Alternatiewe Nuusportaal / Alternative News Portal



Friday, October 2, 2009

TLU SA weet nie of hy wil praat met Noordwes LUR nie

Geskryf deur Henk van de Graaf - TLU SA

TLU SA besin ernstig oor die sinvolheid van ’n gesprek oor misdaad tussen georganiseerde landbou en die Noordwes LUR vir Openbare Veiligheid, Howard Yawa. Die voorsitter van TLU SA se Wes-Streek, mnr. Wilhelm Rochér sê dit is moeilik om sinvol met iemand te praat wat reeds besluit het dat plaasboere ’n Wilde-Weste benadering het deur links en reg op plaaswerkers te skiet.

Mnr. Rochér het gereageer op die LUR se stelling in dié verband, toe hy ’n persoon besoek het wat skynbaar deur ’n boer verwond is toe dié persoon en ’n vriend onwettig op die boer se plaas betrap is. “Dit is verregaande dat ’n LUR sulke uitlatings kan maak, en skynbaar tot sy eie slotsom kom, terwyl die amptelike en volledige polisie ondersoek nog nie afgehandel is nie. Om onder sodanige omstandighede in gesprek te tree, soos die LUR aangedui het hy met boere wil voer, is hoogs twyfelagtig, aangesien die gesprek emosioneel gelaai sal wees, terwyl die feite nog nie eens behoorlik bekend is nie,” sê mnr. Rochér.

Ook die President van TLU SA, mnr. Ben Marais, sê dat dit weer ’n bewys is van die rassistiese politieke prioriteite van die ANC-regering. “Die naweek is die 55-jarige mev. Isabel Schonken op ’n kleinhoewe oos van Pretoria van agter doodgeskiet terwyl sy vermoedelik in haar huis se gastebadkamer vir haar moordenaars probeer wegkruip het. Minder as 24 uur voor dit is die 18-jarige mnr. Sheun Anderson op ’n kleinhoewe by Wag-’n-bietjieskop, buite Bronkhorstspruit, ook in ’n plaasaanval doodgeskiet. Hierdie mense was regmatig op hulle eie grond, en nie onwettig op ’n ander se eiendom nie. Hulle privaatheid is binnegedring en hulle is van hulle lewe beroof in die omgewing wat hulle regmatig besit het en waar hulle geregtig is om in veiligheid te wees. Maar niemand het ’n woord oor hierdie mense gerep of die naasbestaandes besoek nie. Die president, mnr. Jacob Zuma, behoort op tweedevlak regering in te gryp waar opruiende en ongegronde uitsprake gemaak word, soos dié van Howard Yawa,” eis mnr. Marais.

Mnr. Marais het ook verwys na ’n spesiale eenheid wat die polisie in Durban ingestel het om etniese geweld in ’n plakkerkamp te ondersoek en te hanteer. “So onlangs as verlede week het ons nog ’n pleidooi gelewer dat ’n spesialis-eenheid om plaasaanvalle te ondersoek, op die been gebring moet word. Maar so lank die regering nie hieraan gehoor gee nie, bly die persepsie by boere dat hulle lewe goedkoop en waardeloos is, en dat daar inderdaad ’n heimlik goedgekeurde etniese uitwissingsproses aan die gang is. Die regering is die enigste wat hierdie persepsie kan omkeer deur daadwerklik op te tree, en om emosionele uitsprake van sy leiers, op welke regeringsvlak ook al, aan bande te lê.”

No comments:

Post a Comment