Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Saturday, September 19, 2009

Terreur en terrorisme

Geskryf deur Radio Pretoria ,

Die afgelope paar weke het die land weer sy normale dosis van mediaberigte ontvang, van veral ouer weerlose mense, wat op plase aangeval, aangerand en vermoor is. In die meeste koerante is dit nie eers meer voorbladnuus nie. Die SAUK se radio- en televisiedienste berig glad nie eers meer daaroor nie.

Verder het die misdaad van opsetlike brandstigting ook op verskeie plekke in die land voorgekom. Duisende hektaar weiding is sodoende afgebrand, veeverliese het voorgekom en werkersbehuising het in die slag gebly.

By Hekpoort is 'm spogwildsplaas in ligte laaie gelaat, want toe die brandbestryders opdaag, is hulle meegedeel dat die grond nou aan swartes behoort en dat hulle doodgemaak sal word as hulle die vuur probeer blus.

Behalwe vir hierdie aanvalle, moorde en brandstigtings, is ʼn nuwe metode van intimidasie op boere, besig om kop uit te steek. Op hierdie stadium word dit nog genoem: bos-slagtery. Vee word snags op die boer se plaas gedood, geslag, in stukke gesny en weggery. Dit word nie deur honger mense gedoen nie, want bewyse is gevind dat daar deur hierdie veediewe op bestelling opgetree word. Dieselfde nag wat die slagting plaasvind word die vleis, veral in lokasies en informele nedersettings verkoop.

In Oos-Transvaal is boere nou al genoodsaak om diere met elektroniese toestelle toe te rus, wat enige abnormale bewegingspatroon of onrustigheid by die dier monitor en dan deurstuur na ʼn alarm in die plaasopstal. Sodoende kan die bos-slagter dan met vinnige optrede betrap word. Sulke toestelle kom natuurlik teen ʼn prys.

Slegs in die Bronkhorstspruit en Cullinan omgewing het daar die afgelope week drie sulke voorvalle plaasgevind. Die barbaarse metode wat gebruik word, is dat die dier se hakskeensenings afgekap word, om die dier dan sodoende te immobiliseer. Die dier is egter gelukkig as hy daarna van kant gemaak word. In van die voorvalle lyk dit asof ʼn agterkwart van die stomme bees verwyder is terwyl dit nog geleef het. Slegs die hakskeensening was afgekap en die res van die karkas is net so in die veld gelos.

Hierdie barbaarse optrede herinner sterk aan die metodes wat deur SWAPO in Ovamboland , in die destydse Suidwes-Afrika, en die terroriste-organisasies in Rhodesië, gebruik is om boere en die plaaslike bevolking te intimideer, om sodoende hulle rewolusionêre doelstellings te bereik.

Kan daar dan nog steeds mense wees wat glo dat plaasmoorde, brandstigting en diere verminking nie polities geïnspireerd is nie?

Gister het Solidariteit-Radio, die aanlynradiodiens op die webblad van Solidariteit, ʼn program aangebied waar die name van sowat 1650 slagoffers van plaasaanvalle uitgelees is. Bekende Afrikaanse media- en musiekpersoonlikhede het hieraan meegedoen. Die uitsending het sowat 8 ure geduur. Hiermee wou Solidariteit weereens die aandag vestig op die brutaliteit waarmee meeste van hierdie moorde plaasvind, en die regering attent maak dat ʼn aggressiewe beskermingsplan nou nodig is.

Solank as wat die regering, en alle landsburgers egter nie wil erken dat hierdie brutale optredes teenoor die boere en teen hulle vee, nie polities van aard is nie, sal daar ongelukkig nie veel aan die probleem gedoen word nie. Ons moet egter volhou om druk op die regering en polisie toe te pas, en alle sulke aanvalle en slagtings openbaar maak.

No comments:

Post a Comment