dit slaan mens se asem weg: ‘n land wat die Weste veroordeel, verkleineer, persoonlike beledigings teenoor sekere wêreldleiers uiter en mense wil laat glo aan ‘n samesweringsteorie teen Zimbabwe, is ontnugterd omdat dieselfde verguisde Weste nie meer geld wil pomp in ‘n ekonomie wat deur die Zimbabwiese regering se eie korrupte, selfsugtige toedoen in ‘n gemors verkeer nie.
Kan ‘n mens kwalik geneem word as jy dan wil glo dat die Afrika-vasteland ‘n donker toekoms in die gesig staar?
Monday, June 29, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment