Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Saturday, September 26, 2009

Die seepbel oor Melville

Geskryf deur Dirk Uys,

Ek is seker een van die min Suid-Afrikaners wat nie ’n televisiestel besit nie. Dit kon my nog nooit eintlik skeel nie. Om Groucho Marx aan te haal:

“I find television to be very educating. Every time somebody turns on the set, I go in the other room and read a book.”

Die afgelope paar weke pas ek egter ’n huis op waar daar wel ’n televisiestel is en so het ek begin om saans te kyk na die vreemde dinge waaroor vriende en kollegas so graag bedags klets. “Het jy gisteraand gekyk na...?” moet ek gereeld aanhoor, en dan my kop skud, salig onbewus van dit wat hulle fassineer.

Die gruwels wat ek die afgelope ruk aanskou het, het aan my nagmerries besorg en my slaappatroon erg versteur. Ek het al meer die knaende indruk dat ons gebreinspoel word, juis aan die einde van die dag wanneer ons moeg en afgemat is en ons breinfunksies afgetakel is. So voor die stel, met die afstandbeheer wat liggies op die handpalm rus, word ons oorstroom met snert.

So kom ek byvoorbeeld agter dat die belaglike uitsprake van ons politici veel erger vertoon wanneer mens hulle moet aanskou. Die gedrukte pers, waarop ek my gewoonlik verlaat vir nuus, maak ten minste die sprekers se grammatikafoute reg. Jy hoef boonop nie die oorgewig, onnosel politikus visueel te verduur nie.

Maar so raak mens ook aan alles gewoond. Aan die blinkswart pankoppe (het enige swart man in hierdie land nog natuurlike hare?), die gebrekkige Engels en die onvermoë om eenvoudige vrae te beantwoord. Teen die vierde aand val dit nie eers meer op nie. Toe ek die eerste maal vir Chuene gesien het, tydens sy nou berugte perskonferensie waar hy verskillende weergawes van die waarheid rondom die hantering van die Caster Semenya-saak opgedis het, was ek gefassineer deur die manier waarop hy met die grootste selfvertroue ter wêreld die een absurditeit na die ander kwytraak, al skuifelend in sy stoel en met sy gesig komieklik vertrek.

Daarna was dit Julius Malema en later ’n horde ander, met ewe gebrekkige Engels en potsierlike gebare, wat die kassie versier het. Teen die tweede week het ek skaars nog ’n oog geknip as een van hierdie narre tydens die TV-nuus of ’n aktualiteitsprogram hulle pêrels van wysheid met ons gedeel het.

Ten einde aan die absurde aktualiteit te ontsnap, het ek toe maar begin om na Sewende Laan te kyk. Ek was dadelik meegesleur. Soveel storielyne, soveel soomlose integrasie! Iewers bo Melville hang ’n seepborrel, met ’n ideale wêreld daar binne. ’n Wêreld waar wit, swart en bruin potjiekompetisies hou, mekaar bemin, oulike poetse bak en die afsku aan die skurke (almal blank) die gemeenskap saamsnoer in solidariteit. Die bediende berispe vir Oubaas wat kla dat die woonstelvloere nie skoon is nie. Die koeëlronde Aggie is moeg vir haar skoonmaakdienstefirma. Sy is eintlik ’n juwelierontwerper van formaat en swoeg aand vir aand oor ontwerpe - wat vir my op ’n haar soos die Miglio-kostuumjuwele in die brosjure langs my bed lyk. Ek voorspel egter dat sy nog ver gaan kom met haar verborge talent.

Ek is tydens advertensies gereeld herinner dat blankes gewoonlik die kat aan die stert beet het. ’n Blanke vrou in ’n vormlose rok by ’n aandfunksie verwyt haarself dat sy nie so verstandig was soos haar swart vriendin, geklee in ’n sexy aandrokkie by die kroegtoonbank, om middels te neem om haar water-retensieprobleem onder beheer te hou nie. In ’n advertensie vir wegneemetes, is daar ’n swart jongman en ’n blanke seun (met ’n besonder dom uitdrukking op sy gesig) besig om hamburgers te eet. Skielik begin die blanke se hamburger rondwip. Terwyl die nie-blanke begin droom oor hoe die dansende hamburger hulle na rykdom en roem gaan lei, eet die onnosel witte egter die hamburger op. Al wat oorbly op sy uitdrukkingloos-domme gesig, is stukkies blaarslaai om sy mondhoeke. Sy swart vriend staar in ongeloof na sy maat se ronde gesig.

En dan is daar Pasella, met ’n skare aanbieders wat almal die mooiste White Brite-glimlagte het wat ek nog gesien het. Hulle voordraggies is duidelik perfek gechoreografeer: koppies skalks gedraai, handjies kamma-kasueel voor die lyf gevou en dan daardie skitterwit glimlagte, wat mens onwillekeurig die oë laat knip. Ai, en ook hier huiwer die Melville-seepborrel prekêr oor ons koppe: ons word genooi om vrolik aan tafel te gaan sit en ’n konkoksie van disse vir Erfenisdag te probeer wat “die diversiteit van ons mooi land weerspieël.” “Nooi ’n paar mense van ander bevolkingsgroepe om saam te eet,” glimlag Vicky skitterblink vir haar kykers. “Dit kan die begin van mooi nuwe vriendskappe wees.” Die dame wat die vrolik-gekunstelde okkasie vir die kassie gereël het (op ’n erg Eurosentriese wynplaas) wys hoe enigeen sonder geld of moeite vir so ’n ete kan voorberei. Die spyskaart word gedruk op – raai net – ’n string papiermannetjies, uitgeknip uit dubbelgevoude papier. “Hulle hou handjies vas, om ons reënboognasie te simboliseer.”

Ai man, nou is Erfenisdag op ons en ek het sowaar nog nie ’n enkele nie-blanke vriend genooi nie. Vanaand kan ek egter weer my hartsnare verwarm as die Sewende Laan-wysie begin speel. Want ek vermoed vanaand gaan wit, swart en bruin opnuut aan ons ’n roerende viering van ons gedeelde erfenis oor ’n stomende kommetjie koffie iewers in Hillside opdis.

No comments:

Post a Comment